Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Tito, dié stryd gaan jy nie wen

Met die staatskas wat leeg is en die arme minister van finansies, Tito Mboweni, wat ook nie meer herwaarts of derwaarts weet hoe om die ekonomie te red nie, glinster pensioenfondse al hoe meer, en blink die kaders se oë as hulle dink aan al die miljoene rande wat “lê en wag”.

Daar word dan ook in toenemende mate vrese uitgespreek dat die pensioenfondse geplunder kan word. Toe nie; dit word reeds onregstreeks geplunder en hiervan behoort mense met pensioenfondse kennis te neem en bang te word, sommer baie bang.

Só berig Volksblad (26.06) dat die hooggeregshof in Bloemfontein nou twee van die sukkelende munisipaliteite in die Vrystaat gelas het om “meer as R28 miljoen se agterstallige bydraes en rente aan die munisipale aftreefonds oor te betaal”.

Sjoe, dit is darem maar lelik!

Dit is geld wat, wag net ’n bietjie, maandeliks van dié twee munisipaliteite se werknemers se salarisse afgetrek is.

Die twee munisipaliteite is Kopanong en Mohokare, albei in die Suid-Vrystaat.

Die ergste is dat dit nou die derde keer is dat die Kopanong-munisipaliteit deur ’n hofbevel verplig word om sy wetlike pligte teenoor sy werknemers na te kom.

Om die ou sakie verder toe te lig, het Kopanong nog nie eens die R6,5 miljoen wat die hof al in 2017 beveel het om aan die fonds te betaal, ten volle vereffen nie. Kopanong se agterstallige skuld van R15 658 614 het van November 2016 begin ophoop. Net die rente wat die munisipaliteit daarop moet betaal, beloop R4 249 535! Lekker, man, lekker.

Dié wandade, of sal ek eerder sê misdade, skep geweldige probleme vir die werknemers wat ter goeder trou glo hulle gaan eendag ’n pensioen hê wanneer hulle aftree.

Moet die munisipale amptenare wat aandadig is hieraan, nie ook strafregtelik vervolg word nie? Hoe het hulle dalk nie gebaat by die geld wat nooit aan die fonds oorbetaal is nie? Wat van leefstyloudits vir hulle?

Nee wat, mnr. Mboweni, dié stryd gaan jy beslis nie wen nie.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Stryd  |  Ekonomie  |  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.