Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Slagoffers van die geskiedenis moet nie vergeet word

‘Totdat die leeus hul eie historici het, sal verhale oor die jag altyd die jagter verheerlik.” Dié Afrika-spreuk gee uitdrukking daaraan dat die geskiedenis meestal vanuit die gesigspunt van die wenners en magtiges vertel word.

In die proses laat weergawes van die verlede dikwels nie aan die verhale en beskouinge van die sogenaamde verloorders en slagoffers van die geskiedenis reg geskied nie.

Dat die geskiedenis dikwels verskraal word tot ’n fokus op die wel en wee van die sterkes en heersers, tot die “groot dade” van “groot manne”, laat ons met die vraag of ons nie ’n morele verantwoordelikheid het om meer doelbewus teen die grein in met die verlede om te gaan nie.

Moet ons nie meer moeite doen om in ons omgang met die verlede ongehoorde of stilgemaakte stemme te versterk nie?

Benodig ons nie juis ’n etiek van herinnering wat ons noop om die stories en ervarings van die weerloses, verwondes en verontregtes op ’n getroue en verbeeldingryke wyse lewend te hou nie?

As jy deur die strate van talle Duitse dorpe en stede loop, vind jy op plekke in die plaveisel vierkantige gedenkstene wat aandui dat slagoffers van Nazi-geweld, dikwels Jode, daar gewoon of gewerk het. Op hierdie koperplaatjies – bekend as Stolpersteine, letterlik “struikelblokke” – word die persoon se naam aangedui en dikwels ook die naam van die konsentrasiekamp waar hulle vermoor is.

Dié projek is in 1992 deur die Duitse kunstenaar Gunter Demnig begin en tans is daar derduisende van hierdie gedenkstene in meer as 22 lande. Hierdeur word op ’n bewuste manier probeer om die herinnering aan die slagoffers van Nazi-terreur in die kollektiewe geheue te laat voortleef.

In sy bekroonde boek Geloof alleen: Reise deur die kerkhervormings vertel André Pretorius hoe hy voor die ingang van die katedraal in Maagdenburg op een van hierdie Stolpersteine getrap en dit hom tot nadenke gestem het. Die spesifieke steen het die dood van ’n Maagdenburgse Jodin, Sophie Masting, herdenk. Sy het op 1 September 1934, waarskynlik in ’n daad van uiterste wanhoop, van die katedraal se toringspits na haar dood gespring.

Die lewensverhale van mense soos Masting word maklik vergeet. Soos ook die lewens van talle slagoffers van geweld, trauma, onreg en verontmensliking – ook in Suid-Afrika. Daarom bly dit ’n kragtige etiese daad wanneer mense doelbewus pogings aanwend om súlke slagoffers se name, swaarkry en menswaardigheid te bly gedenk. 

Meer oor:  Geloof  |  Slagoffers  |  Sielsgoed  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.