Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Toets grondwetlikheid van Wet op Pensioenfondse

Op 23 Junie is berig oor die Transnet-pensioenarisse se groepeis wat helaas ná ses lange jare te berde gebring is. Dit is egter te betreur dat meer as 50% van hierdie bejaardes nie die “oorwinning” saam met hul eweknieë kon vier nie. Hulle is reeds afgestorwe.

Drie dinge het my diep getref: die vermelding van swak beleggingsbesluite, die geweldige litigasiekoste, asook Transnet se versuim om meer as R17 miljoen aan die fonds uit te betaal. Die enigste wenners hier was die prokureurs, Transnet en ander derde partye. Die enigste verloorder hier is die pensioenarisse.

Met bogenoemde in gedagte, wil ek graag die soeklig fel op ons drakoniese Wet op Pensioenfondse, spesifiek voorsorgfondse, laat val. Laasgenoemde maak onder meer voorsiening dat ’n persoon tot R500 000 belastingvry as ’n eenmalige bedrag mag neem en die res van die fonds kan in ’n lewende of lewensannuïteit belê word. Sou die persoon besluit om al sy geld as opsie te neem, dan belas Jan Taks hom uit sy stewels uit. So, die logiese opsie is om liewer ’n pensioen te koop as jy belasting wil spaar. En dit is net hier waar die knoop lê.

Die persoon word verplig om ’n konsultant/makelaar te gaan spreek. Dikwels is dit die eerste keer dat jy die persoon ontmoet in wie se sorg jy jou swaarverdiende geldjies moet toevertrou. Die konsultant stel ’n paar scenario’s voor en besluit dikwels self watter beleggingsopsie is vir jou die beste – konserwatief of waaghalsig. Dit kom natuurlik teen ’n vet prys. Sy funksie is om state op versoek bekend te maak en om jou minstens een keer per jaar te sien.

Tweedens moet daar ’n platform gevind word, byvoorbeeld ’n groot maatskappy, wat ook natuurlik sy pond vleis wil hê. Derdens moet daar ’n fondsbestuurder aangestel word, wat ook ’n hap uit die koek kry. Dan volg Jan Taks. Die pensioenaris is dus die heel laaste ontvanger. Wat ’n skande!

Die Wet op Pensioenfondse verskaf riglyne oor hoe die geld belê moet word. Dit skryf voor dat ’n sekere persentasie byvoorbeeld in kontant, effekte en ander beleggingsklasse belê moet word. As hierdie kriteria nagekom word, is die konsultant, die maatskappy en fondsbestuurder basies immuun teen vervolging al sou dit ook beteken dat jou belegging negatief groei. Wie dra die risiko? Die pensioenaris! Wat ’n grap! Sy enigste remedie as hy ontevrede is, is om sy geld na ’n ander konsultant te neem waar die hele proses homself maar weer herhaal.

Ek het ’n wesenlike probleem met hierdie wet, want dit bedreig die pensioenaris se reg op ekonomiese vryheid ernstig. Waarom kan die pensioenaris byvoorbeeld nie self sy geld regstreeks belê nie? Hy kan die Wet op Pensioenfondse se riglyne volg en die geld dienooreenkomstig belê. Dit sal beteken dat die middelman uitgeskakel word en dat die pensioenaris optimale voordeel uit sy geld kry.

Die tyd het gekom dat afgetredenes in beheer van hul geld gestel word. Die regering wil alles reguleer, dikwels tot nadeel van die pensioenaris. Die grondwetlikheid van hierdie wet moet getoets word. Ons vryheid word aan bande gelê deur hierdie en ander drakoniese wetgewing.

Ja, daar kan ’n saak uitgemaak word dat konsultante leke se sake moet hanteer wat nie oor die nodige kennis beskik nie, maar vir diegene wat self na hul belange kan omsien, is dit ’n growwe belediging en miskenning van hul onafhanklikheid en hul reg op vrye ekonomiese interaksie. Bogenoemde wet maak ’n bespotting van ons Grondwet en ek voel sterk dat dit nie die toets van rede en rasionaliteit in die konstitusionele hof sal deurstaan nie.

Meer oor:  Pensioenfondse  |  Brief  |  Toets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.