Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Podsendings
LUISTER: Die prins en die seksskandaal

Koninklike knieknik
Prins Andrew het in die binnekamers van die superryk én veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein gekuier. Wat presies weet Andrew en hoekom wil hy nie praat nie? In die jongste aflewering van Netwerk24 se podsending, Koninklike Knieknik, vertel Arlene Prinsloo meer.

Vir die aantreklike én enkellopende Andrew was sy vriendskap met die gryskop Epstein een wat die deure na Amerika se top-sakemanne oopgemaak het. Dit was ’n verhouding wat wedersyds gewerk het.

Maar hoeveel het die twee regtig gedeel? En hoe onoplettend moes Andrew gewees het om nie snaaks te dink oor die stringe jong meisies wat so om sy “vriend” saamgedrom het nie?

Die 60-jarige Andrew, op sy dag ’n tipe van prins Harry met ’n indrukwekkende rekord as helikoptervlieënier, het in die jare ná sy troue en egskeiding van Sarah Ferguson bykans so irrelevant op die koninklike verhoog geraak dat sy lus na geld – en baie daarvan – hom in die kloue van die stinkryk Epstein laat beland het. Maar nee, Andrew is allermins ’n slagoffer. Dalk eerder ’n slagoffer van sy eie onvermoë en selfbeheptheid.

Andrew moes as die prins sonder ’n koninkryk sy eie paadjie uitkap. Ná sy loopbaan in die Britse vloot het hy ’n tipe van reisende handelsambassadeur vir Brittanje geword. Hy is Airmiles Andy in die Britse media gedoop, omdat sy lus vir rondflenter sonder om ’n sent op te dok welbekend was.

Arlene Prinsloo
Arlene Prinsloo

Sakemanne met diep, diep sakke was sy vriende. En as ’n tipe van koppelaar tussen sakemanne en sakegeleenthede is die prins mildelik vir sy dienste vergoed.

Toe stel sy goeie vriendin Ghislaine Maxwell hom voor aan Jeffrey Epstein. Dit is die vroeë jare negentig en die wêreld was ’n ander plek. Die term sexual grooming het ook nog nie bestaan nie.

Epstein het meisies, kinders van so jonk as twaalf, na sy herehuise gelok met beloftes van geld of studiebeurse. Eers is die meisies gevra om hom te masseer en daarna het skokkende verkragtings glo gevolg.

Die meisies, uit minder gegoede huise en gretig om hul lot in die wêreld te verbeter, was die perfekte prooi. Een meisie nooi ander meisies na Epstein se huis toe. Een vertel dat hulle sommer saam met Ghislaine op straat ander meisies voorgekeer het. ’n Tipe sekspiramideskema.

Virginia Roberts is een van dié meisies, die enigste een wat sê sy het met Andrew seks gehad. Nie net een keer nie, maar drie keer. Bloot omdat Epstein gesê het sy moet dieselfde vir Andrew doen as vir hom.

Dit is eers jare later wat Virginia, nou 36, begin praat. Dit is ook belangrik om te onthou dat Virginia nie die media opgesoek het nie. Dit was ’n Britse poniekoerant wat hul bloedhonde op die Andrew-Epstein-spoor gesit en by Virginia se huis in Australië aangeklop het.

So wat het Andrew gedoen elke keer wanneer hy en Epstein saamgekuier het? Volgens mense wat Epstein se luukse wonings van binne gesien het, het hy ’n voorliefde gehad vir seksueel eksplisiete foto’s teen sy mure. Het dit Andrew nie ongemaklik laat voel nie?

Was dit nie vir Andrew vreemd toe hy as 40-jarige man aan die 17-jarige Virginia voorgestel is en later die aand – dit is haar bewering – met haar seks gehad het nie?

Was Andrew regtig so dom om te dink dat die Amerikaanse miljoenêr se voorliefde vir bitter jong meisies onskuldige pret was? Of was die bubble waarin Andrew geleef het so groot dat hy gedink het hy is onaantasbaar?

Dat Virginia 17 was toe sy Andrew ontmoet (en volgens haar) met hom seks gehad het, wys hoe siek Epstein se wêreld was. Nie net het Epstein sy eie harem seksslawe tot sy beskikking gehad nie, maar hy het ook graag sy speelgoed met sy vriende gedeel. En Andrew was ook nie Epstein se enigste bekende vriend nie.

Epstein, te glibberig om vervolging te ontduik en met te veel magtige vriende, kan in 2008 nie die gereg systap nie, en beland agter tralies omdat hy ’n minderjarige uitgelok het om seks te hê.

Tog, dit skrik Andrew geensins af nie.

