Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Wat sê jy?
Malusi Gigaba

Nhlanhla Nene is nou uit! Cyril Ramaphosa, laat “Sassa” Dlamini en “Home Affairs” Gigaba sommer in sy glystroom volg terwyl dit nog daar is. – Frans, Ermelo

As Malusi Gigaba nou net ’n bladsy uit Nhlanhla Nene se boek wou neem . . . Hoe anders het die Gupta-staatskapers so maklik in Suid-Afrika tuisgeraak? Jo

Hoewel dit op die lange duur dalk beter vir die ekonomie sal wees dat Tito Mboweni die nuwe minister van finansies is, is die beginsel van Nhlanhla Nene se uittrede vir my verkeerd. Hy erken sy fout en vra om verskoning. Ek sou hom eerder vertrou as baie ander wat voortgaan sonder om te bieg. – Elsabé Howard

Welkom terug, Tito Mbweni. Hy is ’n eerlike karakter wat oor vaardighede en ervaring beskik en weet hoe die geldmark werk. Die jakkalse wat die wingerd verniel, moet hy uithou. Danie

Geen kommentator of joernalis het Tito Mboweni se naam in die hoed gegooi nie. Pres. Ramaphosa kan ’n geheim hou, nè? Welgedaan, mnr. Ramaphosa en jou kantoor. George, Newcastle

Die ANC het Nelson Mandela se reënboog verpand vir die Guptas se goue kalf. Hoe kan hulle nog verwag dat kiesers hulle moet vertrou en respekteer? Anti-afgode

Dit is tyd dat ons begin onderskei tussen betogers en terroriste. Betogers betoog en gaan dan vreedsaam uitmekaar. Terroriste stig brand en verwoes alles – hier is dit die weermag se beurt om met maksimum geweld in te klim. Thinus du Toit, Midrand

Paul Kruger

Waarom word tenders nie uitgereik om spore te onderstop en maspale te verf nie? Tolla, Witpoortjie

Jammer, prof. Fransjohan Pretorius (10.09), maar ek dink Paul Kruger was net duskant ’n skurk. ’n Man wat homself groot verhogings toestaan of geld rentevry by die regering leen, behoort tot dieselfde vlak as die ANC. Met sy dood was hy miljoene sterk, dit terwyl die res van die bevolking in armoede moes krepeer ná die oorlog wat hy vir volk en vaderland ontketen het. Miskien is daar tog waarheid in die Kruger-miljoene. JB, Pretoria

Kan skole nie sterker optree teen kinders wat ander kinders boelie nie? Dalk kan ons skole se name noem! – Lorainne, Gauteng

Die Bokke is reg, hulle droom van nr. 1 – die All Blacks. – Corrie, Kempton Park

Rassie, kies asseblief vir Shaun Venter van die Cheetahs vir jou groep. Hy het nou al ses jaar lank konstant goeie spel gelewer in ’n patetiese span. Hy is die akkuraatste skrumskakel in ons land. Sy diens is uitstekend. Ons kort sy spoed. Kies hom. Martin, Zwavelpoort

Kan die Bok-spelers wat kontrakte oorsee aanvaar, nie daarin stipuleer dat hulle vir toetswedstryde vrygestel moet word as hul land hulle nodig het nie? Wat doen die sokkerspelers? Kan die Suid-Afrikaanse Rugbyraad dit nie ’n vereiste maak nie? Ben Fourie, Pta

Rassie skuld ons niks nie. Hy het reeds oorgenoeg vermag. Dankie, Rassie, ek vertrou en bewonder jou. Ai, die ondankbares sal altyd daar wees. JVH

Shaun Venter

Die Springbokke het verloor omdat hulle gedink het dat die wedstryd klaar gewen is toe hulle met 30-13 voorgeloop het. Wanneer gaan hulle leer dat ’n wedstryd 80 minute lank is? Hulle gaan nie ’n Wêreldbeker wen as hulle nie die volle 80 minute speel nie. Kyk weer ’n bietjie watter span met al die trofeë in hul kas sit. Goed teruggeveg, All Blacks! Elizabeth, Florida

Die Springbokke het die All Blacks laas Saterdag eintlik goed pak gegee, maar toe bederf Rassie dit met die sogenaamde impakspelers. Noem die spelers op die bank eerder reserwes, soos van ouds, wat net ’n beseerde speler vervang. Dan was dit ’n ander storie.

– Fanie, Montana

Die Blou Bul-ondersteuners is verlig dat Rudolf Straeuli nie die sweep op Loftus gaan klap nie. Ou spelers ly nog aan skok van sy Kamp Staaldraad-spanboustrategie. DB

Annelie Botes

Hoe onsensitief kan die skrywers van Binnelanders nie wees met die storielyn oor chemoterapie nie! Hoeveel kykers is nie in dieselfde bootjie nie? Leser

Welkom aan Aniki Joseph as rubriekskrywer. Sy gaan beslis die hartsnare roer! – Wilma, Middelburg

Annelie Botes (“Rommelstrooi is ’n teken van gevangenskap”, 10.09), rommelstrooi is ’n stokperdjie in die land. Morsjorse kom weg omdat niemand teen hulle optree nie. Bottels word doelbewus in die pad stukkend gegooi. – AI

Oor al die boodskappe met verkleinwoorde soos “lekker slapies”, of “mooi daggie vir jou” en so meer: Ons praat mos nie normaalweg so nie? Verkleinwoorde het tog hul eie plek! Brenda, Mpumalanga

Ek lees met verbasing hierdie leuse agterop ’n taxi, net onder ’n daggaprentjie: “Sniff then drive”. Die taxi was vol passasiers!

Ann, Alberton

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.