Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
US-student: AfriForum praat nie namens my
Murray Heyman

Daar is mense wat dink ons as Afrikaanses “gaan lê” en niks doen nie wanneer ons van AfriForum se optrede verskil. Dit is ver van die waarheid. Daar is ’n plek vir alle mense om ’n bydrae te lewer in ons land. Elkeen van ons moet luister na wat ons medeburgers te sê het.

Ons moet gesien word as aktiewe luisteraars en ons moet ons menings op toepaslike platforms en op konstruktiewe wyse lug.

Op 3 Maart het die EFF ’n optog in Stellenbosch gereël in solidariteit met ’n groep studente wat hulself die “Stellies 7” noem. Ek het min kennis oor hierdie studente se situasie en verkies om my nie verder hieroor uit te laat nie. Die dag voor die optog het AfriForum die volgende SMS uitgestuur:

“Keer dat EFF Jannie Marais-standbeeld afbrand. Kuier saam met AfriForum Jeug by die standbeeld. 3/3/16 om 12 by Rooiplein, US. Versprei asb SMS. Stop v uitteken.”

Die EFF het toestemming van al die nodige rolspelers gekry om ’n optog te hou: die munisipaliteit, die universiteit en die polisie. Die doel van die optog het niks met die genoemde standbeeld te doen gehad nie en geen brandstigting is beplan nie.

Die beplande roete het toevallig naby die standbeeld op die Rooiplein verbygeloop. Stellenbosch is ’n relatief klein dorp, dit sou nie vergesog wees om te sê die SMS het valse inligting versprei nie. Ek kan tot geen ander gevolgtrekking kom as dat die doel daarvan was om vrees en haat aan te wakker en só getalle te vermeerder nie.

Toe die optog by die standbeeld verbygaan, was daar ’n kortstondige konfrontasie tussen die betrokke partye.

’n Groep, waarvan die meeste studente wit was, het hulself tussen die optoggangers en die AfriForum-studente geposisioneer, met plakkate wat lui: “AfriForum praat nie namens my nie.”

Deur Afrikaans hierdie beeld te gee, is AfriForum Afrikaans se grootste bedreiging.

Nadat AfriForum die toneel uiteindelik verlaat het, was daar opbouende gesprekke tussen ’n paar lede van die EFF en van die oorblywende grootliks wit omstanders.

AfriForum maak daarop aanspraak dat hulle ’n niewinsgewende minderheidsregte-organisasie is. Hulle doen wel uitstekende werk, soos die beveiliging van water, maar hulle sê ook dat hulle ’n “spesifieke fokus op die regte van Afrikaners as ’n gemeenskap op die Suidpunt van Afrika” het.

Hulle word as rassisties en eksklusief ervaar, of dit hul bedoeling is of nie, en in die proses rig hulle enorme skade aan die Afrikaanse beeld aan.

Vir my is dit diep kommerwekkend. Ek is ’n Afrikaanssprekende, ek is deel van die kultuur. Ek word geassosieer met enige optrede van AfriForum namens die Afrikaanse kultuur, taal of geskiedenis, of ek daarvan hou of nie, of ek saamstem met hul sienings en metodes of nie.

Ek koester ’n diep liefde vir Afrikaans. Dit is deel van my identiteit. AfriForum se benadering skep ’n aaklige beeld van ons taal na buite en dra by tot die swaar erfenislas wat Afrikaans steeds dra.

Deur Afrikaans hierdie beeld te gee, is AfriForum Afrikaans se grootste bedreiging.

AfriForum het die vermoë om baie goeie werk in en vir hierdie land te doen. Hul huidige optrede saai egter verdeling, vrees en haat.

Hulle doen onmeetbare skade aan die land en ironies genoeg aan Afrikaans.

Hulle praat nie namens my nie.

* Murray Heyman is ’n student aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.