Universiteite oral is besig om aanlyn- kursusse te ontwikkel – dalk ten koste van klaskameronderrig. Dit is verstaanbaar, gegewe die ekonomiese omstandighede en politieke druk.
Studente hunker egter amper onbewustelik na persoonlike kontak, veral as die dosent bekend of uitstaande is. Dit is een van die groot trekpleisters van bekende oorsese universiteite, waar daar dikwels wenners van Nobelpryse op die personeel is.
Kan ons universiteite saampraat? Die Universiteit Stellenbosch (US) is of was tradisioneel ’n residensiële universiteit, en van die manskoshuise het oor jare ’n trotse tradisie en kultuur opgebou wat ten doel het om jongmense sinvol by hul groep en volwassenheid in te skakel.
Anders gestel, die US kan koshuise – nie losieshuise – gebruik as ’n unieke verkoopspunt om studente te lok.
Natuurlik moet die koshuisbestuur ook hul kant bring en sorg dat wangebruike en oortredings geminimaliseer of gestraf word (vergelyk die Huis Marais-debakel).
US, julle het ’n gulde geleentheid, ontgin en benut dit!