Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Podsendings
LUISTER: Is jy gelukkiger as jy getroud is?

In hierdie week se aflewering van die Blydskap-projek, vra Johannes de Villiers: Is enkellopendes régtig ongelukkiger?

Grietie het Vrydagmiddag haar werk vroeg afgehandel, nie omdat sy iets iewers afgeskeep het nie, maar omdat sy vroeg in die week reeds haar naweekplanne agtermekaar gemaak het. Sy het geweet sy beplan iets spesiaals vir Vrydagaand en het dus Donderdag later gewerk.

Vrydagmiddag was sy op die punt om die werk te verlaat toe ’n kollega vra of sy planne vir die naweek het. “Ja,” het Grietie opgewonde geantwoord, “ek gaan Big Little Lies op Showmax kyk, ’n sampioenpastei vir myself bak en in my tuin werk”.

Johannes de Villiers.
Johannes de Villiers.

“Haai foei!” het die kollega fronsend opgemerk. “Jy kan nie so in eensaamheid krepeer nie, kom braai Saterdagmiddag saam met my, my man en my skoonfamilie!”

“Maar ek het dan gesê ek het planne – Showmax, sampioenpastei en tuinmaak!” wou Grietie verontwaardig antwoord. Maar sy is te ordentlik om te skel, so sy glimlag net beleefd en sê: “Dalk volgende keer.”

’n Ander kollega het hul gesprek gehoor. “Grietie, as jy dan beplan om die naweek niks te doen nie, sal jy omgee om ’n paar verslae vir my deur te lees?” wou hy weet.

Op pad huis toe het Grietie in Pick n Pay ’n vrou raakgeloop wat sy van die kerk ken. (Die tema van die huidige preekreeks is “Gelukkige gesinne maak gelukkige mense”.) Die vrou se mandjie is vol sjokoladehartjies. “Ek gaan my ou bietjie bederf,” sê die meisie giggelend en raak toe skielik bleek in die gesig. “O, ’skuus, ek het vergeet jy’s single. Ek wou dit nie invryf nie, gaan jy oukei wees?”

“Ek is nie single nie,” het Grietie beleefd geantwoord, “ek het ’n hond”. Sy het klaar geweet sy gaan later die aand ’n WhatsApp van die kerksuster kry waarin sy verskoning vra dat sy so onsimpatiek oor Grietie se “enkel-status” was.

By die huis lui die telefoon. Dis elke Vrydagaand Grietie se ma. “Ek kan nie daaroor kom dat my kind die hele naweek so eensaam en alleen moet sit nie,” sanik haar ma oor die telefoon. “Ek gaan jou suster bel om jou geselskap te kom hou.”

LEES OOK: Wil jy gelukkiger wees? Luister dan saam!

“Asseblief, Ma,” antwoord Grietie so geduldig as wat sy kan, “Ek. Het. Planne. Vir. Die. Naweek.”

Die foongesprek is verby. Die bestanddele staan reg vir Grietie se tert. Die TV wag om aangeskakel te word. Maar sy is skielik nie meer lus nie. Dit voel asof iemand iets van haar gesteel het. Iewers tussen Vrydagmiddag en Vrydagaand het ander mense haar blydskap nek om gedraai.

As jy enkellopend is, weet jy dit waarskynlik reeds, maar daar is niks met jou lewe verkeerd nie.

As die res van die wêreld dit maar net ook geweet het en net ophou om jou die hele tyd te vertel hulle wil jou reghelp …

Lastige tannies bestorm jou op troues en vra wanneer jy gaan afhaak. Vriendinne koop vir jou lidmaatskap van dating apps vir jou verjaardag. Welmenendes sit die hand op jou skouer en sê: “Toemaar, daar is iewers iemand vir jou.”

RESENSIE: Lees hier na 'n resensie van De Villiers se boek

Die ergste is dat jy dit begin glo. Pleks daarvan dat jy by jou huis die ruimte, die stilte, die onafhanklikheid (en om nie te praat van die afwesigheid van babadoeke en iemand anders se vuil klere) geniet, sit jy en herhaal vir jouself ander mense se stories dat jy onmoontlik op jou eie gelukkig kan wees.

Vandeesweek bekyk ons in die Blydskap-projek die wetenskap en vra of enkellopendes régtig ongelukkiger is. Ons gee raad oor hoe jy lasposte kan antwoord wat jou vertel daar is iets met jou verkeerd net omdat jy nie ’n ring aan jou vinger het nie.

Wat is ’n podsending?

’n Podsending is soos ’n radioprogram waarna jy aanlyn kan luister.

LUISTER NA EPISODE 1

In die eerste aflewering van die Blydskap-projek vertel Johannes de Villiers van die klein aanpassings wat jy kan maak om jou lewe met ’n bietjie meer vreugde te vul.

LUISTER NA EPISODE 2

In die jongste aflewering van die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers oor die kuns van mindfulness en hoe om jou “vriende” elke dag rondom jou raak te sien.

Meer oor De Villiers se nuwe boek

“Dit help nie jy wag totdat jou lewe perfek is voordat jy jouself blydskap gun nie. Maak nóú ruimte vir blydskap, kom tuis in jou vel ongeag waar jy in jou lewe is. En kyk dan hoe dinge in plek begin val.”

Lewensvreugde is moontlik vir elkeen. Met praktiese wenke – van meditasie tot stappies in die buitelug – en raad deur kenners wys hierdie boek hoe dinge soos leefstyl, ouderdom, huwelikstatus, inkomste en selfs jou hond jou luim beïnvloed. Johannes de Villiers, ’n kenner van meditasie en mindfulness, het vreugdevolle mense op onverwagse plekke gaan opsoek – in kloosters, in ’n voormalige oorlogsone, in ’n Suid­Afrikaanse tronk – en dié mense gevra hoe hulle dit regkry om gelukkig te wees. Elkeen kon ’n blyer blik op die lewe aanleer: Jy kan ook.

“’n Wekroep tot deernis, stilte én aksie … Hierdie boek kan werklik jou lewe verander.” – Erns Grundling

Wil jy die boek koop?

Blydskap - Mindfulness-wenke vir ‘n vreugdevolle lewe is teen R275 by alle goeie boekwinkels te koop.

Lesers kan dit ook aanlyn by TakeAlotUpper Case BooksExclusive Books en Loot koop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.