Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Podsendings
LUISTER: Die laaste sien van Harry en Meghan as koninklikes

Koninklike knieknik
In die eerste aflewering van Netwerk24 se podsending Koninklike Knieknik praat Arlene Prinsloo oor Harry en Meghan en hul besluit om hul lewens as koninklikes agter te laat.

Om van jou familie af weg te stap, kan nie maklik wees nie. En dit is wat die wêreld se gunsteling-rooikopprins nou doen.

Weg van seker een van die bekendste én mees disfunksionele families ter wêreld – eeue oud met vele intriges en skandale, en “toksies”, soos Harry se vrou, Meghan, dit glo aan vriende beskryf het.

Van die toksies weet ek nie, maar op die oog af is dit ’n familie waar plig teenoor die monarg en Brittanje allesoorheersend is. Tesame met natuurlik die behoud van dié instelling.

Die blaam vir Megxit kan nie net voor die Amerikaanse Meghan gelê word nie. Dit sou Harry reduseer tot ’n randfiguur in ’n trans-Atlantiese liefdesverhaal wat nie net Amerika en Brittanje nie, maar die wêreld se aandag getrek het.

Arlene Prinsloo
Arlene Prinsloo

’n Smoorverliefde Harry en Meghan het skaars ’n maand ná hul toe-oë-afspraak onder die sterrehemel van Botswana al hul lewenspad saam beplan.

Vir Meghan moes al die reëls en regulasies in die paleis versmorend gewees het. Sy het haar loopbaan, haar geboorteland en haar aangenome stad agtergelaat om ’n toekoms saam met prins Charles en Diana se jongste seun te bou. ’n Seun wat nou as volwassene steeds bitter swaar dra aan Diana se erflating – ikonies, beeldskoon, enigmaties en bowenal, die media se liefling . . . selfs ná haar dood. Harry is net soos Diana hardkoppig, eiewys en emosioneel.

Harry is naas sy ouma, koningin Elizabeth, die gewildste koninklike in Brittanje. Met sy boyish charm en gul glimlag is hy wêreldwyd ’n soort rockster-prins. Voeg daarby ’n glansaktrise met ’n rollende Kanadese aksent, gitswart hare en ’n glimlag wat enige droewige dag sal opkikker, en jy het ’n glanspaartjie wat ewe tuis is op ’n rooi tapyt as ’n grasveld in Afrika waar hulle olifante probeer beskerm.

Harry se troue was die begin van sy einde as koninklike. Net soos prins Edward VII is sy liefde vir sy vrou en eersteling so groot dat hy nou sy groter familie op die altaar plaas.

Die verwoestende aanvalle op sy vrou in die Britse poniepers moes al die herinneringe van sy moeilike kinderjare weer na die oppervlak laat kom het. Hoe sy ma met hom en William op die agterste sitplek vir steelfotograwe in Londen wegjaag, hoe hulle nie eens ’n skivakansie of eilandvakansie kon geniet sonder die alewige lense nie.

LEES OOK: Harry en Meghan bitter oor hulle ont-‘royal’ is

Vir Harry, wat sy ma op 12 verloor het, het alles eenvoudig te veel geword. Hy en Meghan sou saam beplan het aan ’n toekoms waar Sussex Royal op hul manier die wêreld ’n beter plek sou kon maak – net soos wat Diana wou gedoen het.

Nou, in die doodsnikke van sy loopbaan as senior koninklike, sal Harry nog minder lus wees vir die media.

Al weet Harry sy ouma en pa sal hom met ope arms terug in die spreekwoordelike boesem van die familie verwelkom, sal hy vasbeslote wees om uiteindelik sy grootste wens – om normaal te wees – te laat waar word. Vir Meghan sal die volgende week dalk die grootste rol wees wat sy ooit sal vertolk. To keep calm and carry on. En in haar geval met ’n glimlag.

  • Luister elke maand na ’n nuwe aflewering van Netwerk24 se podsending Koninklike Knieknik.

Arlene Prinsloo, webredakteur van Netwerk24 en kenner van alles koninklik. Sy was ’n joernalis vir Beeld, ’n uitlegkunstenaar by BeeldDie Burger en Rapport het daarna haar loopbaan in die digitale nuuswêreld begin as webredakteur van Netwerk24.

Arlene is Suid-Afrika se voorste kenner van die koninklikes en skryf gereeld berigte en rubrieke oor die koninklike familie vir Netwerk24. Sy het ook Engeland toe gevlieg om in die skare te staan vir prinses Diana se begrafnis, asook vir die troues van prins Harry en prins William.

Hou jy van podsendings?

Die Blydskap-projek

Luister ook na Johannes de Villiers se podsending, Die Blydskap-projek, waar hy Netwerk24 se lesers leer om hul lewe met ’n bietjie meer vreugde te vul. Klik hier om na episode 1 te luister.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.