Suid-Afrika staan ekonomies nou amper op sy knieë. Covid-19 het ’n aandeel daarin gehad, maar so ook epidemiese onbevoegdheid, wanbestuur, korrupsie en wanbesteding.
En wat doen die ANC-regering? Hy wil temaparke bou vir “alle standbeelde, simbole en monumente uit die apartheid- en koloniale era”. Bid jou aan. Wat gaan dit nie kos nie?
Gaan dit elke standbeeld, simbool of monument van of vir enigiemand of enigiets uit daardie era geld? En wie gaan bv. die talle klein en eenvoudige gedenktekentjies vir die simboliese ossewatrek van 1938 orals in die land verskuif? Waarheen? Hoe?
Wat van die Uniegebou, parlementsgebou en al die presidensiële ampswonings? Is hulle dan nie juis simbole van die koloniale en apartheidsera nie? Die Uniegebou is by uitstek die simbool van uniewording ten tyde van koloniale heerskappy en die parlement as instelling self is mos ’n koloniale erfenis.
Billikheidshalwe moet die reusestandbeeld voor die Pretoriase stadsaal van hoofman Tshwane, volgens sommige in elk geval ’n mitologiese figuur, dan ook temapark toe en moet die sterk simbool van die naam van die Koning Shaka-lughawe ook verander word. Dié twee dateer immers ook uit die koloniale era.
Dan is daar mos geen diskriminasie nie, mnr. Mthethwa en kie, of hoe?