Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
SMS’e

Die doemprofetiese folteraars, soos Piet Croucamp, wat pres. Cyril Ramaphosa so uitmekaartrek, vergeet gerieflikheidshalwe dat die EFF die nuwe opposisie in wording is. Die DA is dood en CR is die enigste alternatief. Ons land is ’n teelaarde vir politieke populisme. Wat gaan ons, die gewone kieser, daaromtrent doen? Vir die VF Plus stem? – Deon Bekker Alberton

Die EFF kry elke jaar baie gratis publisiteit en aandag by die staatsrede en gaan nie ophou nie. Laat die president dit op tyd op alle media uit sy kantoor uitsaai en nooi almal om mooi aan te trek vir ’n lekker partytjie agterna. – Hannes, Pretoria

Julius Malema, leier­ van die EFF.

Die EFF-LP’s in hul onvanpaste rooi oorpakke het weer getrou aan hul redelose beginsels die staatsrede in die parlement skandalig ontwrig. Watter verfoeilike gedrag. – Hans Retief, Pretoria

Skors en beboet Julius Malema en sy bende met ’n paar maande se salaris. Waarom moet belastingbetalers hul ontwrigting finansier? – Ainslie

Net soos kaalnaelers op sportvelde nie langer TV-dekking geniet nie, moet dieselfde beleid ten opsigte van parlementêre ontwrigters geld. Sny hul lugtyd af. – Joe

Skreiende skande dat Julius Malema ons land se naam so deur die modder sleep met sy gedrag. – Intekenaar, Kempton Park

Staatsrede: Ek praat een keer met ’n stout kind. My ja is my ja en my nee is my nee. Hoekom moet dit ’n uur vat om ’n besluit te neem? Jy verwar dan ’n stout kind. Waarom is die “Withemde” nie binne 5 minute ingestuur nie? Wat ’n sirkus. Daar is en was geen respek nie. – Leina, eMalahleni

En toe teken geen LP beswaar aan dat vermeende VBS-diewe in die raad is nie! – Koos, Middelburg

Staatsrede – wat ’n skande. Die EFF behoort tot handearbeid gevonnis te word en nie ’n salaris te kry nie. Thandi Modise, speaker, het papbroekig gelyk. – Maretha

My hart ween vanoggend wanneer ek al die haat, wanorde en oneerbiedigheid sien en lees wat in SA hoogty vier. Parlementsopening wys duidelik wat in ons land aangaan en net die Here kan ons red van hierdie tragedie wat besig is om af te speel. – Es, Jhb

Die EFF se oorpakke het nog nie ’n dag se werk gesien nie. Splinternuut. – Hercules Lategan, Mbabane

In die spervuur: Thandi Modise

Gisteraand se chaos in die parlement is tekenend van ons land. Sies! – Joni, Wollies

Staatsrede 2020. Die liedjie “Send in the Clowns” is al waaraan ek kan dink. – Meraai, Ermelo

Ten aanskoue van die wêreld daar buite ontaard die parlement in ’n sirkus, met ou Julius die grootste hanswors. – Ettiene Meyer, Springs

Hoe kan ons ’n nasie bou met sulke rassehaat aan die kant van die EFF? – Danie Niewenhuizen

Politiek gesproke is die EFF seker die laagste vorm van lewe wat Suid-Afrika tot nog toe gesien het, volgens wat ten tyde van die staatsrede op TV te sien was.– Chris Pretorius

Die parlement het nou tot heel onder gesak, soos sediment. – Eugene

Eskom

Los die Zondo-kommissie om sy werk te doen. Die man is deeglik en berekend. Al die aantygings moet deeglik deur die regspan ondersoek en bewysstukke gekry word. Dit help nie ’n mens gaan hof toe met onvoldoende bewysstukke nie – onthou wat met die Estina-saak in die hof gebeur het? Zondo is baie deeglik en hou maar die oranje oorpakke gereed. – Willem, Môregloed

Wat verhinder Eskom om sy eie pensioenfonds te gebruik? Hoekom die Staatsdienspensioenfonds (GEPF)? Hou jul lang vingers uit ons geld en blaas jul eie. Kyk hoe lyk Transnet se pensioentrekkers: beroerd en kom van honger om. – Pieter van Gauteng

Stefaans van Swellendam (13.02) is darem baie voor op die wa om die bedraggie van die Staatsdienspen­sioenfonds aan Eskom as ’n klein opoffering te beskou. Is hy bereid om dieselfde met sy pensioenfonds te doen? – SD, Centurion

Ek het vrede daarmee dat die Staats­dienspen­sioenfonds moontlik nou vir Eskom moet instaan. Te veel amptenare het te lank opgeblase salarisse en daarmee pensioene verdien en hulle kan nou gerus iets teruggee aan die ekonomie. – Jan, Pretoria

Ansa, ons is pensioentrekkers en kry groot afslag op ons TV-lisensie. Ons betaal R74 per jaar. – Thelma

Die ode aan die hondjie, te dierbaar. Sterkte. – Ouma Des, Howick

Die Britse egpaar met 22 kinders maak dat ek my mening oor “te veel van ’n goeie ding is fantasies” heroorweeg. Hou matras, hou. – Krystal

Meer oor:  Sms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.