Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Taalbeleid by US het twee silwer randjies

Adv. Jan Heunis, Kaapstad, skryf: Die raad van die Universiteit Stellenbosch (US) se besluit in 2016 om ’n nuwe taalbeleid te aanvaar het heelwat betreurenswaardige gevolge gehad waarvan ek net ’n paar noem.

Eerstens die vervanging van Afrikaans met Engels as onderrigtaal in ’n provinsie waar Afrikaans verreweg die meerderheidstaal én die taal van die meerderheid benadeeldes is.

Tweedens die feit dat die rektor, prof. Wim de Villiers, en die raadslid adv. Jean Meiring dit goedgedink het om die regter van die konstitusionele hof Edwin Cameron te oorreed om in te stem tot die benoeming vir die US se kanselierskap terwyl ’n konstitusionele hofsaak oor die US se taalbeleid hangende was.

Derdens die uitspraak, wat deur Cameron gelewer is, wat so gebrekkig was dat dit die indruk van vooroordeel (wat deur die gesprekke waarna ek hier bo verwys geskep is) net versterk het.

Vierdens die feit dat Cameron uiteindelik die kanselierskap aanvaar het ten spyte daarvan dat sy optrede ’n blatante verbreking van die gedragsreëls vir regters was en hardkoppig volhard met sy verontskuldigings wat dit al hoe moeiliker maak om sy eens vlekkelose reputasie te red.

Een vraag kelder sy verweer pens en pootjies: Het hy ooit al die partye se regsverteenwoordigers laat weet dat hy – nadat die saak aangehoor is, maar voordat uitspraak gelewer is – in gesprek was oor die kanselierskap met verteenwoordigers van die universiteit?

Oudregter Johann Kriegler het by geleentheid en met verwysing na regter John Hlophe gesê: “Through his greed he has shamed us all.” Van Cameron kan mens dalk sê: “Through his vanity he has shamed us all.”

Vyfdens is daar oudregter Burton Fourie se onbeholpe poging om die rektor se optrede in die reine te bring.

Maar daar is twee silwer randjies.

Die eerste is dat die oud-adjunk-hoofstaatsregsadviseur adv. Johan Bruwer SC die moed van sy oortuiging gehad het om ’n klagte teen Cameron by die Regterlike Dienskommissie in te dien.

En die ander is dat die DA, by monde van sy woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, dr. Leon Schreiber, ondubbelsinnig standpunt ingeneem het teen die koers wat die US ingeslaan het.

Gysbert Viljoen, Stellenbosch, skryf: Ek is verheug oor die toetrede deur die DA se dr. Leon Schreiber tot die toedrag van sake rondom die beweerde onbehoorlike kontak tussen die Matie-rektor, prof. Wim de Villiers, en oudregter Edwin Cameron rakende laasgenoemde se kanselierskap voordat die uitspraak in die Stellenbosse taalsaak gelewer is. Die feit dat die DA daarop aandring dat die publiek geregtig is op antwoorde rakende die skandaal en boonop nog veg vir die gelyke status van Afrikaans by hierdie instelling, getuig van ’n ruggraat wat kiesers baie lank gelede gesien het.

Meer oor:  Briewe  |  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.