Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Sulke rompslomp maak jou keelvol

Dankie vir die twee artikels op 4 en 5 deser oor die probleme wat die SA Inkomstediens (SAID) vir belastingbetalers veroorsaak.

Dit was vir my verblydend dat die probleem gepubliseer word; ek het op die punt gekom waar ek net nie meer kans sien vir die gesukkel nie en het uit frustrasie reeds sakebelange oorsee gevestig waar jy die ongelooflikste ondersteuning van die staat kry omdat jy ’n werkskepper is.

In my eie opset en dié van verskeie sakemanne wat aan my bekend is, het ons ouditeurskostes die hoogte in geskiet weens die aanhoudende foute en onregmatige boetes en rentes wat die SAID hef uit hoofde van sy interne probleme of onbevoegdhede.

Dié probleem is van so ’n aard dat dit vir ewig vat om op te los. Jy gaan na sy kantoor wat jou verwys na die 0800-nommer wat sê “We are experiencing high call volumes”, en jou uiteindelik na die toonbank terugverwys.

Uiteindelik vra jy maar weer die ouditeursfirma om die probleem vir jou te help oplos. Jy wen niks nie, want die ouditeur se tarief is meer as wat jy wen – met die gevolg dat dit meer ekonomies is om die boete of rente te betaal.

Met die oorskakeling na die nuwe formaat van e-filing was daar ’n probleem dat baie nie ’n verwysingsnommer vir BTW en LBS kon kry nie. Met baie moeite van die ouditeure is uiteindelik nommers van die SAID gekry waarteen ek kon betaal.

My woorde was skaars koud dat daar nou seker ’n boete en rente sal kom op die groot bedrag wat eers op die laaste dag van die maand betaal is, weens geen versuim of fout aan my kant, maar deur die SAID se eie stelsel, toe kom dit.

Nou moet ek weer eens iemand betaal om die onregmatige gemors reg te stel.

Ek sal graag van die ombudsman wil weet hoe gaan ’n mens te werk, indien moontlik, om hierdie invorderingskostes van die SAID te verhaal.

Ek glo hierdie soort behandeling, en die gesukkel om dit reg te stel, doen meer skade aan die sukkelende ekonomie as wat die staat besef.

Dan moet jy ook nie vergeet wat ’n gesukkel ’n mens met werkloosheidsversekering en die ongevallekommissaris het nie. Stuur ’n e-pos aan hulle en kyk of jy ’n antwoord kry.

Mense is magteloos teen die staat, maar keelvol.

Meer oor:  Said  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.