Oor prof. Amanda Gouws se artikel “Kapitalisme: Te veel of te min?” van 14 Januarie:
Prof. Gouws is hoogleraar in genderpolitiek aan die Universiteit Stellenbosch en ’n kampvegter vir vroue.
Sy verwys in haar skrywe na Chili, ’n land waar die neoliberale ekonomiese beleid van die Chicago-skool oënskynlik geweldige slegte gevolge gehad het. Ek volg dus haar voorbeeld.
In 1960 was Chili ’n arm land. Dit was veral vroue en kinders wat swaar gedra het aan die juk van armoede.
Vroue wat in 1960 in Chili gebore is, kon verwag om 60 jaar oud te word.
Vroue in Venezuela kon verwag om 61 jaar oud te word, en vroue in Argentinië 68 jaar.
Dit was nie net Chileense vroue wat jonger gesterf het nie, maar babasorg was uiters swak.
Altesaam 80 uit elke 1 000 babas wat in 1970 in Chili gebore is, het gesterf voordat hulle vyf jaar oud was. Die koers in Argentinië (72) en Venezuela (62) vir dieselfde jaar was beduidend laer.
Dus, as jy ’n vrou was en kon kies in watter Suid-Amerikaanse land jy in 1970 gebore wou word, sou Chili beslis nie jou keuse gewees het nie.
Kom ons spring 50 jaar vorentoe, nadat Gouws se verdoemende neoliberale kapitalisme in Chili posgevat het (maar nie in Argentinië of Venezuela nie).
In 2018 was die lewensverwagting vir vroue in Chili 82 jaar, teenoor 79 in Argentinië en 76 in Venezuela.
Net sewe Chileense babas uit elke 1 000 sterf voor die ouderdom van vyf, teenoor 10 in Argentinië en 25 in Venezuela.
Kortliks gestel: Die lot van vroue het beduidend verbeter in Chili teenoor ander Suid-Amerikaanse lande.
(Terloops, vir dié wat wonder oor die impak op die omgewing, CO2-emissies per capita is vandag steeds minder in Chili as in Argentinië of Venezuela.)
Gouws het dus ’n moeilike keuse om te maak.
Óf sy kan die deugde van kapitalisme verder ignoreer, maar daarmee saam ook erken dat die welstand van vroue eintlik nie vir haar ’n prioriteit is nie.
Óf sy kan haar keuse van leesstof verander, en met ’n oper gemoed ’n stelsel bestudeer wat vroue wêreldwyd die geleentheid op ’n beter lewe gegee het.
Watter een is dit, Prof?