Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Wat sê jy?
David Mabuza

Die verdeeldheid in die ANC word groter en David Mabuza steek sy hand op as leier. Daar verdwyn alle ondersoeke na korrupsie soos mis voor die son en die skelms sit terug en doen so voort. Die idioom “ ’n stadige gans verloor sy kans” word van toepassing op pres. Ramaphosa. – Bets, Roodepoort

Wonder wat het die koek by die ANC se 108ste verjaarsdagviering gekos, wie daarvoor betaal het en wie almal geëet het. – Alida, Benoni

Die “verjaardagkoek” wat ANC-kaders op hul 108-verjaardagvieringe gedra het, lyk eerder na ’n doodskis! – Frikkie

Jabu Mabuza se bedanking by Eskom omrede hy nie sy belofte kon gestand hou nie, is prysenswaardig. Hy het ’n voorbeeld gestel wat ander ook hopelik sal volg. Pierre Conradie

Sal Eskom asseblief onthou om aan mnr. Jabu Mabuza sy goue handdruk te gee? Daar kan immers nie nou ’n swak voorbeeld gestel word nie. – Steyn

Pres. Cyril Ramaphosa kondig in Kimberley aan dat Eskom te groot is om te misluk en dit gaan ook nie geprivatiseer word nie. Meneer die president, Eskom misluk juis omdat hy te groot is en nie privatiseer nie. Jy dop die toets as gevolg van kaders en vakbonde! – Faan

Koos Kombuis

Nee wat, Koos Kombuis, jou artikel oor die ANC maak my nie skrik nie. Ek het in 1994, toe die ANC-tsoenami die land getref het, myself voorberei op die ondenkbare wat gaan volg. Jy is histories ’n liberalis. Ek wonder wat was die tien uitkomste wat jy op jou mou gedra het toe die ANC aan die bewind gekom het en hoe die party toe gevaar het gemeet aan daardie tien uitkomste. – Johan Brand, Germiston

Liewe Koos, ek het jou herhaalde waarskuwings geïgnoreer en jou hele rubriek gelees. Ek is so bly, want ek voel nou ek word weer gerespekteer. Jy spreek my immers as “u” aan. Ek het begin dink ’n gewone wetsgehoorsame burger word nie meer gewaardeer nie. – Elise

Koos Kombuis, hulle kannie, willie en sallie. – Naas in Brits

Die ANC gaan nog duur betaal vir die sondes en onvermoë van Jacob Zuma as regeringsleier. Maar intussen moet Jan Alleman die gelag betaal. – Joe

Carl Niehaus: Ek stel voor stig jou eie party onder ’n nuwe naam. Die ANC kan dalk kort voor lank jou ondergang inhou. – EsvanEs

Die departement van onderwys besef nie dat “verbeterde” uitslae en kinders met baie onderskeidings die gevolg van laer standaarde is nie. – Eli, eMalahleni

Deon Bekker, moet alles altyd in ’n vergelyking van rasse verander? Daar is swart kinders wat met BMW’s afgelaai word by skole. Net so wit kinders wat op hoewes bly en sukkel met vervoer. Werkende ouers kan nie stappende sewejariges vergesel nie, en dit is ’n misdadige land. – Alet, Middelburg

Branden Grace

Ruan van Heerden wat na bewering sy eie ouers so vermink het: Ek hoop hy kry 30 jaar tronkstraf. Dit is die dankie wat jy as ouer vir sy opvoeding kry. Dit is die jongmense wat die land se wa deur die drif moet trek, maar dwelms is mos hul medisyne. Daarmee kan niks vermag word nie. – Leon Ehrke, Krugersdorp

Suid-Afrika kan nie eens die ligte aanhou nie, maar wil vir Amerika voorskryf wat om te doen veral ten opsigte van Irak. Grappie. Luister, politici en luister mooi: Amerika is nie jou maatjie nie. En media, luister mooi: Donald Trump gaan die volgende verkiesing wen. Maak vrede daarmee en begin objektief berig. Dis net in julle eie belang. – Chris, Richardsbaai

Donald Trump en Barack Obama, Midde-Ooste, hommeltuigaanvalle. In Obama se aanvalle (542) het 3 797 mense gesterf. Trump is nog ’n vulletjie. – Leser

My innige, innige, innige meegevoel met klein Juané Greeff se gesin, familie en vriende. – Ben de Groen, Linden

Lekker om te sien hoe ’n Suid-Afrikaner die Suid-Afrikaanse Ope wen. Fantastiese laaste ronde gholf, Branden Grace. Puik oorwinning. – Joe

Angie Motshekga

Dit gebeur al hoe meer dat sportlui hulself wangedra op die sportveld, soos wat Engeland se vuilbek Jos Buttler onlangs teen Suid Afrika gedoen het, en dan sê hulle is jammer. Ek glo nie vir ’n oomblik dat die jammerte wat hulle uitspreek, opreg bedoel word nie. Dit is omdat druk op sulke onsportiewe spelers geplaas word dat hulle om verskoning vra. Dit kom nie opreg uit die hart uit nie. Hulle moet swaarder gestraf word. – Ben Wait

Liz, ek stem 100% saam met jou. Schalk Bezuidenhout sal volgens my ook nie die geskikte kandidaat wees om Boer soek ’n vrou aan te bied nie. Dalk is Leandie du Randt die regte kandidaat. – Irma

Oor Schalk Bezuidenhout vir Boer soek ’n vrou. Asseblief tog nie. Ek sal vir seker dan nie kyk nie. – Di, Centurion

Net nie Schalk vir Boer soek ’n vrou nie. Net ’n vrou met deernis en begrip vir die boere se behoeftes kan so ’n program aanbied. – Stoney, Pretoria

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.