Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Só word jong mense gestraf oor hul taal

Die redenasie van Christo van der Rheede (04.12) rondom die behoud van Afrikaans op universiteite is deurdag en verdien verdere debat. Hy beskryf sy eie grootwordjare, en fokus op die geleenthede vir verdere studie in Afrikaans wat vir hom beskikbaar was, asook internasionale blootstelling. Hiermee kan ek sterk assosieer.

Wat ek as psigiater die laaste tyd in my werk egter tragies vind, is dat ek soveel bruin Afrikaanssprekende jong mense teëkom wat tydens tersiêre opleiding akademies nie die mas kon opkom nie, of wel suksesvol was, maar die onderrigtaal (Engels) as ’n byna onmoontlike berg beleef het.

Die marginalisering op grond van taal, etnisiteit en rigiede demografiese teikens by ons tersiêre instelling ontneem ons jong mense van geleenthede om in Afrikaans te studeer en só ’n toekoms vir hulself te ontsluit.

Universiteite motiveer oppervlakkig dat hulle koste bespaar deur slegs Engels te gebruik. Dít terwyl die departement van hoër onderrig en opleiding se verslag (31.03.2019) rapporteer dat een derde van studente wat finansiële ondersteuning ontvang het, ná tien jaar nooit gegradueer het nie. Nóg erger: Die helfte van alle studente het ná tien jaar nog nie gegradueer nie. Die taalfaktor lewer beslis ’n groot bydrae hiertoe. Hierdie hoë uitvalsyfer het beslis negatiewe implikasies, finansieel asook psigologies, op ’n baie groter skaal as die kostebesparing.

Waarom is daar geen data-analitiese studies waar die taalfaktor by hierdie uitvalsyfers bestudeer is nie? Die antwoord is tog belangrik – alle studente moet tog ’n redelike kans op sukses hê, en geen ondersteuning of intervensie is werklik meer relevant as die taal­aspek wanneer dit kom by gelyke geleenthede vir akademiese sukses nie.

Van der Rheede se skrywe is spesifiek gerig aan die visekanseliers van die universiteite (US, UV en NWU) waarby hy die realiteit uitlig dat eentaligheid, Engels, ’n struikelblok in die Suid-Afrikaanse konteks is. Christo, die gety teen Afrikaans is egter naby onomkeerbaar, juis weens die onbuigbaarheid van genoemde visekanseliers.

Watter alternatief is daar wanneer ons jong mense gestraf word omdat hulle Afrikaans is, wanneer hulle stelselmatig die reg ontneem word om in Afrikaans te studeer en sodoende ’n toekoms vir hulself te ontsluit?

Onlangs is berig oor Afrikaans wat in Nederland as skoolvak onderrig word. Miskien moet Afrikaanssprekendes die band met Nederlands sterker opneem. In belang van ’n toekoms vir ons jong mense kan samewerking met Nederlandse universiteite tog sterk sin maak, byvoorbeeld satellietkampusse van Nederlandse universiteite hier plaaslik, waarby Afrikaans en Nederlands as akademiese tale in stand gehou word.

Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.