Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Steve, Cyril kan jou ook ore aansit

Kobus Wessels, Moreletapark, skryf:
Antjie Krog het die sentiment van menige Suid-Afrikaner oor ons voormalige president knap raakgevat in haar artikel verlede week.

Binne die hedendaagse konteks van die #MeToo-veldtog het ek begrip vir haar klem op “sy vernietiging van vroue”. Waarvoor ek egter geen begrip het nie, is haar stelling dat “hy en sy adv. Kemp uit hul poste moes padgee”.

Krog verwys duidelik na adv. Kemp J. Kemp, ’n lid van die balie in KwaZulu-Natal.

As woordsmid weet Krog dat woorde en sinne betekenis dra. Soos Rapport, neem ek daardie woorde ernstig op. Ek kon egter geen bewys kry van enige optrede deur Kemp wat grens aan die “vernietiging van vroue” nie.

Ons weet almal dat hy Zuma in die verkragtingsaak in die hof verteenwoordig het. Het hy dalk sy opdrag direk van Zuma ontvang en nie deur ’n prokureur nie? Het hy dalk, in teenstelling met wat sy beroep vereis, ’n instrument in sy ­
kliënt se hande geword en onbehoorlike voorstellings aan die hof gemaak? Krog se woorde is ’n ernstige aanklag teen Kemp wat verdere ondersoek en opklaring verdien.


Schalk de Beer, Montana, skryf:

Antjie Krog beweer dat “om die land te bestendig wit mense sal moet gee, baie gee”. Bedoel sy nie dalk “ryk” mense soos sy moet “gee, baie gee” nie?

Vir seker is dit nie slegs of al die wit mense wat kan “gee, baie gee” nie. Pres. Cyril Ramaphosa kan byvoorbeeld ’n miljoen rand vir een buffel betaal.

En die wit mense het reeds baie gegee. Die hele staatsdiens en semistaatsinstellings is geheel en al aan swart mense oorgedra meer as 20 jaar gelede, waar hulle dit aanwend hoofsaaklik vir hul eie gewin.


Rynhardt J. van Rensburg, Somerset-Wes, skryf:

“Prof” Steve Hofmeyr skryf die ANC sal die “ware mosie van wantroue in 2019 voel”. Werklik?

Dit was juis u en Leon Schuster wat in die verlede so lekker saam met die voormalige president gebraai het. Sommige het na hom verwys as ’n moderne Piet Retief.

Die ANC is dronk van mag en daar is geen genesing daarvoor nie. Ek sien eerder Suid-Afrika op ’n pad na chaos as wat die ANC mag gaan afstaan by ’n stembus.

Om te verwag dat pres. Cyril Rama­phosa alles moet reg toor met ’n towerstaf is wensdenkery! Hy het reeds met sy gladde pratery op 16 Februarie gesorg dat ANC-ondersteuners uit sy hande eet.

Steve, die SAKP (die tweede oudste kommunistiese party ter wêreld) beheer die ANC. Dit sê alles. Kom ons kyk wie van ons is korrek oor 2019.

Intussen stel ek voor jy reël weer ’n lekker groot braai met musiek saam met die nuwe president sodat hy jou ook kan ore aansit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.