Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Sonia Cabano het baanbrekerswerk gedoen

Sonia Cabano behoort erkenning te kry vir haar enorme rol in die vestiging van leefstylprogramme in Afrikaans. Pampoen tot Perlemoen was die eerste plaaslik vervaardigde kook- en leefstylreeks, ’n totale nuutjie.

Hoekom op aarde sal mense voor ’n televisieskerm sit en kyk hoe ’n ander een kook? het bemarkingsnavorsing uitgewys. Maar in die beginjare (1999) van kykNET was die totale begroting so klein, daar moes noodgedwonge gekyk word na suksesvolle programme oorsee in die hoop dit kon hier vir ’n fraksie van die produksiekoste nagemaak word.

Die kanaal het belanggestel in ’n kookprogram soos die van die BBC se Jamie Oliver, ’n bykans onbegonne taak. Oliver was ’n uithaler-sjef en TV-fenomeen wat later ’n MBE ontvang het as erkenning vir sy werk in die gasvryheidsbedryf.

kykNET was destyds so klein en vaartbelyn die eerste kanaalhoof, Theo Erasmus, moes vervaardigers telefonies nooi om voorstelle in te dien. Ervare regisseurs en vervaardigers, opgewonde oor die koms van ’n kanaal uitsluitlik in Afrikaans, het ingestem om te werk vir amper die helfte minder as wat die SAUK betaal het.

Met ’n aanbieder van Sonia se kaliber was dit maklik om binne begroting te bly, want alles wat sy voor die televisiekamera aangevang het, was bruikbaar in die redigering. Sy het die kamera haar vertroueling gemaak en die kamera was smoorverlief op haar.

Mans en vroue is eners betower met haar androgene skoonheid, verleidelike sjarme, vlymskerp spitsvondigheid en haar diepgegronde akademiese kennis oor kos en kosmaak. Sy het direk in die kamera gekyk om ’n wenk oor te dra, ’n staaltjie te deel of skalks in die lens geloer om iets snaaks te beklemtoon, sonder om ’n woord te sê.

In die vroeë 2000’s was haar informele aanbiedingstyl ongekend in ’n tyd van “nuusstyl”-aanbieding. Joernaalprogramme was grotendeels onderhoude met wegsnyskote as beeldmateriaal. Sy het haar nie laat voorsê nie en haar intuïtiewe aanvoeling kon vertrou word. Sy was hier sekerlik net so gewild soos Jamie Oliver, en is ewe veel nagedoen.

Haar ongeïnhibeerde en innemende aanbiedingstyl was ongekend en het myns insiens baanbrekerswerk gedoen op die gebied van leefstylprogramme in Suid-Afrika.

Later jare het ek hartseer gehoor van bekgevegte waarin sy haar uitgelaat het om so in vernietigende bloggers se hand te speel. Dan het ek gedink, You just don’t get the genius of Sonia Cabano.

* Bekker was om die beurt regisseur en vervaardiger van Pampoen tot Perlemoen.

• Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.

Meer oor:  Sonia Cabano  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.