Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Podsendings
LUISTER: Moenie wag nie, skep jou eie blydskap
Die Blydskap-projek

In die eerste aflewering van die Blydskap-projek vertel Johannes de Villiers van die klein aanpassings wat jy kan maak om jou lewe met ’n bietjie meer vreugde te vul.

Sielkundige navorsing het al bewys dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang. Baie mense sê ’n maklike manier om jou eie luim vinnig op te kikker, is om ’n vreemdeling se parkeer- of tolgeld te betaal.

Onlangs wou ek dit op die proef stel.

Ek weet dis ’n sonde om te veralgemeen, maar die meeste mense sal toegee die bestuurders van groot Duitse motors met Stellenbosse nommerplate kan soms ’n bietjie van ’n pes op die pad wees. Dis nie dat hulle slegte mense is of iets nie, maar daardie hoë sitplek, lugverkoeling en dik ruite laat hulle soms vergeet daar is ook ander mense op die pad.

LEES OOK: Wil jy gelukkiger wees? Luister dan saam!

Nou onlangs weer het ek amper met my Polo’tjie in die sloot langs ’n eenrigtingstraat gejaag toe ek ’n luukse Duitse viertrekvoertuig met ’n CL-nommerplaat moes ontduik. Die skepsel het in die verkeerde (onwettige!) rigting in die straat aangejaag gekom en my boonop ’n vuil kyk gegee nadat hy my motor byna afgeskryf het.

Johannes de Villiers.
Johannes de Villiers.

Toe weet ek dadelik ek gaan vir die res van die dag daaroor fantaseer om die padvark se wiele te gaan afblaas.

Goed so, besluit ek, dis die ideale tyd om te kyk of altruïsme my kan opkikker.

Stellenbosch is een van daardie dorpe waar jy parkeerwagte moet betaal om in die middedorp stil te hou. Ek sien onder ’n eikeboom ’n groot Duitse sedan geparkeer staan en vra die parkeerbeampte hoeveel geld die motoris skuld. R18, sê hy. Ek haal my kaart uit, betaal en kies koers.

Het ek beter gevoel? Wel . . . ek het orraait gevoel.

Maar as ek kon, sou ek steeds die padbuffel van vroeër se bande wou gaan afblaas.

Dié aand kry ek ’n WhatsApp van ’n kliënt – nogal een wat die vorige dag harde woorde vir my gehad het. Sy het vanoggend by haar motor op die dorp gekom toe die parkeerwag haar vertel iemand het haar parkeergeld klaar betaal. Wie, wou sy weet. Die wag het die man beskryf en nou wonder sy . . .

Meer nog, die vrou vertel sy was so in haar noppies dat sy op die daad die motor voor haar se parkeergeld betaal het.

LEES OOK: Wat maak jóú gelukkig?

Dié aand terwyl ek aan die slaap raak, lê ek nie en baklei met die padvark in sy groot CL-motor, soos wat normaalweg sou gebeur, nie. Ek droom daarvan dat die persoon in die motor voor my kliënt s’n op sy beurt die motor voor hom se parkeergeld betaal het. En dié een die volgende. Dalk trek die kettingreaksie al in Limpopo!

Ons almal wil saans met ’n glimlag aan die slaap raak. Ons hoop daar sal eendag ’n tyd aanbreek dat ons geen meer padwoedevoorvalle, huwelikstwiste, werksprobleme of ander traumas gaan beleef nie en dat ons dan uiteindelik gelukkig kan wees.

Maar dit gaan waarskynlik nie gebeur nie. Taai emosies soos woede, teleurstelling en spyt is ’n deel van hoe ons bedraad is; hulle sal altyd met ons wees.

RESENSIE: Lees hier na 'n resensie van De Villiers se boek

Dit beteken nie ons moet hoop verloor nie. ’n Nuwe wetenskap genaamd die positiewe sielkunde vertel ons blydskap is nie iets waarvoor jy hoef te wag nie. Dis iets wat jy nou kan laat gebeur deur in die middel van jou dol lewe klein geleenthede te skep waar medemenslikheid, deernis en vreugde kan ontspring.

In die podsending die Blydskap-projek gaan ons na dié navorsing kyk en voorstelle maak vir klein strategieë wat jy elke dag in jou lewe kan toepas om blydskap ’n kans te gee om gesig te wys.

Ek hoop jy sal die reis saam met ons aanpak.

Wat is ’n podsending?

’n Podsending is soos ’n radioprogram waarna jy aanlyn kan luister.

Meer oor De Villiers se nuwe boek

“Dit help nie jy wag totdat jou lewe perfek is voordat jy jouself blydskap gun nie. Maak nóú ruimte vir blydskap, kom tuis in jou vel ongeag waar jy in jou lewe is. En kyk dan hoe dinge in plek begin val.”

Lewensvreugde is moontlik vir elkeen. Met praktiese wenke – van meditasie tot stappies in die buitelug – en raad deur kenners wys hierdie boek hoe dinge soos leefstyl, ouderdom, huwelikstatus, inkomste en selfs jou hond jou luim beïnvloed. Johannes de Villiers, ’n kenner van meditasie en mindfulness, het vreugdevolle mense op onverwagse plekke gaan opsoek – in kloosters, in ’n voormalige oorlogsone, in ’n Suid­Afrikaanse tronk – en dié mense gevra hoe hulle dit regkry om gelukkig te wees. Elkeen kon ’n blyer blik op die lewe aanleer: Jy kan ook.

“’n Wekroep tot deernis, stilte én aksie … Hierdie boek kan werklik jou lewe verander.” – Erns Grundling

Wil jy die boek koop?

Blydskap - Mindfulness-wenke vir ‘n vreugdevolle lewe is teen R275 by alle goeie boekwinkels te koop.

Lesers kan dit ook aanlyn by TakeAlotUpper Case BooksExclusive Books en Loot koop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.