Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Wat sê jy?
Gerrie Nel

Gerrie Nel die bulhond blaf nie. Hy grom en byt seer. Brian Molefe moet in sy spore trap, anders gaan hy nog lang trane stort. Hy hoort agter tralies. – DB

Ek hoop nie dat ’n nuwe dagbreek van nog nege verlore jare met pres. Cyril Ramaphosa vir Suid Afrika aangebreek het nie. Tans lyk die dagbreek maar bra dynserig. – Johann, Mbombela

Dis vir my as leek duidelik dat adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, ’n agenda het om die president se gesag te ondermyn. Is dit bloot toevallig dat adv. Dali Mpofu haar in die hof verdedig terwyl hy ook die nasionale voorsitter van die EFF is? – Leon, Elarduspark

Niks wat die ANC tot stand gebring het, was ’n sukses nie. Nou wil hulle die private mediese fondse wat werk, ook rommelstatus gee. – Oom Bez

Vertaal asseblief dr. Theuns Eloff se artikel (13.08) in Engels en stuur dit vir pres. Ramaphosa. – Jaap, Brummeria

Kan Theuns Eloff asseblief ophou om die nuwe regering te kritiseer? Hy het gehelp om hulle aan die bewind te bring. – Hein Marais, Fochville

Pres. Bolsonaro van Brasilië se verwerplike “nr. 2”-opmerking oor klimaatsverandering is die toonbeeld van die ernstige leierskapskrisis wat die planeet tans bedreig. – Twakkies

Hoewel alles nooit weer dieselfde vir almal betrokke kan en gaan wees nie, is ek bly Zephany Nurse/Miché Solomons het die ding verwerk. Ek wens Miché en haar families net die heel beste toe vir die toekoms. Sterkte! – Katrien H

Ek het nog nooit iets van Cecilia Steyn se man gesien of gehoor in hierdie hofsaak nie, net dat sy getroud is. Waar is hy en hoe pas hy in die prentjie in? – H Nortje

Hofsake soos dié van Zak Valentine en Cecilia Steyn laat my wonder oor die ou narratief van my jong dae, van die wonderlike Afrikaner­nasie, die uitverkorenes van God wat gestuur is na Afrika se suidpunt om die evangelie aan die heidene te verkondig. Daardie beeld word finaal deur sulke hofsake vernietig.– Gerrit Boonstra

Swys de Bruin

Bun Booyens, gaan lees ’n bietjie leerlinge se geskiedenis- en lewensoriënteringshandboeke. Jy sal jou hande saamslaan oor al die propaganda. – Lily Roberts

Die onderwysstelsel sal ook verbeter as onderwysers in hul klas is. My kleinkind se onderwyser is al weer dié week afwesig en besig met ander twak. – T. Butler

Paul Colditz van Fed­sas meen daar is geen kitsoplossings nie. Dit gaan ’n mens se verstand te bowe dat iemand by ’n skool verkrag kan word. Moet ons dit nou net aanvaar dat daar so nou en dan ’n paar verkragtings, aanrandings en moorde by skole gaan wees voordat die “langtermyn-, waardegedrewe projek” resultate begin toon? Swak, Fedsas, baie swak! – Theo van Burick

Wie kry nog hul Tshwane- munisipale rekeninge in die pos? Ons kry die afgelope drie maande niks. Bel en e-pos help nie. Dienslewering is swak. Totsiens, DA. – Danie

Die regering moet begin om mense op te voed om hulle verpligtinge teenoor stadsrade na te kom. Sodra stadsrade stappe begin doen om skuld in te vorder, kom die inwoners in opstand en brand eiendom af. – Martie, Heidelberg

Solank die polisiediens bloot as ’n werkskepper ingespan word, sal dit net slegter gaan. Daar is volgens Beeld se hoofartikel tans ’n tekort van 60 000 lede. As die onbekwame personeel uitgewerk word, is daar heelwaarskynlik ’n tekort van ’n paar honderdduisend. Laat die poste met toegewyde, gedissiplineerde lede gevul word. – Pieter MG Meissenheimer

Zak Valentine

As die kinders met griepsimptome opgeneem is, hoekom het hul in die eerste plek ’n antibiotikum gekry? Griep word deur n’n virus veroorsaak en jy dien antibiotika toe vir bakteriese infeksies. Dokters en hospitale skryf te gou antibiotika voor en dis verkeerd. – Therina Schreuder

Gerhard Verdoorn se rubriek het my na trane gedryf. Om te dink die selfsugtige en arrogante mens is vinnig op pad om sy skrywe waar te laat word. – Inge, Florida

Swys de Bruin, baie dankie vir jou toewyding. Mag die toekoms vir jou baie mooi dinge inhou. Ons besef die geweldige druk en spanning wat jou pos ingehou het. Op die ou end is jou gesondheid al wat jy het. – Pierre van Aswegen

Ek het nogal gewonder wat sy gevoel was oor Rassie se woes-uitroep nou die dag. Swys is mos ’n uitgesproke man van die Woord en ek glo nie dit sou hom aanstaan nie. – Niho

Hoekom is daar geen mediadekking oor ons provinsiale o.21-rugby in die media nie? Die reeks is al by die uitspeelwedstryde. Ons sien ook op TV skolerugby tot vervelens toe, maar geen o.21-rugby nie. – Ertjies Vorster, Pretoria

Sal die sportskrywers asseblief ophou met hul verkleinwoordjies vir rugbyskole en name van Springbokke en krieketspelers, byvoorbeeld Polly vir Pollard. Dit gee my sooibrand. – Mia, Helderkruin

Meer oor:  Theuns Eloff  |  Sms  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.