Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Podsendings
Bokke soos geen ander . . .

Vandeesweek se twee podsendings van die reeks Bloed, sweet & modder dek twee van die mees geslaagde Bok-spanne in die geskiedenis. Ons gesels met Bun Booyens, een van die aanbieders.

Hennie Muller
Hennie Muller Foto: Getty Images

Jy bestempel die 1937-Springbokspan as een van die beste spanne tot nog toe. Op grond waarvan?

Kyk so daarna: In die meer as 50 jaar tussen 1903 en 1956 het die Springbokke nie ’n enkele toetsreeks, tuis of oorsee, verloor nie. Dit is ongeëwenaard in die geskiedenis van die spel, en daardie span van 1937 word boonop toe die eerste internasionale span om ’n toetsreeks in Nieu-Seeland te wen, die enigste Springbokspan nog wat dit kon regkry.

Die geheim van hul sukses?

Dis dalk ’n ongewone antwoord, maar die ’37-span kon goed toer. Hou in gedagte dit was destyds nie net ’n heen-en-weertjie wanneer jy oorsee gaan speel het nie, dit was as’t ware ’n ekspedisie van drie of vier maande. Jy het per skip soontoe gereis en moes dan meer as 20 wedstryde speel – Woensdag, Saterdag, Woensdag, Saterdag – met talle treinritte tussenin. Jy kon ook nie plaasvervangers van die huis af laat kom nie, want dit sou vyf of ses weke per skip neem. Die Springbokke van 1937 was veelsydig genoeg om al hierdie dinge te bowe te kom. Danie Craven moes byvoorbeeld agtsteman en losskakel speel. Boy Louw het in elke posisie in die pak voorspelers gespeel – stut, slot, flank, agtsteman en haker.

* LUISTER: Die podsending Bloed, sweet & modder 

Hul sterkpunt in die toetse?

Ek vermoed hulle het besef die All Blacks kan steeds nie behoorlik skrum nie, want hulle het eers vroeg in die 1930’s oorgeskakel van hul geliefde seweman-diamantformasie na die konvensionele agtmanskrum. Maar die All Blacks het nog nie die tegniek lekker onder die knie gehad nie; trouens, hulle het selfs nog 20 jaar later, in 1956, daarmee gesukkel.

Die All Blacks het die eerste toets redelik maklik gewen. Waar was die keerpunt in die ’37-reeks?

Ongetwyfeld net ná rustyd in die tweede toets. Die All Blacks het in die eerste helfte reeds twee drieë gedruk en met 6-0 voorgeloop. In hul geestesoog het hulle waarskynlik al gesien hoe ken Christchurch die vryheid van die stad aan hulle toe, want as hulle dié wedstryd sou wen, sou dit hul eerste reeksoorwinning oor die Springbokke wees. Die Springbokke het toe begin om die All Blacks flenters te skrum en met 13-6 gewen. Kyk gerus op YouTube na Freddy Turner se drie daardie dag op Lancaster Park. Die Springbokke was vasgepen naby hul eie doellyn en frommel toe die All Blacks se skrum op en stuur vir Turner weg. Die Kiwi’s het hom eers weer by die onthaal ingehaal, by wyse van spreke.

Vandaar dan ook die oud-Springbok Paul Roos se befaamde “Skrum Skrum Skrum”-telegram aan die span op die vooraand van die belissende derde toets?

Ek vermoed dit was nie bloot ’n wekroep nie, maar ewe veel taktiese advies, want in daardie dae kon jy kies tussen ’n lynstaan en ’n skrum wanneer jou opponente die bal uitgeskop het. Roos se raad was waarskynlik dat die Springbokke elke keer die skrum moes kies.

Die Springbokke het vyf drieë in daardie toets gedruk, moontlik omdat die Kiwi’s uit vrees vir die Suid-Afrikaners se skrum nie wou waag om die bal uit te skop nie. Dalk het hulle so die geleentheid geskep vir die Springbokke om met die bal te hardloop. Daardie pak slae het Kiwi-rugby tot in sy fondament geskud. Ek is nou ligsinnig, maar ek vermoed hulle was effens verlig toe die Tweede Wêreldoorlog kort daarná uitbreek.

Ná die oorlog: Waarom het die All Blacks van 1949 so gesukkel hier in Suid-Afrika?