Die twee se vriendskap is so heg – of moet dit nou wees dat Epstein se houvas op Andrew so stewig is – dat Andrew van Londen na New York vlieg om vir Epstein te sê hulle kan nie meer vriende wees nie. Andrew se verskoning, toe hy in November verlede jaar die kans gehad het om in ’n TV-onderhoud sy kant van die saak te stel, was om te sê hy is die tipe mens wat sulke goed persoonlik doen.

Min wetend vir Andrew word hy tydens dié besoek in 2010 afgeneem waar hy en Epstein in ’n park stap. Die Britse pers was op hul agtervoete. Die koningin moes swig en Andrew se handelsambassadeurspos is van hom wegneem. Kort daarna het sy hom egter met een van haar eie eerbewyse vereer vir sy jare lange diens aan Brittanje.

Maar Epstein is soos ’n muishond met sy ondraaglike stank. Toe hy verlede jaar, verhoorafwagtend, dié keer weens die beweerde bedryf van sekshandel met minderjariges in die tronk beland, bestee hy glo bykans die hele dag met sy regspan.

Uiteindelik neem hy sy lewe, en los Andrew met die spreekwoordelike sak patats.

Nou soek almal antwoorde by Andrew. Dié staan ’n TV-onderhoud toe. Die selfvoldane Andrew het nie ses woorde te sê vir Epstein se slagoffers nie.

Op die een datum wat Virginia sê hulle seks gehad het, sê Andrew dit is onmoontlik omdat hy sy een dogter glo na partytjie in ’n Pizza Express in Londen geneem het.

Hoe Andrew nog ná die onderhoud kon sê hy dink die onderhoud het goed afgeloop, wys bloot in watter wonderwêreld hy leef. Stel jou sy gesig voor toe sy ouer broer, prins Charles, hom voor sy laaste uitweg gestel het: tree af as senior koninklike!

Skaars ’n week ná dié onderhoud is dit Virginia se beurt. Sy is kalm, beredeneerd en staan by haar punt. Hule het drie keer seks gehad. En klaar.

Nou gaan Virginia weer praat. Dié keer in Netflix se dokumentêr Jeffrey Epstein: Filthy Rich, gebaseer op die misdaadskrywer James Patterson se boek.

Nou as dié boek Andrew nie laat sidder nie, dan weet ek nie. Patterson en die ondersoekende joernalis John Connolly het Epstein se spoor gevat en ’n deeglike stukkie werk gedoen.

Wat gaan Virginia sê wat sy nog nie gesê het nie, en belangriker nog, gaan Andrew wéér niks sê nie?

Sy traagheid om met Amerikaanse ondersoekers te werk laat meer vrae as antwoorde.

Sy Koninklike Hoogheid, wat wil jy nie sê nie? Of is jy bang dat jy op een van die vele kameras in Epstein se huis in flagrante vasgevang is?

  • Luister elke maand na ’n nuwe aflewering van Netwerk24 se podsending Koninklike Knieknik.

Arlene Prinsloo, webredakteur van Netwerk24 en kenner van alles koninklik. Sy was ’n joernalis vir Beeld, ’n uitlegkunstenaar by BeeldDie Burger en Rapport het daarna haar loopbaan in die digitale nuuswêreld begin as webredakteur van Netwerk24.

Arlene is Suid-Afrika se voorste kenner van die koninklikes en skryf gereeld berigte en rubrieke oor die koninklike familie vir Netwerk24. Sy het ook Engeland toe gevlieg om in die skare te staan vir prinses Diana se begrafnis, asook vir die troues van prins Harry en prins William.

Luister ook: Die doodsnikke van Harry en Meghan

In die eerste aflewering van Netwerk24 se podsending Koninklike Knieknik praat Arlene Prinsloo oor Harry en Meghan en hul besluit om hul lewens as koninklikes agter te laat.

Hou jy van podsendings?

Luister ook na Johannes de Villiers se podsending, Die Blydskap-projek, waar hy Netwerk24 se lesers leer om hul lewe met ’n bietjie meer vreugde te vul.

LUISTER NA EPISODE 1

In die eerste aflewering van die Blydskap-projek vertel Johannes de Villiers van die klein aanpassings wat jy kan maak om jou lewe met ’n bietjie meer vreugde te vul.

LUISTER NA EPISODE 2

In die jongste aflewering van die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers oor die kuns van mindfulness en hoe om jou “vriende” elke dag rondom jou raak te sien.

LUISTER NA EPISODE 3

In dié aflewering van die Blydskap-projek, vra Johannes de Villiers: Is enkellopendes régtig ongelukkiger?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.