
St. Lucia-meer
“Watervalle raas in Noord-Kaap” (13.01): Ek het in Boetsap grootgeword en ons het altyd ná baie reën gaan kyk na die skouspelagtige waterval daar naby. As ’n mens Reivilo agterstevoor skryf, kry jy Olivier. Dit is die stigter, mnr. Olivier, se van. – Edwill van Aarde, Mindalore
Danksy die bevelsraad kan ons nie my vrou se herstel van Covid-19 met ’n glasie wyn vier nie.– GvdL, Pretoria
’n Moeilike jaar wag op ons ekonomie en afgradering na die vlak wanbetaling staar ons in die gesig. Maar vir die regering is die SAL belangriker as om die skuld te betaal. – Danie Hamman, Garsfontein
Die verspreiding van die virus word hoofsaaklik gedryf deur taxi’s en busse – ook die styging in Gauteng. Maar strande word toegemaak en drankverkope gekeer. – Johan Botha, Pretoria
Dawie Jacobs, noudat jy Amerika se probleme opgelos het, fokus asseblief op ons eie land se uitdagings. – Herman
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens kan nie my belasting terugbetaal nie omdat hulle miljarde verloor weens die drankverbod. – Sam, Pretoria
Ek vra saam met Elize Tempelhoff (12.01) wie het die tender gekry om die mond van die St. Lucia-meer oop te stoot, waarskynlik strydig met ’n hooggeregshofbevel sowat vier jaar gelede? Skokkend! – Johan, Randburg

Drankverkope
Die groot les wat Donald Trump ons leer, is geen mens is so briljant as wat hy dink hy is nie. Nederigheid bly ’n edele eienskap. – Joe
Hullit van Krugersdorp, ek weet nie hoeveel babas jy al gevoed het nie, maar hulle het beslis nie jou ondervinding van babas verbreed nie. – Petra, Potchefstroom
Hullit, Krugersdorp, ek dink jy moet jouself eers op die hoogte bring van wat gebeur het. Die ouers was nie nalatig nie. Die polisie was oorgretig. – Jaccie Ellmann
Hullit, die baba is geborsvoed. Verstaan jy die proses of die probleme daarvan? – Alet, Middelburg
Marita, staatspensioentrekkers het in 2019 en 2020 verhogings gekry. – Johann Zietsman, Centurion
Joy van der Merwe, natuurlik staan daar in die Bybel dat ’n glimlag sy eie taal praat, soos volg: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.” Mense glimlag wel agter hul maskers, maar hul oë en stemme waarmee hulle groet, bewys hul vriendelikheid. – Leser, Pretoria
Ons het nog net uitstekende diens van Takealot gekry. Veral nou met die inperking gebruik ons hom gereeld en het nog nooit ’n probleem gehad nie. – M.M. Pretoria

Stanley
My hart huil vir Stanley, die bulterriër wat deur soveel mishandeling en pyn gegaan het. Dankie vir die Samaritaan van Atteridgeville, Pretoria, wat hom gehuisves en toe vir hom hulp gekry het. Gou gesond word, seuntjie. Daar buite wag iemand wat jou gaan lief hê en bederf. – Elize van der Merwe, Klerksdorp
Prof. Wilhelm Jordaan: mooi, mooi, mooi. – Leni
“Cyril sluit Beitbrug” (12.01): Nou kom almal van Zimbabwe deur die Limpoporivier en Patricia de Lille se draad. Dit gaan vinniger! – Jan Draadwerk
Die oudafrigters kon nie die swak toestand van Curriebeker-rugby beter verwoord het nie. Ek glo duisende rugbyliefhebbers stem 100% saam.– Gewese rugbyondersteuner
Ek sien Giniel de Villiers sukkel met pap bande in die Dakar-wedren. Het hy nog nie gehoor van die produk “No More Flats” nie? – Daan Scheepers