Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Pieter du Toit: As iemand moet verstaan, is dit Afrikaners
Pieter du Toit

In Bloedbroers, Deon Opperman se nuutste televisiereeks oor die geskiedenis van die Afrikaner (Dinsdagaande op kykNET), speel Neels van Jaarsveld die karakter van Willem Pretorius, ’n Randse mynwerker tydens die Rebellie van 1914.

Willem is woedend. Hy werk teen ’n slaweloon vir Britse nyweraars terwyl sy pa sukkel om kop bo water te hou. Boonop wil niemand sy taal praat nie en verneder die Engelse kapitaliste hom en sy “vuil kitchen Dutch”. Hy’s gefrustreerd. Sy mense het die Vrede van Vereeniging en meeste van hul grond verloor en nou is hulle uit die ekonomiese hoofstroom van die Unie gesluit.

Hy háát die Engelse. Vir dit wat hulle aan sy mense in die oorlog gedoen het en vir die manier waarop hulle die Afrikaner nou behandel: geen erkenning, geen vooruitsig op ’n beter lewe nie. Die vasberadenheid en afsku loop so diep, dis nie ’n ruiker wat hy op sy pa se graf gaan sit nie, verklaar hy, “dis ’n vrye Afrikaner-republiek”.

Opperman se Willem het goeie rede gehad. Volgens Hermann Giliomee was talle Afrikaners toe heemloos en het hulle oor beperkte of amper geen vaardighede beskik nie. Baie – meestal vermoënde Engelssprekendes wat in beheer van die ekonomie was – het geglo armoede was vanweë Afrikaners se onvermoë om ’n gebrekkige ondernemingsgees en hul morele gebreke te oorkom.

Die tydperk ná die Anglo-Boereoorlog was traumaties, sê Giliomee in The Afrikaners: Biography of a People. Verstedeliking onder die Afrikaner het toegeneem, maar so ook werkloosheid omdat hulle nie beskik het oor die vaardighede wat ’n moderne ekonomie benodig nie. Boonop het niemand hul taal gepraat nie: “Hulle moes Engels praat, soos ’n verslane ras . . . hulle het gewerk vir lae lone; werkloosheid was erg: meeste wit bendes op straat het bestaan uit Afrikaner-boewe . . .”

Vir Afrikaners was “kapitalisme die vyand” en was dit “die geldkapitalis wat die werkers onderdruk”.

Die Carnegie-kommissie se ondersoek na die “armblankevraagstuk” het gelei tot ’n “volkskongres” in 1934. Dié byeenkoms het verskeie aanbevelings gedoen, waarvan die vernaamste was dat beter onderwys en opleiding die enigste manier is om mense uit armoede te lig. Volgens Giliomee het die kommissie baie gedoen om mites oor armes te besweer, soos een verslag wat arm Afrikaners uitgebeeld het as “onnosel, oneerlik, bedrieglik, onverantwoordelik en lusteloos.”

Daar is besef “armoede is nie armes se skuld nie, maar die gevolg van maatskaplike en ekonomiese prosesse waaroor hulle min beheer het”.

Die uitkoms was groter besteding aan opvoeding, sterker staatsinmenging by die ekonomie deur die Afrikaner-regering, die oprigting van volkseie instellings en die geïnstitusionaliseerde bevoordeling van Afrikaners.

As daar dus een groep is wat begrip moet hê vir die hedendaagse swart Willem Pretorius, die kwaai jongman wat eis dat CJ Rhodes en Blackie Swart se standbeelde moet waai, wat vir gratis onderrig mobiliseer en nie lus is om mooibroodjies met voormalige onderdrukkers te bak nie, dan is dit Afrikaners.

Dis waarom aksies deur organisasies wat die Afrikaner “verteenwoordig” en memorandums aan die presidensie oorhandig of kommentaar deur mense wat hierdie studente snedig berispe omdat hulle kampusse “afbrand” so grof misplaas en hopeloos uit voeling met die tydsgees is.

Jong swart studente se optrede is as gevolg ’n diepe frustrasie met en uitsluiting van ’n sosiale en ekonomiese orde waarin hulle en hul ouers geen aandeel in die vorming van gehad het nie; ’n orde waarin hulle nie welkom is nie en waarvan hulle weggekeer word. Of, soos Giliomee dit oor Afrikaner-armoede gestel het, “die gevolg van maatskaplike en ekonomiese prosesse waaroor hulle min beheer het”.

Soos die Afrikaner wat stede toe moes gaan op soek na ’n beter lewe – sonder kapitaal, opvoeding of vaardighede – moet die oorgrote meerderheid swart mense dit vandag nog doen. En voor daar geskrou word die regering het 21 jaar gehad om dit reg te kry, dié vraag: Waar was die Afrikaner 21 jaar ná 1902?

Dit is haas onvermydelik dat soos ons skeefgetrekte maatskaplike raamwerk nommerpas gemaak word daar kollaterale skade gaan wees. Ons oorgang na ’n demokrasie was vreedsaam, maar dit beteken nie daar gaan nie trillings op pad wees wat ons almal gaan voel nie. Vir die middelklas was die werkersklas se Marikana iets op sosiale media en die onderklas se diensleweringsbetogings in Malamulele ’n insetsel op televisienuus gewees.

#FeesMustFall het gewys hoe diep ons samelewing se maatskaplike weefsel beskadig is. En niemand weet beter as die Afrikaner hoe lank dit vat om daardie skade ongedaan te maak nie.

Kernstatistieke

¦ Die Carnegie-kommissie (1934) het bevind tot soveel as 17% van die Afrikaner-bevolking kon as “arm” geklassifiseer word.
¦ Die kommissie het verder bevind tot 25% van Afrikaner-kinders het ’n gebrekkige skoolopleiding gehad; daar het nie iets soos ’n akademiese kultuur bestaan nie.

¦ Volgens die nuutste syfers deur Statistieke Suid-Afrika is 29,7% van swart mense in die ouderdomsgroep van 15 tot 64 jaar oud werkloos; dit styg volgens die breë definisie tot 40,6%.

¦ Volgens dieselfde syfers is 7,2% van wit mense in dieselfde ouderdomsgroep werkloos; dit styg volgens die breë definisie tot 9,9%.

¦ Die grootste groep werkloses is in die ouderdomsgroep 25 en 34 jaar.

¦ Die meerderheid van hulle het ’n gedeelte van of net hoërskool voltooi.

¦ Onder werkloses woon net 0,02% een of ander verdere opleiding- of onderwysinstelling by.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.