Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Podsendings
LUISTER: 'Harry en Meghan maak dieselfde foute as Diana'

Koninklike knieknik

Met ’n hofsaak én twee boeke oor hul lewe wat binnekort verskyn, is Harry en Meghan se nuwe lewe allesbehalwe privaat. In dié aflewering van Netwerk24 se podsending Koninklike Knieknik verduidelik Arlene Prinsloo waarom sy dink hulle is besig om dieselfde foute as prinses Diana te maak.

Wat gaan Meghan en Harry onthul?

Kyk, soveel drama het ek laas met Charles en Diana se War of the Waleses gesien!

Net toe ek ’n sug van verligting kon gee oor al die Harry-en-Meghan-drama met hulle nou veilig in LA, kom die nuus – twee koninklike skrywers het ’n boek oor die paartjie geskryf. En hoor die titel? Finding Freedom, Harry and Meghan and the Making of A Modern Royal Family . . .

Dit herinner nogal aan Diana, Her True Story, destyds, oor Harry se ma. Ná haar dood het Andrew Morton onthul Diana het, soos baie vermoed het, haar samewerking met die boek gegee.

Omid Scobie en Carolyn Durand gaan nou Harry en Meghan se kant van die saak stel – met die paartjie se goedkeuring en onderhoude wat toegestaan is voordat hulle die pad gevat het oor die waters, eers na Kanada en toe na Amerika.

Arlene Prinsloo
Arlene Prinsloo

Nou kyk, Omid word in sekere kringe al lank beskou as ’n skrywer – ek gebruik spesifiek nie die woord “joernalis” nie – wat eintlik as ’n spreekbuis vir die Sussexe se brose ego’s dien. Vele stories, ekskuus “scoops’’ is na Omid se kant toe gegooi. Hy was byvoorbeeld een van die min wat met die brokkie vertrou is dat Harry en Meghan die koningin met haar onlangse verjaarsdag op ’n video-oproep gebel het.

Maar wat gaan die twee sê? Hulle het mos al gekla dat die manne in grys – die paleisamptenare wat die werking van die monargie en die paleis ken en as raadgewers dien – nie ontvanklik was vir planne om die monargie te moderniseer nie. Klink dit ook bekend? Ja, jy het dit al vantevore gehoor. Uit Diana se mond.

Ek vermoed hulle gaan uitpraat oor die teenstand wat hulle gekry het om die monargie met twee voete ferm in die 21ste eeu te plaas, oor lede van die breër koninklike familie wat net nie vat aan Meghan kon kry nie – sy was immers voorheen getroud en geskei, ’n aktrise en boonop van gemengde afkoms. Al het die koningin haar met ope arms ontvang, het nie almal in die familie die koningin se voorbeeld gevolg nie.

Harry gaan vir seker weer sy kindertrauma aanvoer vir sy – mag ek dit maar so noem – grasielose buiging uit die koninklike familie.

Ek vermoed hulle gaan ook hul kant stel oor al die – soos hulle dit noem – onwaarhede in die poniepers wat as feite opgedis en dan wêreldwyd herkou en weer aangebied word.

Paleismure het ore, want daar is ’n string mense om die koninklikes – skoonmakers, sekretaresses, kokke, raadgewers.

Dit verklaar waar al die stories oor Meghan so vyf maande ná hul troue tussen die paleismure begin uitsyfer het. Onthou, hulle het toe nog in ’n kothuis op Kensingtonpaleis se gronde gebly en was veronderstel om in die wooneenheid langs William en Kate in te trek.

Meghan is moeilik, sy staan vroegoggend op en bombardeer haar personeel met e-posse oor die visie van wat sy met haar werk wil bereik, die drama oor watter tiara sy op haar troudag gaan dra en die muwwe reuk van die St. George-kapel.

Waar dink jy het al die stories vandaan gekom oor Diana wat in die Kensingtonpaleis se tuine 20 min lank met ’n boemelaar gesels het of wat in ’n bofbalpet en ou klere sonder haar veiligheidspersoneel in die park kon rondloop?

Die personeel praat, veral as hulle sleg behandel word.

Onsigbare personeel het ore en oë en ’n onder-die-tafel-tjekkie van ’n poniekoerant kan net hul salaris aanvul.

Prins Harry en Meghan, die hertog en hertogin van Sussex. Foto: Getty Images

Wil ek regtig lees dat Meghan nie die bynaam Duchess Difficult of Diana Light verdien het nie? Beslis ja, ek is heeltemal te nuuskierig.

Ek sien eintlik nogal uit na die boek omdat ek H&M ’n regverdige kans wil gee om uit hul hoek in die bokskryt te kom. Maar is dit wys? Nee, beslis nie.

Leer Harry nie uit sy ma se samewerking met Andrew Morton nie?

Nie net is daar dié boek nie. Ewe sappig is die hofsaak wat tans aan die gang is – Markle vs. Markle – ag ekskuus, ek bedoel H&M se regsgeding teen Mail on Sunday oor dié Sondagkoerant ’n brief van Meghan aan haar pa, Thomas Markle, gepubliseer het.

Sy meen Mail on Sunday het haar outeursreg geskend deur dele van die brief te publiseer.

Vrydag het die regter Mail on Sunday se aansoek toegestaan om dele van Meghan se regsgeding as irrelevant te skrap omdat dit nie tot die hart van die saak spreek nie – die skending van Meghan se outeursreg. Al het poniekoerante dié bevinding as ’n terugslag vir Meghan beskryf, gaan die hofsaak voort.

