Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Podsendings
LUISTER: Help! Ek is omring deur p**ph***e!
Die Blydskap-projek

In die jongste aflewering van Netwerk24 se podsending, Die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers oor praktiese wenke om gelukkig te bly as ander mense storms in jou lewe veroorsaak.

My vriend Ron vertel my hy het na Amsterdam gevlieg, lááánk voordat al die vlugte afgestel en almal tuis moes bly. Ron het gehoor ’n beroemde wyse man van Korea was daar – ’n Zen-meester – en Ron wou by hom gaan hoor wat hy oor die lewe te sê het. ’n Wyse man sou tog seker weet hoe om in moeilike tye gelukkig te bly.

In Holland aangekom, het Ron koers gekies na die huis waar die Zen-meester gebly het. Amsterdam was op sy grysste en klettertandkoudste. ’n Wind vol yskristalle het oor die Noordsee aangewaai gekom. Die reën het in vaal vlae geval. Triestig verby.

’n Mens kan amper sê die stad was op lockdown weens die weer.

Johannes de Villiers.
Johannes de Villiers.

Die Zen-meester se gashere het hard probeer om hom gemaklik te maak. Hulle het warm sjokolade aangedra. Hulle het hul wolpantoffels vir hom geleen.

Maar die Zen-meester, ’n man met ’n kaal geskeerde kop en ’n breë glimlag, het aangedring: Hy het al die pad van Korea gevlieg, hy wil Amsterdam sien. En so, al het hulle hom probeer keer, het hy opgespring, die reënerige strate ingevaar en hom aan die vaal Nederlandse hoofstad vergaap.

Ron en ’n paar ander mense het agter hom aangedraf en ’n sambreel oor sy kop probeer hou.

“Dis pragtig, dis wonderlik,” het die Zen-meester geslaak. “Kyk net! Dis lieflik.”

Dit terwyl die modder oor almal gespat en hul lippe van die koue blou geraak het.

Kyk, dis een ding om die blink kant bo te hou, maar ’n mens moet darem ook nie heeltemal blind wees vir jou probleme nie!

Uiteindelik kon Ron nie meer nie. Hy het in sy spore vasgesteek.

“Zen-meester, komaan!” het hy geskree. “Ek weet jy mediteer heeldag en probeer optimisties wees, maar hierdie situasie stink. Als is grys en grou, dis beslis nie lieflik nie!”

Die Zen-meester het sy oë geknip, effens verbaas deur Ron se reaksie. Hy het fronsend om hom rond gekyk asof hy seker wil maak wat hy sien.

“Jy is heeltemal reg!” het hy opgemerk. “Vir ’n somersdag sou hierdie regtig aaklig gewees het . . . Maar vir ’n grys, reënerige, modderbesmeerde, Nederlandse wintersdag, is hierdie een eintlik net mooi reg.”

En toe stap hy vrolik verder en verkyk hom aan die reën.

Jou lewe is sekerlik op die oomblik stormagtig. As iemand jou ooit ’n stormvrye lewe beloof het, sou jy nou rede gehad het om te kla. Maar dalk is dit nie hoe dinge werk nie.

Miskien is een van die storms in jou lewe vandag ’n mens. Dalk sit jy hierdie dae opgeskeep met iemand wat soos ’n koue Noordseewind deur jou huis waai.

Dalk is dit iemand wat jou seermaak. Dan moet jy die polisie bel, vra dat hulle jou met ’n maatskaplike werker in verbinding plaas – daar is plekke waarheen jy kan vlug.

Maar dalk is dit minder erg. Dalk wil hy net nie iemand anders toelaat om die TV-kanaal te kies nie. Dalk eet sy al die sjokolades. Dalk is hy of sy maar net ’n bietjie van ’n poephol.

Hoe sou ’n Koreaanse Zen-meester gereageer het? Hoe kan jy opreg gelukkig bly, steeds vir jou lewe dankbaar wees selfs al sluit dit een of twee moeilike mense in?

Vandeesweek gesels ons in ons podsending, Die Blydskap-projek, oor praktiese wenke om gelukkig te bly as ander mense storms in jou lewe veroorsaak.

Wat is ’n podsending?

’n Podsending is soos ’n radioprogram waarna jy aanlyn kan luister.

LUISTER NA EPISODE 1

In die eerste aflewering van die Blydskap-projek vertel Johannes de Villiers van die klein aanpassings wat jy kan maak om jou lewe met ’n bietjie meer vreugde te vul.

LUISTER NA EPISODE 2

In die jongste aflewering van die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers oor die kuns van mindfulness en hoe om jou “vriende” elke dag rondom jou raak te sien.

LUISTER NA EPISODE 3

In dié aflewering van die Blydskap-projek, vra Johannes de Villiers: Is enkellopendes régtig ongelukkiger?

LUISTER EPISODE 4

In dié aflewering van Die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers met Ivor Price oor die mag van vriendelikheid.

Meer oor De Villiers se nuwe boek

“Dit help nie jy wag totdat jou lewe perfek is voordat jy jouself blydskap gun nie. Maak nóú ruimte vir blydskap, kom tuis in jou vel ongeag waar jy in jou lewe is. En kyk dan hoe dinge in plek begin val.”

Lewensvreugde is moontlik vir elkeen. Met praktiese wenke – van meditasie tot stappies in die buitelug – en raad deur kenners wys hierdie boek hoe dinge soos leefstyl, ouderdom, huwelikstatus, inkomste en selfs jou hond jou luim beïnvloed. Johannes de Villiers, ’n kenner van meditasie en mindfulness, het vreugdevolle mense op onverwagse plekke gaan opsoek – in kloosters, in ’n voormalige oorlogsone, in ’n Suid­Afrikaanse tronk – en dié mense gevra hoe hulle dit regkry om gelukkig te wees. Elkeen kon ’n blyer blik op die lewe aanleer: Jy kan ook.

“’n Wekroep tot deernis, stilte én aksie … Hierdie boek kan werklik jou lewe verander.” – Erns Grundling

Wil jy die boek koop?

Blydskap - Mindfulness-wenke vir ‘n vreugdevolle lewe is teen R275 by alle goeie boekwinkels te koop.

Lesers kan dit ook aanlyn by TakeAlotUpper Case BooksExclusive Books en Loot koop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.