Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Taalgebruiker of speltoetser: dís die groot verskil
Prof. Gerhard van Huyssteen

Die voornaam van Bobby van Jaarsveld se sanger-suster is ...

  • Carline
  • Carlien
  • Karlien
  • Karline

Dié vraag verskyn onlangs in een van die daaglikse toetse van Beter Afrikaans, ’n slimfoontoepassing wat jou help om jou taalgebruik te verbeter, spellingvaardighede op te skerp en kennis oor Afrikaans uit te brei.

’n Woedende deelnemer reageer: “Dit is belaglik dat ek moet weet hoe om haar naam te spel! Dit is ’n algemenekennisvraag, nie ’n taalvraag nie. Ek het geen idee wie die vrou is na wie verwys is nie. Daarmee saam is die weergawe van die spelling van die naam waarmee haar ouers haar belas het, nie noodwendig die ‘korrekte’ spelling nie.”

Beter Afrikaans se doel is ­onder meer om te help om ­“afgeronde” taalgebruikers op te lei. ’n Afgeronde taalgebruiker is ’n ingeligte taalgebruiker.

Die doyenne van Afrikaanse nuuslesers, Mariëtta Kruger, het my jare gelede ’n belangrike les geleer: ’n Nuusleser moet nie net goed kan artikuleer, woorde korrek kan uitspreek en sinne behoorlik kan fraseer nie.

’n Goeie nuusleser is iemand wat wéét wat in die nuus gebeur, wat ’n besonder goeie algemene kennis het. Want slegs dan kan jy die nuus gesaghebbend en met die nodige patos oordra.

En dié les geld elke taal­gebruiker.

Kom ons volg ’n bietjie die argument van die woedende Beter Afrikaans-gebruiker. As daar van taalgebruikers geen algemene kennis veronderstel mag word nie, hoe kan ons dan verwag dat iemand moet weet dat daar ’n verskil tussen die “Nuwe Testament” en ’n “nuwe testament” is?

Dit verg tog algemene kennis – of jy ’n Christen is of nie – om te weet dat ons “Nuwe Testament” in Afrikaans in ’n bybelse konteks met hoofletters skryf.

As jy in ’n e-pos die uitvoerende direkteur van jou maatskappy se van verkeerd skryf, is dit maar oukei?

Net so verg dit taalkennis én algemene kennis om te weet dat sowel “bybelse” as “Bybelse” korrekte skryfwyses is (kyk reël 9.19 in die AWS).

Dieselfde argument geld baie ander eiename. Ek verwag van ’n afgeronde taalgebruiker om te weet hoe om die skrywer Etienne Leroux (en nie Et­tienne le Roux nie) se naam te skryf, of om ten minste te weet wie Oscar Pistorius is (en dat sy naam nie Oskar Pretorius is nie). Of dat ons adjunkpresident se van Ramaphosa (en nie Rammaposa nie) is. Of dat Mpumalanga (en nie Mphumalangha nie) aan die Krugerwildtuin grens.

As jy in ’n e-pos die uitvoerende direkteur van jou maatskappy se van verkeerd skryf, is dit maar oukei?

As ’n nuusleser na ’n Verenigde Stater (in plaas van Amerikaner) verwys, is dit ook maar aanvaarbaar? Nee, of jy nou ’n skoolleerling, Facebookskrywer, e-possenier of joernalis is, die korrekte skryfwyse én spelling van eiename is deel van jou vereiste taalkennis.

’n Taalgebruiker sonder wêreldkennis is niks anders (of beter) as ’n speltoetser nie.

As iemand nie weet wie ­Bobby of Karlien van Jaarsveld is nie, of wie Oscar Pistorius is, of wat die Nuwe Testament is, of watter provinsies waar in ons land is nie, help Beter Afrikaans hulle hopelik om ook hulle algemene kennis uit te brei.

Perdalks leer diesulkes ook van Google en Wikipedia.

Anders vra ek hulle maar om groete te stuur aan Rip van Winkel.

Meer oor:  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.