Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Wat sê jy?
Pravin Gordhan

Vir die eerste keer begin ek twyfel in Pravin Gordhan. Die SAL misluk. Sy binnelandse kaartjies is duurder as ander lugdienste s’n. My belastinggeld word vermors op nog iets wat nie werk nie. Asb., mnr. Gordhan, verkoop die SAL. Ten minste sal daar dan ’n bydrae tot belasting gelewer word! – Hester, Pretoria

Hoekom moet ons die SAL ondersteun? Ons doen dit in elk geval al jare lank met belastinggeld. – Eli, eMalahleni

Die SAL is in die grond in bestuur deur onbevoegdes wat deur die regering aangestel is, maar nou vra die regering ons om kollektiewe verantwoordelikheid vir die SAL te aanvaar. – Arrie, Panorama

Staatshospitale funksioneer nie meer nie. In plaas van gesondheidsdienste regruk, wil die regering NGV instel. Waterbestuur is tot niet. In plaas van die departement regruk, wil Lindiwe Sisulu­ ’n nuwe departement stig. Skors eerder die ondoeltreffende topstruktuur en stel bekwame mense aan. – Moedeloos, Pretoria

Dis tyd dat Cyril Ramaphosa die bul by die horings pak en die vrot hout weggooi. Dit help nie om mense met ’n korrupte geskiedenis net rond te skuif nie, hulle verrot net die nuwe plek soos ’n vrot tamatie in ’n mandjie. – Ana van Centurion

Bheki Cele, ingevolge wetgewing is en bly wettige wapens wettig tensy daar onbevoegdheid is of mense sterf. Gaan soek eerder die onwettige wapens wat oral is! Hulle is die moordwapens. Kom by oor statistieke. – Ben, Centurion

Rivonia-brand: Die brandweerwa het sónder ’n sirene doodluiters in dieselfde pas as die verkeer in Rivoniaweg gery, by elke rooi verkeerslig stilgehou en eers verby die brandperseel gery en toe omgedraai. Hulle het nader aan 14:20 as die berigte 14:10 op die perseel aangekom. Watter leuens­ moet belastingbetalers nou nog verduur? – Jan

Prof. Jansen

Skandalig, prof. Jonathan­ Jansen! Ek woon meer as 1 000 km van Stellenbosch en is al telkemale deur daardie werknemer van die Protea Boekwinkel gehelp en van boekeraad bedien. Sy is uiters kundig en behulpsaam. U verdien geen respek vir daardie optrede nie. Ongelooflik. – Teleurgesteld, Mbombela

Pierre, as dit my boekwinkel was, sou ek nie eens Jansen se boeke na die agterste rakke verskuif het nie. Daar is baie bekende skrywers wat die ereplek verdien. – Sue, Krugersdorp

Ek dink Jonathan Jansen­ het oud geword, maar nie groot nie. Hy het homself ontmasker. Dis tragies. Om groot te wees moet jy klein wees. – Leser

Op die Dakar-konferensie in 1987 het Breyten Breytenbach geredeneer dit sal onaanvaarbaar wees as ’n minderheidsdiktatuur in die postapartheidsera deur ’n diktatuur van die meerderheid vervang word. Is sy vrese nie dalk bewaarheid nie? Twyfelaars kan met vrug George Orwell se futuristiese 1984 (geskryf in die 1930’s) en Fareed Zakaria se The Rise of Illiberal Democracy lees. – Denis Venter

“Ouers kry stank vir dank” in Mookgophong (02.12). Kan iemand in Golf Park dit asb. by die bestuur aanmeld vir optrede? – Danie, Pretoria

N.a.v. G.T. Robertson se brief oor inisiasie: Ja, hoeveel seuns en mans word teen hul wil en wete­ besny. Wanneer gaan dit ophou? Kan dokters dit nie op so ’n wyse doen dat dit later omgekeer kan word nie? – P., Pretoria

Breytenbach

Ek het Saterdagaand die voorreg gehad om Afrikaans is Groot saam met 1 500 boere by te woon danksy die borgskap van Laeveld Agrochem. Die vertoning was puik, maar die hoogtepunt was toe daar gevra is dat die boere moes opstaan en ek sien die trots, vasberadenheid en hoop op die boere se gesigte hier om my. Ek het gehuil, want ons almal weet van droogtes, swaarkry, onsekerheid – maar fier staan hulle daar. Dankie, boere. Ons salueer julle. – Ouma Illie

As KSA nie hou van die berigte wat deur joernaliste geskryf word nie, moet KSA nie aanleiding tot die berigte gee nie. – Willem, Centurion

Boer Hentie in Boer soek ’n vrou se ander naam: Nou wat nou? Is hy nou ’n kroek? – Sofie Primus-stofie

Dis darem nie vreemd dat iemand met ’n noemnaam later op sy doopnaam genoem word en só bekend word in sy omgewing nie. Dit gebeur oral. – Alida Schoultz

Boer Hentie

In my werkloopbaan is net my doop­name gebruik, behalwe as ek drooggemaak het. Dan het hulle ’n byvoeglike naam bygesit. John Scott

Dis net nog ’n bewys van die oppervlakkigheid van hierdie klug van ’n TV-werklikheidsreeks. – CL

Ja, daar is omtrent twee paartjies wat in al die jare actually getrou het. Die res sê mekaar nou nog sleg. – Koen Pretorius

Ek dink nogal weer dis ’n goeie, ligte vermaakprogram, om Suid-Afrikaners op te beur tussen al die doom en gloom. Hennie Pennie

My man het vir ons 45ste huweliksherdenking die wonderlikste geskenk gegee deurdat hy ingeteken het op die koerant sodat ek elke oggend my Beeld kan lees. Dit is ware liefde. Dankie, Dave. – Leser

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.