Einste Omid het egter jare gelede op die Amerikaanse oggendprogram Good Morning America gesê Meghan het geweet haar pa gaan die brief uitlek, want dit is wat hy doen.

Dis egter nie te sê dat die regter Omid se woorde vir soetkoek gaan opeet nie.

Gaan pa en dogter teen mekaar getuig? Ja, beslis.

Is die hofsaak H&M se manier om die praatsieke Thomas se mond te snoer?

Kom ek praat vinnig oor Thomas, wat op aandrang van Meghan se giftige halfsuster, Samantha, besluit het om saam met ’n steelfotograaf te werk en homself in ’n beter lig in die media te stel.

H&M het hom vergewe, blyk uit selfoonrekords wat verlede week deel van die hofrekord geword het, en Thomas sou steeds sy dogter die kapel inbring vir haar troue.

Toe word Thomas siek en volgens die selfoonrekords antwoord hy nie op Meghan se boodskappe nie. Sy hoor via die skinderwebwerf TMZ dat haar pa in die hospitaal is.

Pappa Markle bly in Amerika en Meghan stap alleen die trappe van die kapel op.

In die selfoonrekords het dit ook uitgekom dat H&M glad nie vir Thomas vir die wolwe gegooi het soos talle poniekoerante berig het nie. Daar is mense gestuur om hom te help, ook veiligheidspersoneel om die snuffelende media van hom af weg te hou.

Is dit waar dat hulle vir Thomas gesê het waar hulle kwansuis hul wittebrood gaan deurbring en dat dié ook by TMZ beland het? As jy my vra – já. Kom ons sien of die boek gaan bewys ek is reg.

Die storie oor Duchess Difficult en Diana Light word ook weer opgewarm in nóg ’n nuwe boek wat op 15 Mei op die rakke is – Kensington Palace: An Intimate Memoir from Queen Mary to Meghan Markle deur Thomas Quinn.

Tussen die brokkies oor Diana wat bostukloos op haar daktuin gelê het, word die storie herhaal dat Meghan op een van Kate se personeellede geskreeu het. Die storie loop al jare.

Kate en Meghan se ysige verhouding was so erg dat die broers mekaar alleen gesien het.

Die Sussexe het ook besluit om nie langs die Cambridges in die Kensingtonpaleis in te trek nie, maar Windsor toe (met minder ore wat kan hoor), en toe ook hul eie koninklike stigting begin.

Hoe hartseer dat Diana se seuns met ’n hele oseaan tussen hulle sit nadat sy graag wou hê hulle moes altyd daar vir mekaar wees.

Ek weet Meghan se behandeling in die poniepers was iets allerverskrikliks, maar die boek van hul rasieleiers Scobie en Durand is na my mening ’n publisiteitsfoefie wat H&M net nog meer aan die media gaan uitlewer.

’n Megaster met goeie bedoelings soos om kospakkies uit te deel daar waar kringtelevisiekameras hulle kan afneem, gaan maar sukkel om Harry Publiek en Meghan Publiek te wees.

Die tweetjies is goed op pad om dieselfde pad as Diana te loop. Hopelik sonder Diana se tragiese einde.

  • Kyk binnekort uit vir ’n nuwe aflewering van Netwerk24 se podsending Koninklike Knieknik.

Arlene Prinsloo is 'n webredakteur by Netwerk24 en 'n kenner van alles koninklik. Sy was ’n joernalis vir Beeld, ’n uitlegkunstenaar by BeeldDie Burger en Rapport en het daarna haar loopbaan in die digitale nuuswêreld begin as webredakteur van Netwerk24.

Arlene is Suid-Afrika se voorste kenner van die koninklikes en skryf gereeld berigte en rubrieke oor die koninklike familie vir Netwerk24. Sy het Brittanje toe gevlieg vir prinses Diana se begrafnis, asook vir die troues van prins Harry en prins William.

Luister ook: Hiep-hiep-hoera aan Lizbeth en kie!

Koningin Elizabeth vier Dinsdag haar 94ste verjaarsdag. Arlene Prinsloo kyk na hoe dié monarg haar verjaarsdag te midde van die koronapandemie gaan vier en watter ander koninklikes in Europa ook onlangs kersies uitgeblaas het.

Luister ook: Totsiens, maar nie vaarwel vir Harry en Meghan

Dis totsiens, maar nie vaarwel nie vir Harry en Meghan wat vandeesweek amptelik van hul pligte as koninklikes weggestap het. In dié aflewering van Koninklike Knieknik kyk Arlene Prinsloo terug na al die draaie wat hul verhouding al geloop het en die toekoms in Los Angeles wat op dié twee wag.

Luister ook: Wanneer gaan die koningin haar stilte oor Covid-19 verbreek?

Covid-19 het die koninklike familie getref nadat prins Charles positief vir die virus getoets is. In die jongste aflewering van Netwerk24 se podsending, Koninklike Knieknik, vra Arlene Prinsloo: Wanneer gaan die koningin haar stilte oor dié dodelike pandemie verbreek?

Luister ook: Die prins en die seksskandaal

Prins Andrew het in die binnekamers van die superryk én veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein gekuier. Wat presies weet Andrew en hoekom wil hy nie praat nie? In die jongste aflewering van Netwerk24 se podsending, Koninklike Knieknik, vertel Arlene Prinsloo meer.

Luister ook: Die doodsnikke van Harry en Meghan

In die eerste aflewering van Netwerk24 se podsending Koninklike Knieknik praat Arlene Prinsloo oor Harry en Meghan en hul besluit om hul lewens as koninklikes agter te laat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.