Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Uit die loopgraaf teen Covid-19

My innige simpatie aan Johann Maarman, wat sy “sonneblom-kind” weens Covid-19 verloor het. My “sonkind” is ’n verpleegsuster by ’n private hospitaal in Mpumalanga.

Sy beklee die pos van assistent-bestuurder, maar die afgelope ses maande werk sy saam met die verpleegpersoneel en is hoofsaaklik belas met die versorging van Covid-19-pasiënte.

Veertien dae gelede gaan kuier ons vir die kinders in Mpumalanga. By ons aankoms die Vrydag is slegs die twee tienerdogters tuis, die ouers by die werk. Die pa kom vroeg die middag by die huis en ons kuier. My dogter kom ook taamlik vroeg by die huis aan, net ná donker – sy werk gewoonlik tot 21:00. Haar sonnige geaardheid verbloem die afgeremdheid wat nou en dan op haar gesig vertoon.

Hulle het te min personeel by die hospitaal, twee susters is by die huis in afsondering, drie vryskut-verpleegsters het dieselfde dag vertrek na ’n begrafnis – die hospitaal het nie beheer oor die vryskut-personeel nie. Ons gesels en kuier tot laataand, ’n keer of wat bel die hospitaal oor die vordering van pasiënte, asook die dood van een.

Die personeel werk hard, hulle is gehard, dog huil soms, want as ’n pasiënt sterf, het hulle gewoonlik die persoon geken. Die vorige dag kla ’n senior dokter omdat die gras te lank is, die hospitaal gaan agteruit. Albei is seker oorwerk, want die hospitaalbestuurder antwoord: “Die tuinier moet stoepe en gange vee, hy moet in die stoor help, hy moet die lykbesorgers help en jy f***** kla oor die gras!”

Die Sondagaand word my dogter ingelig van nog ’n pasiënt wat gesterf het. Toe sy aflui, vat sy die kar se sleutel en is sy op pad na die hospitaal. Op my vraag antwoord sy oor haar skouer: “Pa, die lyksakke is op, wat gaan ek doen?”

Die tieners het saam met ons huis toe gekom, en elke aand as die ouers bel, hou ek asem op. Dit gaan taamlik goed met my kind, werk nog elke dag tot donker, dog “ons oorleef, my pa!”

Meer oor:  Johann Maarman  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.