Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Wapenwet laat wetsgehoorsames in die steek

Die redaksionele kommentaar “Vuurwapenwet: Regering moet dringend ingryp” (09.05), oor die wantoestande by die Sentrale Vuurwapenregister (SVR) en die Wapenwet, kom op ’n geleë tyd, en wys tereg daarop dat die huidige situasie die wetsgehoorsame wapeneienaar verwar en ernstig in die steek laat.

Dit was nog altyd my opvoeding en sosiale ingesteldheid om ons landswette te respekteer en te gehoorsaam.

Daarom is dit vir my ’n seer saak dat ek moet erken ek het my respek vir ons wapenwet en die SVR verloor.

Hier is maar net een voorbeeld (in ’n neutedop) wat die verskuilde agenda van die wapenwetmakers illustreer, naamlik om aansoekers te ontmoedig met verwarrende en duur administratiewe rompslomp.

In my huishouding was twee handwapens, albei aan my deur die SVR vir die doel van selfverdediging gelisensieer.

Toe dit tyd word om die lisensies te hernuwe, is my aansoeke afgekeur omdat ek nie twee handwapens vir selfverdediging mag besit nie.

Ek het een van die handwapens in die mark gesit en verkoop, maar só lank het die nuwe eienaar gesukkel om ’n lisensie daarvoor te bekom, dat my appèltydperk verstryk het. My appèl is verwerp omdat twee lisensies steeds teen my naam in die register aangedui was.

Teen die tyd dat die nuwe eienaar se lisensie-aansoek geslaag het, het die appèlraad homself reeds van my probleem gedistansieer, al kon ek bewys dat ek nou slegs een lisensie vir selfverdediging besit.

Weens die verloop van die tyd sit ek nou met ’n lisensie wat verval het, dus met ’n ongelisensieerde wapen.

Ek wil dit uitbasuin: Júlle het gefouteer om twee lisensies vir selfverdediging uit te reik en my met die probleem opgesaal, en julle weier om pa te staan daarvoor.

Júlle wou nie luister toe ek met my probleem vorendag gekom het nie. Júlle het die nuwe aansoeker meer as ’n jaar laat wag vir ’n lisensie. Toe die situasie wat julle geskep het, op my boemerang, het julle jul skouers opgehaal en agter absurditeite weggekruip.

Gee asseblief my lisensie vir my wapen terug, is al wat ek vra.

Ek het nog nooit ’n misdaad daarmee gepleeg nie en ek weier daarom om dit te oorhandig.

Meer oor:  Wapens  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.