Op 19 April moes ek my liggaamlik gestremde suster na die O.R. Tambo-lughawe neem vir ’n vlug na Kimberley.
Twee dae voor die tyd het ek die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se kliëntediens per e-pos gekontak (geen telefoonnommer is op internet beskikbaar nie) om te reël dat iemand haar met ’n rolstoel by die parkeerarea vir gestremdes die naaste aan die vertreksaal kom ontmoet.
Ek het die tyd wat ek daar sou wees, die vlug-nommer en vertrektyd aangedui.
Die reaksie was dat hulle my binne tien werkdae sou kontak! (Ek het tot nou toe nog geen antwoord ontvang nie.)
Daar aangekom het ek een van die werkers gevra waar ek ’n rolstoel kan kry en is aangesê om een te gaan haal. Ek moes my suster alleen daar los en na ’n rolstoel gaan soek.
By die area waar rolstoele beskikbaar is, het ek gevra of ek een kan kry en of een van die werknemers haar kan gaan haal.
Hulle het eenvoudig geweier. Mooipraat en soebat het nie gehelp nie en ek moes noodgedwonge ’n bagasietrollie gebruik om my suster te gaan haal.
Sy het vernederd gevoel om op ’n tas op ’n bagasietrollie te sit terwyl ons tussen ander mense moes deurbeweeg.
Dis die swakste diens wat ek nog op enige plek teëgekom het wat mense met gestremdhede betref.
Maar wat kan ’n mens meer verwag van ’n bankrot, onbevoegde onderneming soos die SAL?