Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Verhale gee hoop te midde van rasseherrie in SA

Die rasseherrie op Schweizer-Reneke het die land behoorlik aan die gons.

Aan albei kante van die politieke spektrum word almal met die vraag gekonfronteer: As daar ná 25 jaar van demokrasie in Suid-Afrika nou nog sulke voorvalle plaasvind, sal transformasie ooit in ons pragtige land kan slaag?

Terwyl menige landsburger onomwonde néé sal antwoord, wil ek, danksy Beeld se weldeurdagte beriggewing, glo dat daar wel hoop op suksesvolle transformasie is.

Graag deel ek drie verhale van transformasiehoop wat onlangs in Beeld verskyn het:

Ná die treinongeluk op die Mountain View-treinstasie verskyn daar op die voorblad ’n foto van ’n onbekende jong wit vrou wat ’n geskokte jong swart man ondersteun met die byskrif: “Verskeie inwoners van die Mountain View-omgewing het gehelp om beseerdes uit die treinwrak te help . . .”

Op 17 Januarie word berig: “Tuinier gee sy eerste trofee aan werkgewer.” ’n Pragtige verhaal van hoe Frikkie van Biljon die 27-jarige Dennis Mwale gehelp het om sy lewensdroom te verwesenlik deur ’n professionele bokser te word.

Op 18 Januarie verskyn daar nóg ’n verhaal van hoop oor hoe John Cable die 33-jarige Patrick Liwonde bygestaan het om aan sy eerste Attakwas Extreme-fietswedren deel te neem.

Hoe is hierdie verhale van hoop moontlik terwyl daar op Schweizer-Reneke en baie ander plekke in ons land die een rasseherrie ná die ander losbars?

Myns insiens lê die antwoord grootliks in dit wat Frederik van Dyk van die Adam Tas-studentevereniging geskryf het tydens hul intense stryd met Open Stellenbosch (OS): “Hoe kan ons transformasie laat plaasvind sodat almal met ’n glimlag kan wegstap? Adam Tassers het gou tot die besef gekom dat die logiese reaksie (om OS te beveg) nie vrugte gaan dra nie. Indien ons eerlik met onsself en rasioneel is, sal ons weet dat die boublokkies van OS-studente net soos ons s’n is. Hul einddoel op universiteit is gelyk en ewe waardig as enige ander Matie s’n – om graad te kry en met lekkerkry klaar te kry. Om die werksmark met selfvertroue en ’n kwalifikasie te betree. Om eendag kos op my familie, gesin of afhanklikes se tafel te sit.

“Dit kan dus nooit regverdigbaar wees om ons broers en susters in die studentestryd die skerp kant van die pistool te wys nie. Juis daarom het ons die teleskoop waarmee ons die OS bekyk het, met ’n mikroskoop vervang. Ons het die OS se status van ‘vyande’ na ‘medemense’ verander. Sonder dat ons ooit ons eerste beginsels of missie hoef prys te gee.”

Bogenoemde denkwyse was die resep vir verhale van hoop. Elk van die weldoeners het nie met ’n teleskoop na die persoon gekyk en hom in die visier gekry om hom in sy kwesbaarheid verder te kwes nie. Nee, die persoon se lewensituasie is “mikroskopies” ondersoek, die nood is raakgesien en hulp is verleen – oor kleurgrense heen.

Hoe nodig het ons nie juis dit in ons land van rasseherries nie!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.