Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Tafelberg, Media24 moet sê oor boek

Willie Esterhuyse en Chris Jones, Stellenbosch, skryf: Ons het, na aanleiding van die boek Die seuns van Bird Island en oudminister Barend du Plessis se artikel verlede week op hierdie blaaie, ’n paar vrae aan die uitgewer Tafelberg en die direksie van Media24.

Anders as Rapport se verskoning, is die verskoning van Tafelberg, na ons en vele ander se opinie, absoluut ontoereikend. Die uitgewer erken wel wat die boek betref dat die “gewraakte stellings [daarin] nie onafhanklik geverifieer [kon] word nie”. Maar tog word hul verskoning aan slegs Barend du Plessis (en sy familie) gerig. Hoekom?

Kon die gewraakte stellings rakende mnre. Magnus Malan en John Wiley dan wel onafhanklik geverifieer word? En waarom is derduisende lesers wat deur hierdie boek mislei is, nie ook om verskoning gevra nie? Is dit nie ’n skending van hul regte nie? ’n Uitgewer het tog ’n verantwoordelikheid teenoor sy lesers?

Enkele dae voor die publikasie van hierdie boek het Mark Minnie aan sy medeskrywer asook redakteur/uitgewer geskryf dat daar nie konkrete bewyse was dat enige van die drie geïmpliseerde ministers ’n slagoffer seksueel gemolesteer het nie. En volgens die ondersoekende joernalis Jacques Pauw is die naam van Malan nie een keer in die eerste twee manuskripte van die boek wat deur Minnie geskryf is, genoem nie.

Moes dit nie gevaarligte laat flikker nie? ’n Gesoute uitgewer behoort tog altyd onder sulke omstandighede te vra: Hoe gaan ek die waarheid die beste dien met die minste moontlike skade?

Verder wil ons weet wat die direksie van Media24 gaan doen op grond van hul morele verantwoordelikheid, asook korporatiewe toesig en beheer, soos uiteengesit in King IV wat deur Media24 onderskryf word.

Wat is die direksie van Media24 se standpunt oor die boek? En nog: Hoeveel kopieë van hierdie boek is verkoop? Hoeveel wins is gemaak? Watter vorm van herstellende geregtigheid/restitusie, veral teenoor die Du Plessis-familie vir wie daar spesifiek verskoning gevra is, word beplan? En wat van die tantième wat uitbetaal is aan die skrywers? Behoort dit nie teruggeëis te word nie? Die onttrekking van die boek, ná die uitgewer se verskoning, blyk tog ’n skulderkentenis te wees, nie waar nie?

En ten slotte: Onderskryf die direksie Tafelberg se verskoning – veral waar hulle sê dat “enige poging om die boek en sy inhoud te diskrediteer in die toepaslike forum verdedig (sal word)”? Hoe is dit moontlik in die lig van eedverklarings dat dit wat in die boek beweer word, onmoontlik kon gebeur het?

Vir ons verteenwoordig hierdie boek ’n laagtepunt in die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse uitgewersbedryf. Dit het die reputasie, handelsmerkwaarde, openbare beeld van vertroue en histories onberispelike integriteit wat oor jare opgebou is onder die Tafelberg-uitgewersnaam erg geskaad.

VERSKONING
Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Barend du Plessis in die boeke The Lost Boys of Bird Island en Die Seuns van Bird Island, asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het.
* Volg hierdie skakel na die verskoning.



Meer oor:  Chris Jones  |  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.