Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Só gaan ons nie oplossings kry

Ek het Christo van der Rheede se artikel “Almal in dieselfde bootjie” (31.07) insiggewend en hoopgewend gevind. Die einddoel van kulturele, taal-, geloofs- en ander merkers, soos deur hom gestel, is in die kol. Die boot sal op kalm waters op koers bly.

Christo van der Rheede

Die skrywer meld egter ook dat die boot deur golwe getref kan word, onherstelbare lekkasies kan ontwikkel en die boot dan kan sink.

Koester mekaar se tale en omarm meertaligheid is kortliks Van der Rheede se pleidooi. En tereg so. Ons moet dít as deel van die nasionale projek doen ten einde samehorigheid, maatskaplike kohesie, inklusiwiteit, versoening en nasiebou te bevorder.

Dit is egter Van der Rheede se aanmerking dat Afrikaanses op die kantlyn sit en kritiseer, veroordeel en beledig wat my in my koffie laat stik. ’n Tob oor ’n beter verlede. As ’n bruin Afrikaans-moedertaalspreker is ek

’n wettige besitter van die taal. Ek is nie ingekoop en gekoöpteer soos sommige akademici dit wil hê nie. Ook die oorgrote meerderheid bruin Afrikaanssprekers het die reg op die taal. En daar is ’n groeiende aantal swart mense ook. Tot ons nasionale regering glo nog vas dat Afrikaans die taal van die onderdrukker is.

Alle setlaars hier te lande het onderdruk in hul eie taal. ’n Kursus in geskiedenis 101 vir die president ook. Dit behoort hom tot nuwe insigte te bring.

Die afgelope paar weke is weer erg gewroeg oor Afrikaans. Minister Blade Nzimande voer in sy begrotingsrede aan: “Ons haat nie Afrikaans nie, maar julle moenie teenoor ons met jul Afrikaans diskrimineer nie.” Slaan my dood met ’n veer. Jammer, Blade, jou lem is stomp!

Die EFF-LPW Tebogo Mokwele sê in haar toespraak: “Afrikaans is ’n walglike taal.” Wat ’n vernedering!

Dan die Afrikaanshater en taalrassis, Panyaza Lesufi, LUR in Gauteng, wat sê dat hy skole totaal gaan verengels, Afrikaans verbied en dié wat daarmee volhou, sal vervolg. “Gaan aan, maar wees seker: Ek kom vir julle,” sê hy. Dieselfde Lesufi wat sou sê: “Ek soek nie kleinbasies onder my nie”, en tot vandag kom hy daarmee weg.

En wat van Julius Malema en die BLF en dié wat Afrikaans kruisig?

Nou is my vraag: As dít die gesindheid en ingesteldheid is, hoe sal ons ooit verdraagsaam, ordentlik, beleefd en eerbiedig teenoor mekaar optree? Hoe vind ons volhoubare oplossings as dít die huidige dinamika is? Hoe omarm Afrikaanses ander tale as hul eie taal verguis word? Sien, restitusie, versoening en heling word nie deur almal ewe ernstig beskou, opgeneem en uitgeleef nie.

Ja, daar is gruwelike ongelykhede, maar ons kan ten minste ’n poging aanwend om mekaar op menslike en gemeenskaplike terrein te vind.

Christo, jy is ’n kenner duisend en ek deel jou passie, toewyding en visie, maar dit skyn dat ons boot te veel lekkasies het.

Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Kaapstad  |  Brief  |  Mystem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.