Ek het drie weke gelede ’n knievervanging gehad, so ek is aan my stoel voor die TV gekluister. Ek kan rustig die rugby sit en kyk en vroulief bedien my asof ek ’n koning is.
Met al die tyd tot my beskikking, het ek tot die volgende gevolgtrekkings gekom:
1. Skeidsregters blaas nie volgens die reëlboek nie. Hulle oortree met hul toepassing van die reëls die reëlboek op talle gebiede.
2. As hierdie oortredings plaasvind om die spel aantrekliker te maak, moet die beheerliggaam verantwoordelik gehou word. As aantrekliker spel die einddoel is, moet die reëls verander word. Moenie die reëlboek verag nie.
3. By so ’n belangrike byeenkoms soos die Wêreldbeker-rugbytoernooi sal dit baie help as die skeidsregters en beamptes voor die tyd byeenkom om eenvormigheid oor die reëls te bereik.
4. Dit is ontstellend dat sekerlik 90% van die kykers nie eens meer agterkom die wedstryde word nie meer volgens die reëlboek beheer nie.