Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Wat sê jy?
Mmusi en Natalie Maimane

Op die rooi tapyt by die opening van die parlement het Mmusi Maimane, DA-leier, en sy vrou, Natalie, gelukkig en lief vir mekaar voorgekom. – Marlene T.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, se gebrek aan insig verstom. Hy meen indien die regering R100 miljard van Eskom se skuld van R419 miljard oorneem, sal dit die kragverskaffer se probleme oplos. Belastingbetalers sal weer eens die rekening moet betaal. – Piet, Johannesburg

Eskom se mandaat is om krag te voorsien wat volhoubaar en bekostigbaar is. Hy hou wel aan om steenkool of selfs kernkrag as energiebron te oorweeg. Daar is nou genoeg bewyse dat son- en windkrag volhoubare alternatiewe is, maar hy steur hom nie daaraan nie. Intussen is miljarde rande besig om in onvoltooibare kragstasies te vloei. – Petra

Daar moet groot fout by Eskom wees as hy op ’n Sondag 19:00 beurtkrag instel wanneer kragverbruik reeds op ’n laagtepunt is. Is Eskom in ’n ondersoekkommissie se visier? – Pieter, Pretoria

Pres. Cyril Ramaphosa se woorde van gerusstelling oor Eskom is skaars koud of beurtkrag word weer ingestel. Ek hoop en vertrou dit gaan beter met van die ander beloftes. – Alwyn, Pretoria

Natuurlik is dit ons kollektiewe verantwoordelikheid om saam ’n nuwe Suid-Afrika te bou, maar dan ook ingevolge ’n nuwe waardestelsel waar ras nie ’n rol speel nie. Meneer die President, hanteer ons almal as gelykes. – Joe

Plastieksakke van supermarkte kos tot 71c elk.

Nie almal sal die Zuma-jare bestempel as “maer jare” nie. Ons hoor tans van ’n spul vetgevoerde geiljanne . . . – JHJ, Middelburg

Sowaar! Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, het ook nou ’n paar Nkandlatjies om te verduidelik. – D Johnny O, Weavind Park

My vriend en kollega was ’n fluitjieblaser en hy het met sy lewe geboet. Dis amper twee jaar later en die skuldiges is steeds vry. – Ontnugter, Pretoria

Noudat Angelo Agrizzi in hegtenis geneem is, dink die regering nog fluitjieblasers gaan na vore kom? Hulle gaan hul fluitjies wegbêre en hoop die Valke pluis maar self die korrupsiedebakel by Eskom en Spoornet uit. Ek dink die ANC het ’n boodskap oorgedra: Fluitjieblasers, pasop. Ons regeer steeds Suid-Afrika. – Krappie

Dit gaan my verstand te bowe dat Bosasa-werknemers in hegtenis geneem word, maar die trogvreters loop steeds vry rond en kyk waar hulle nog kan skep. – Japsnoet

Dr. Leon Pelser se lesersfoto van die mielieplaas is iets besonders. En die boer wag op reën? Terwyl ek sukkel om ’n rytjie tamatiestoele aan die gang te hou. – Carrie, Pretoria

Wat laat Julius Malema dink hy is onaantasbaar? Eie aan sy aard en bestuurstyl beskuldig hy iemand van ’n aanslag op sy lewe en word die persoon (’n polisiebeampte) met ’n vernietigende klap deur die gesig aangeval. Hy het net sy werk gedoen. – Omie van die Vrystaat

Dr. Leon Pelser se foto.

Die EFF gaan, nEFFens sy oogmerk om ná Mei meer banke in die parlement vol te sit ook sonder twyfel probeer om met ’n groter stem hom nog slegter te gedra. Dit is vir seker nie laaste sien van die blikkantien nie! – Hans Retief, Pretoria

Die juffrou van die Sans Souci Girls High School het die volste reg gehad om die kind te klap uit selfverdediging. Sy is immers aangerand toe die meisie haar stamp. – Cas van Pretoria

Die plan om vir elke leerling in Suid-Afrika ’n tabletrekenaar te gee, is amper soos om ’n huis op sand te bou. Tereg wys dr. Jaco Deacon daarop dat die infrastruktuur eers reggekry moet word. By party skole is daar nie eens behoorlike kragvoorsiening vir die laai van tablette nie. – Elsabé Howard, Benoni

As jy bekommerd is oor ons pensioengeld by die Staatsdienspensioenfonds (GEPF), help dit nie om in Afrikaanse koerante te kla nie. Skryf aan die GEPF-raad; hulle sê die heeltyd die verliese is ’n druppel aan die emmer. Besef die sogenaamde kundiges nie elke druppel kan die emmers volmaak nie? – Bekommerde werknemer van fonds, Pretoria

Ek waardeer die gesprek op RSG oor plastieksakke. Die sakke kos al 71c elk en dit word volgens regeringspesifikasies vervaardig. Wie het die kontrak, want die vervaardigers word nie genoem nie? Kan ons meer ingelig word, want ons betaal om die omgewing te besoedel en weet nie wie voordeel daaruit trek nie. – L. Marx

As dit enige troos is, glo ek geen ingenieur ter wêreld sou die fout in die Hoërskool Driehoek se sementbrug kon raaksien nie. Sement moet deeglik gemeng word om alle lugborrels uit te werk. ’n Lugborrel binne sement is onsigbaar. Die warm weer wat ons onlangs ervaar het, het die ideale omstandighede geskep vir daardie lugborrels om te bars. Vra maar vir enige pottebakker hoeveel kruike al in die oond gebars het as gevolg van lugborrels. – KF

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.