Die eenvoudigste antwoord is waarskynlik dat hul heelagter, Bob Scott, in die toetse met amper al sy stelskoppe – ek dink 10 uit 13 – misluk het, terwyl Okey Geffin van die Springbokke weer baie goed geskop het. Die Springbokke het die reeks 4-0 gewen, maar al die toetse het net-net in ons guns gekantel. As Scott beter gekorrel het en as Nieu-Seeland toegelaat is om hul Maori-spelers saam te bring, was dit ’n ander storie. Oorhoofs was hul toerbestuur in 1949 egter nie waffers nie.

Wat spesifiek was swak?

’n Mens stap nou maklik oopoë in ’n sirkelredenasie in. As ’n span gewen het, dan sê jy dit was danksy goeie toerbestuur en as hulle verloor, was dit weens swak bestuur, maar ek dink die All Blacks se rugbybase het destyds ’n baie lomp toerprogram goedgekeur. Voor die eerste toets het hulle reeds wedstryde in al vier die destydse provinsies gespeel – en op die uithoeke, teen byvoorbeeld Grens en Oos-Transvaal.

Voor die tweede toets het hulle ’n draai in Rhodesië gaan gooi en was vir agt van die 12 dae op ’n trein. Dit was ’n baie goeie span, maar hulle kon net nie op dreef kom nie.

Die Springbokke se beste spelers in daardie reeks?

Hennie Muller, die agtsteman, is ongetwyfeld bo-aan my lysie. Ek vermoed die All Blacks was destyds so ingestel op kragspel dat hulle bloot nie geantisipeer het dat daar ’n speler met soveel vaart in die Springbokke se pak kon wees nie. Hulle kon geen teenvoeter vir hom uitdink nie.

Wat soms ook misgekyk word, is Muller se vermoë om die bal midde-in ’n duikslag by ’n opponent af te vat, amper soos hulle dit deesdae doen.

Dit was ook Danie Craven se eerste reeks as afrigter.

Ja, en hou in gedagte die Springbokke het weens die Tweede Wêreldoorlog basies vir ’n dekade geen toetsrugby gespeel nie. Daar was nie ’n kern vir Craven om mee te werk nie. Geen enkele speler van 1937 het oorgebly nie.

Dit is veral opvallend hoe gou Craven goeie kombinasies raakgesien het: die skakelpaar Hansie Brewis en Fonnie du Toit, die senterpaar Tjol Lategan en Ryk van Schoor. Dit is vir my asof die All Blacks eers ’n paar jaar later begin besef het hoe waardevol kombinasies kan wees.

Kleurryke karakters om uit te sonder?

Die introverte van daardie jare interesseer my nogal. Gerry Brand, die heelagter in 1937, was glo stil en ingetoë, met ’n amperse bonatuurlike kalmte onder druk. Die joernalis AC Parker, jare lank die sportskrywer vir The Cape Argus, sê hy kan nie onthou dat hy ooit gesien het dat Brand met ’n deurslaggewende stelskop misluk het nie. Die rekord vir die langste skepskop in die geskiedenis staan nog agter sy naam in die Guinness Book of Records – en dit met ’n swaar leerbal uit 1932.

In 1949 was die losskakel Hansie Brewis ook ’n effense enigma. Hy was glo nie lief om te oefen nie en was ook nie eintlik ’n “scholar of the game” nie, maar hy het nooit in ’n verloortoets gespeel nie. Een aand ná ’n belangrike Curriebekerwedstryd het Brewis homself verskoon en stil-stil gaan trou. Niemand, nie eens sy kamermaat en skakelmaat Fonnie du Toit, het daarvan geweet nie.

Die sterkste kenmerk van Springbokrugby in hierdie era?

Hulle het selde verloor! Hulle het sewe toetse teen die All Blacks in 1937 en 1949 gespeel en ses gewen. Ek het dit al ’n paar keer benadruk, maar daardie frase wat ’n mens deesdae so dikwels raaklees, naamlik dat die All Blacks “historically the dominant team in world rugby” is, is gewoon nie waar nie. Die eerste 50 jaar behoort aan die Springbokke.

Luister na episodes 3 en 4 van Netwerk24 se podsendingreeks. Bun Booyens en Marco Botha gesels môre oor die 1937-reeks en Donderdag oor dié van 1949


Meer oor:  Bun Booyens  |  Rugby  |  Bokke  |  Bloed  |  Podsendings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.