As jy te hoë verwagtinge het, word jy maklik teleurgestel.
Te oordeel aan die reaksie van baie mense op negatiewe gebeure in die land, is dit duidelik dat die regering nie aan die kiesers se verwagtinge voldoen nie.
Die voorheenbenadeeldes het verwag dat werk volop sou wees met stewige salarisse. Hulle sou huise kry met krag, water en baie vertrekke. Onderwys sou van die hoogste gehalte wees en die kinders sou flink vorder en uitstap met ‘n string grade en oorval word deur hope werksaanbiedinge.
Diegene wat plase gekry het, was onder die indruk dat die regering mildelik sou bydra tot die inset- en oeskoste en blink trekkers voorsien wat nie kan breek nie.
Misdaad sou ‘n haas onbekende verskynsel wees wat net elders in donker Afrika en Suid-Amerika op groot skaal voorkom.
Die skok moes oorweldigend gewees het toe die kiesers besef dat die staatsamptenare besonder werksku, onbevoeg en korrup was. Nog ‘n erge skok was toe min huise gematerialiseer het en dienslewering power was.
Gelukkig weet die nugterdenkendes dat al die slegte nuus steeds apartheid se skuld is.