Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Tabakbedryf nie so eenvoudig

Soos gewoonlik het die tabakboer Francois van der Merwe in RSG se rookdebat op 24 deser met feitelik korrekte argumente die saak namens sy medeprodusente uitstekend gestel en bespiegelende stellings vermy.

Daarteenoor het die Universiteit van Kaapstad (UK) se prof. Corné van Walbeek egter bietjie geklink soos iemand wat die klokklank uit stukkies navorsing selektief saamflans om ’n bepaalde agenda te bevorder, maar nie (wil) verstaan (of weet) waar die klepel hang nie. Sy kommentaar verdien nabetragting weens die feit dat hy die eintlike punt misgetas het terwyl hy bloot onkundige anti-rokers se tone laat krul het.

Die feit is dat die owerheid onder leiding van NDZ ’n fanatiese (en waarskynlik onwettige en ongrondwetlike) antirookveldtog gevoer het deur, in die mees ongeleë stadium en teen alle logika in, op skandalige wyse die ramptoestand as platform te misbruik.

Van Walbeek het die astronomiese kort- en langtermyn- ekonomiese skade wat aangerig is en hongersnood bevorder, versigtig vermy.

Van Walbeek praat nie soos iemand wat onpartydige navorsingsresultate wil bespreek as hy voortborduur met tipiese NDZ-anti-rookspore in sy kommentaar nie.

Vorige UK-navorsingsresultate het die tabakgroep se waarskuwings oor smokkelhandel en gevolglike skatkisverliese ondersteun, en in effek is die owerheid se versuim onder die kalklig geplaas. Dit kom dus eerder voor asof Van Walbeek die aanklag probeer versag, of sy pos en inkomstebron probeer verdedig tot eie voordeel.

Hy opper menings wat verdagmaking oor ’n wettige bedryf saai sonder feitelike bewyse, maak aannames oor gerugte wat hy “in die lug los”.

’n Belangrike feit is dat die geurige rookkwaliteit van ’n tabakproduk die resultaat is van die kundige vermenging van verskeie klasse, bronne en seisoene op ’n standhoudende basis. Geskikte produkte en oeste en infrastruktuur word oor dekades só ontwikkel en aangepas om jou land die optimale posisie (en in ’n mate unieke voetspoor) in die wêreldmark te gee en dan kan jy jou landbouprodukte en seisoene optimaal benut.

Van Walbeek se vereenvoudigde voorbeeld van boerderylogistiek is gewoon gek en klink na die van ’n “protokol-verslaafde” wat al sy vloeikaarte en antwoorde van ’n rekenaar aflaai.

Tabak word verbou as ’n seisoenale gewas. Alle boere moet onvermydelik ’n rotasieketting van gewasse handhaaf as hulle die grond doeltreffend wil benut. Hul eie en hul werkers se jaarlikse kontantvloei en oorlewing hang daarvan af. Een gewas word met deel van die opbrengste van die vorige gewas verbou. Breek die ketting, of verpas die planttyd, en jy verloor ’n jaar se oes.

Met alle landbouprodukte wat in internasionale verbruikershandelsmerke verwerk word, bepaal die klimaat, grond en seisoene watter deel van ’n land (en plaas) se oes volhoubaar vir jou produkte beskikbaar is. Dit maak jou land se ekonomie onlosmaaklik deel van ’n baie mededingende, ineengestrengelde wêreldekonomie. Enige getorring aan daardie formule en jy plaas jou bedryf en land op (soos die Chinese spreekwoord sê) “ ’n stadige dood deur die bloedverlies van ’n duisend snytjies”.

Die vervaardiger moet dus in sy mengselsamestellings verskeie verskaffingsbronne kan benut om internasionaal met kwaliteit produkte te kan wedywer.

Dit word duidelik nie besef nie (of doelbewus geïgnoreer) deur Van Walbeek se geniepsige opmerkings wat deur sy rookskerm skyn.

So, dis beslis nie so eenvoudig as om bloot ’n vrag tabak soos koolblare in ’n masjien te voer nie en anderkant kom ’n perfekte sigaret uit.

Dis ’n feit dat hoe kleiner ’n tabakoes is, hoe groter die waarskynlikheid dat ’n groter persentasie nie benut kan word nie – en hoe hoër is die eenheidskoste, hoe ongunstiger is die internasionale prys en minder mededingend is die Suid-Afrikaanse produk.

Soos ook in wynproduksie kan jy nie net ’n vrag druiwe in ’n tenk gooi en onder die bottels kwaliteit wyn uittap nie.

’n Verantwoordelike owerheid (en sy spreekbuise) moet bedag wees om homself nie deur vooroordele en fanatiese meelopers te laat verlei en misbruik nie. Gekke storm in waar selfs engele versigtig trap. Ek sou dink skoenmaker hou jou liewer by jou lees.

Ek is nie ’n roker of tabakboer of werknemer van ’n fabrikant nie – bloot ’n gefrustreerde belastingbetaler.

Meer oor:  Ramptoestand  |  Brief  |  Tabakbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.