Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Wat sê jy?

Stuur ’n SMS na 45571 en laat jou stem geld.

Johann Rupert

Johann Rupert vra nie verskoning dat hy ryk, wit en Afrikaans is nie. Maak dit van hom ’n verloorder? Die Ruperts het al soveel teruggegee aan Suid-Afrika, miskien sou dit beter gewees het om hom te bedank eerder as om hom te beledig. Rupert het in sy paneelbespreking by die PowerFM-geleentheid sy ervaring en wysheid gedeel, maar die gehoor kon nie begryp dat hy hulle wou leer visvang eerder as om die visse gratis uit te deel nie. – Martie, Pretoria

In Ditsobotla, Lichtenburg, Coligny en omgewing is munisipale dienslewering beroerd. Sekere dele in Lichtenburg is dae lank sonder water. Die weermag moes help om rioolprobleme op te los. Belastingbetalers moet self meterlesings neem en self by kantore opskryf en dan boonop in persoon navraag doen oor rekeninge. Die hernuwing van rybewyse is ’n opdraande stryd. Straatligte is maande lank donker en word nie vervang nie. – EvZ

In Potchefstroom kom die werknemers by die verkeerskantoor nie eens agter beurtkrag word toegepas nie, want hulle is áltyd van lyn af. Ons ry maar deur na Parys en hernu ons rybewyse by die behulpsame mense daar. – Petra

Adv. Shamila Batohi, al wat ek kan sê, is sterkte, sterkte en nogmaals sterkte vir die enorme taak wat aan jou opgedra is. Dit gaan ’n wonderwerk verg om die massiewe gemors by die nasionale vervolgingsgesag op te los. Ek bid vir jou. – Es, Johannesburg

Die nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), adv. Batohi, se intreetoespraak was besielend. Sy klink soos ’n president wat die volk bemoedig. Ek wens haar sukses en voorspoed toe. – Fanie van Montana

Julius Malema

Ek het nie ooghare vir Julius Malema nie en dink talle mense sou hom met een klap in ’n wentelbaan om Mars wou plaas. Maar dit was onverantwoordelik van Jacques Pauw om sy adres bekend te maak. Hy kon net die area waar hy bly genoem het. Niemand sal daarvan hou as hul adresse aanlyn bekend gemaak word nie, veral omdat talle mense gereeld aangeval word. – Tinus

’n Mens hoor deesdae gereeld in opstande en betogings dat “die polisie op die toneel is en die situasie dophou”. Wat beteken dit? Sover ek weet moet die polisie lewens en eiendom beskerm, wat hulle nie doen nie. Hoekom dra hulle nie meer knuppels nie? Ek as belastingbetaler be-taal hul salarisse en ons verwag dat die staat sekere dienste moet verrig, wat glad nie gebeur nie! – Wynand Millard, Pretoria

Eskom se beurtkrag dwing my om vyf van my werkers voor Kersfees af te betaal. Die kragonderbrekings maak my bankrot. Hoe verduidelik ek dit aan my werkers? – AI

Eskom wil nou deur beurtkrag ons laat besef watter gerief elektrisiteit werklik is. Volgende jaar, wanneer hy weer met buitensporige verhogings kom, sal ons dit dan gelate aanvaar. Dit is wat hy hoop. Verhaal al die geld van die klomp diewe in sy bestuur en die Guptas, en hy sal kan gedy. Suid-Afrika ook. – PH, Villieria

Die publiek en sakesektor van Suid-Afrika moet ’n groepsgeding teen Eskom en die ANC indien vir die skade en verlies aan inkomste wat hulle as gevolg van beurtkrag ly. – Otto

Eskom se probleem is nie wanbestuur nie, dis onbevoegdheid, punt. Ek was jare ’n senior

bestuurder by Megawatt Park, laat ek dit nou duidelik stel. Kragstasies word nie meer deur ingenieurs bestuur nie, maar deur mense met BA-grade.

– Gert, Pretoria

Die verlaagde vereistes vir tersiêre kwalifikasies is nou ’n jammerte. In die dae toe universiteitstoelatingsvereistes, selfs vir ’n BA-graad, heelwat hoër was, het ’n BA reeds minder waarde as die ander grade gehad. Met die verlaagde vereistes sal dit géén waarde hê nie. – Elsabé Howard, Benoni

Sky Ocean

Iemand met toegang tot MultiChoice het toegang tot die SAUK se kanale en betaal waarskynlik nie afsonderlik sy TV-lisensie nie. Moet MultiChoice nie eerder R25 tot R30 per maand ekstra by sy intekening voeg wat hy dan aan die SAUK oorbetaal eerder as wat daar twee betaalstelsels gehandhaaf word nie? Sal dit nie help om die kultuur van niebetaling gedeeltelik hok te slaan nie? – Joe

Wat ’n verfrissende artikel oor die sanger Sky Ocean. Ek hoop die onderwysers wat haar nie goed genoeg geag het nie laat sak hul koppe in skaamte. – Parys

Ons het onlangs die Krugerwildtuin besoek. Wat ’n aangename ondervinding. Die diens was flink en die ruskampe goed versorg. By Berg-en-Dal is ons kleinkinders se nuwe klere deur die personeel met groot sorg netjies een vir een opgevou. Dit is iets wat ek selde plaaslik sien. – Ouma Lies, Centurion

Ek sien die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) het ’n vakature vir ’n nuwe skoolhoof. Sterkte, ek hoop en bid hulle stel die regte persoon aan. – Neels C

Dr. Theuns Eloff, minderhede koester diversiteit en wens ook vir verdraagsaamheid. Populistiese politici is die verspreiders van die gevaarlike siekte van rassisme. – Gifpen

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.