Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Podsendings
LUISTER: Daar ís blydskap in die grysskap!
Die Blydskap-projek

Daar ís blydskap in die grysskap, verduidelik Johannes de Villiers in die jongste episode van Die Blydskap-projek. Luister saam om uit te vind wat die geheim van gelukkig oudword is.

Ek was 35 jaar oud toe ek dit die eerste keer oorgekom het. ’n Mens vergeet daai dag nooit.

Ek het die oggend niksvermoedend opgestaan, my tande geborsel, netjies aangetrek.

Ek moes die Universiteit van Pretoria besoek. Dis waar dit gebeur het. Op die plein voor die universiteitsbiblioteek se ingang. Daar waar al die mure van rooi baksteen gemaak is.

Dis een van die belangrike oorgange in ’n mens se lewe, so ek onthou daai Hoëveldse wintersoggend byna fotografies, al was dit tien jaar gelede.

’n Jong meisie het van voor aangestap. Sy het jeans gedra, en ’n pers truitjie. Haar hare was in ’n poniestert. Sy het sonder ooglopende rede geglimlag, my amper eerbiedig aangekyk. En toe sê sy dit.

“Môre, Oom!”

Johannes de Villiers.
Johannes de Villiers.

Asof dit die normaalste ding op aarde is.

Meteens was ek ’n oom.

Ek het daardie aand van naby in die spieël gekyk en die grys hare in my baard die eerste keer opgelet.

“Ai, Oom,” het ek vir myself gesug.

Sedertdien drink ek Diet Coke eerder as Coke en flos ek my tande. Ek het daardie dag besef ek loop die gevaar om ’n pens en vals tande te kry.

Kan jy onthou waar jy was toe jy die eerste keer “Oom” of “Tannie” genoem is?

Dis oukei as ’n kindjie jou dit noem, maar dis anders as ’n jong volwassene jou so aanspreek.

Party mense weier om dit te aanvaar. Hulle sê goed soos “Ek is niemand se Tannie nie” of “Is ek miskien met jou oom getroud?” Hulle dring daarop aan dat jong mense hulle op hul voorname aanspreek. Dit self is effens pateties. Ou mense wat aandring dat jy hulle op jou voornaam noem, is ’n bietjie soos ou mans wat hul hemde te laag oopknoop of ouer vroue wat by hul seuns se mansvriende aanlê as hulle ’n drankie te veel in het. Mens wil jou hand om hul skouer sit en hulle vertel die tyd het aangebreek om waardig aan te beweeg.

Onlangs moes ek vir werk deur al die ou Huisgenote vanaf 1916 tot 2016 lees. Dit was opvallend hoe mooi Afrikaanse mense in die ou dae oor die ouer geslag gepraat het.

Hulle het ’n enorme klomp woorde vir ouer mense gehad - “oom”, “tannie”, “grysaard”, “oue”. Dit was nooit smalend bedoel nie.

Soms is foto’s in ou tydskrifte geplaas van ’n ou man met ’n baard wat tot by sy gordel hang, ’n wilde kyk in sy oë en dan is hy respekvol as ’n “oudstryder” (oorlewende van die Anglo-Boereoorlog) beskou. Soms is ouer vroue in kombuisrokke, met grys bollas, sonder ironie as ’n “volksmoeder” beskryf.

Dis opvallend dat Engels nie woorde soos “oom” en “tannie” het nie. Hulle het “sir” en “madam”, maar dit kan nie gelyk ontsag en respek uitdruk soos wat Afrikaans kan nie. Ons voorgeslagte was meer soos die Japannese en Chinese wat byna van ontsag begin fluister as hulle oor ou mense praat.

Navorsing deur positiewe sielkundiges het al getoon in kulture (soos China en Japan) waar mense meer respekvol oor ouderdom praat, kry ou mense minder geheueverlies en demensie. As ons die ouderdom as ’n seën beskou, raak ons blykbaar ook gesonder oud.

Ek wonder: kan ons weer soos in die ou dae die aanspreekvorme “Oom” en “Tannie” as ’n kompliment beskou? Ek vermoed as ons dit doen, gaan ons nie net meer waardig in ons ou dae wees nie, maar ook gesonder.

Vandeesweek gesels ons in die Blydskap-projek oor hoe om tevrede oud te word.

Wat is ’n podsending?

’n Podsending is soos ’n radioprogram waarna jy aanlyn kan luister.

LUISTER NA EPISODE 1

In die eerste aflewering van die Blydskap-projek vertel Johannes de Villiers van die klein aanpassings wat jy kan maak om jou lewe met ’n bietjie meer vreugde te vul.

LUISTER NA EPISODE 2

In die jongste aflewering van die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers oor die kuns van mindfulness en hoe om jou “vriende” elke dag rondom jou raak te sien.

LUISTER NA EPISODE 3

In dié aflewering van die Blydskap-projek, vra Johannes de Villiers: Is enkellopendes régtig ongelukkiger?

LUISTER EPISODE 4

In dié aflewering van Die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers met Ivor Price oor die mag van vriendelikheid.

LUISTER NA EPISODE 5

In die jongste aflewering van Netwerk24 se podsending, Die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers oor praktiese wenke om gelukkig te bly as ander mense storms in jou lewe veroorsaak.


Meer oor De Villiers se nuwe boek

“Dit help nie jy wag totdat jou lewe perfek is voordat jy jouself blydskap gun nie. Maak nóú ruimte vir blydskap, kom tuis in jou vel ongeag waar jy in jou lewe is. En kyk dan hoe dinge in plek begin val.”

Lewensvreugde is moontlik vir elkeen. Met praktiese wenke – van meditasie tot stappies in die buitelug – en raad deur kenners wys hierdie boek hoe dinge soos leefstyl, ouderdom, huwelikstatus, inkomste en selfs jou hond jou luim beïnvloed. Johannes de Villiers, ’n kenner van meditasie en mindfulness, het vreugdevolle mense op onverwagse plekke gaan opsoek – in kloosters, in ’n voormalige oorlogsone, in ’n Suid­Afrikaanse tronk – en dié mense gevra hoe hulle dit regkry om gelukkig te wees. Elkeen kon ’n blyer blik op die lewe aanleer: Jy kan ook.

“’n Wekroep tot deernis, stilte én aksie … Hierdie boek kan werklik jou lewe verander.” – Erns Grundling

Wil jy die boek koop?

Blydskap - Mindfulness-wenke vir ‘n vreugdevolle lewe is teen R275 by alle goeie boekwinkels te koop.

Lesers kan dit ook aanlyn by TakeAlotUpper Case BooksExclusive Books en Loot koop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.