Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
LESERSBRIEF
Tyd dat Steve ook leer

Daar is tans (weer eens) 'n hele polemiek aan die gang oor Steve Hofmeyr en sy politieke uitsprake van die verhoog af. Maatskappye dreig om hul borgskappe te onttrek waar Steve deel van die okkasie is.

In sekere gevalle is die borgskappe inderdaad ook onttrek. Die borge se argument is dat hulle nie betrokke wil en sal raak by enige geleentheid waar politiek 'n rol speel nie. Of waar iemand 'n geleentheid vir politieke uitsprake gebruik nie. Aan die ander kant is daar steun vir Steve vanuit die geledere van sy mede-kunstenaars.

Hulle boikot byeenkomste en weier ook om geleenthede soos die Ghoemas by te woon. En hul argument is dat vryheid van spraak nie beperk kan word nie en dit is kunstenaars se reg om te sê wat hulle wil sê en nie daarin beperk mag word nie. So, hoe raak dit my? Ek het groot respek vir Steve as sanger.

Hy het 'n baie goeie stem en behaal groot sukses as sanger. Wanneer ek dus 'n plakkaat teen 'n lamppaal sien wat 'n optrede van Steve adverteer, sal ek in alle waarskynlikheid 'n hele paar rand uithaal om na Steve te gaan luister.

Ek sal hierdie geld betaal om na sy sang te gaan luister. Ek stel egter geensins belang daarin om geld vir 'n Steve-vertoning te betaal om dan na sy politieke oortuigings te gaan sit en luister nie.

Dit is vir my onaanvaarbaar dat ek na sy vertoning ‘gelok’ word om na sy sang te luister en dan met sy politieke oortuigings gekonfronteer word. Daarmee betoon hy as sanger geen respek vir almal wat geld betaal het om te kom luister hoe hy sing nie. En om na sy weergawe van "Die Stem" te luister, is na my mening 'n politieke standpunt en gaan nie oor hoe goed hy sing nie. 

Die tyd het lankal aangebreek dat Steve moet leer om te onderskei wanneer hy politiek kan verkondig en wanneer nie. Die VF Plus gebruik tans Steve se stem vir sy RSG-advertensie. Ek het geen probleem daarmee nie. 

Dit kos my niks en ek hoef nie daarna te luister nie. Gee my waarvoor ek betaal asseblief.

Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Gert Van Schalkwyk  |  Paarl  |  Brief  |  Mystem
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.