Prof. Joubert Botha, Pretoria, skryf: Studente vertel aan Johan Fourie (Sake-Rapport) dat kapitalisme niks anders as uitbuiting is nie. Kyk na die oormatige vergoeding in groot ondernemings terwyl miljoene niks het nie. Etiek in baie ondernemings is verdag, en so aan.
Dis alles waar. Maar dit kom oral voor, nie net onder die kapitalisme nie. Dit was tewens die grootste kenmerk van die ou Russiese sosialisme, met die bevolking tot in die grond verarm onder die hiel van diktators.
Studente weet dit nie, want hulle ken nie die geskiedenis nie.
Maar daar is ’n fundamentele verskil: Onder die kapitalisme is daar vryheid van denke en doen. Onder die Sowjet-sosialisme was dít ’n misdaad. Almal moes die staat dien.
So, verkies jy om vir die staat te werk of vir jouself? Die geskiedenis wys dat ’n ongebonde optrede en vrye mark veel produktiewer is as wanneer jy vir die staat werk. Oor die drie “goue” eeue van die Pax Romana is gewone mense met rus gelaat en minimaal ingemeng. Al hierdie dinge is alombekend, buiten by diegene na wie prof. Fourie verwys.