Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Podsendings
LUISTER: Só kan jy jou kinders help om gelukkiger te wees
Die Blydskap-projek

Wat beteken blydskap vir kinders? Dís die vraag wat Johannes de Villiers in die jongste episode van Die Blydskap-projek beantwoord.

Hoekom is dit vir jong mense (en party oues) so ontsettend belangrik dat ander mense van hulle moet hou? Hoekom trek hulle modieus aan of loer elke paar minute hoeveel “likes” hulle op Facebook gekry het?

Dis nie sommer net van simpelheid nie.

Evolusionêre sielkundiges wys ons daarop dat ons oermensvoorsate ’n baie nuttelose soort dierespesie was. Ons aapagtige voorouers was te stadig om vir groot katte weg te hardloop, hul tande en naels was te stomp om te baklei, en hulle kon nie eens ordentlik boom klim soos ander ape nie.

Hul enigste voordeel bo ander dierespesies was dat hulle met mekaar kon praat en gesamentlik planne kon beraam om hulle te beskerm, soos om beurte te maak om wag te staan, skuilplekke te bou of georkestreerde jagekspedisies van stapel te stuur.

Die mense wat nie by die res van die groep gewild was nie, is eenkant toe gestoot en het sonder die beskerming van die trop gou-gou leeukos geword.

Johannes de Villiers.
Johannes de Villiers.

Dis in ons gene om besorg te wees wat ander mense van ons dink. In die ou dae kon dit die verskil tussen lewe en dood beteken het.

Baie volwassenes dink tieners is simpel omdat hulle so tob oor of ander van hulle hou. Sussie staar ure lank in die spieël om seker te maak sy lyk reg vir ander en Boetie oefen noukeurig om net die regte slentertaal te gebruik.

Dis oergene wat daar inskop, ’n grotmens wat diep in hul harte ontwaak en hulle vertel as hulle nie genoeg vriende maak nie, gaan hulle in die alleenheid gruwelik sterf.

Deesdae gaan jy nie sommer deur ’n krokodil opgevreet word as jy nie vriende het nie, maar omdat ons DNS so bedraad is om te glo vriende is allerbelangrik, is baie mense vas oortuig iets vreesliks gaan gebeur as hulle min vriende het. Toe die nasionale tydperk van inperking onlangs begin het, was baie mense se grootste vrees dat hulle van hul kop af sal gaan as hulle nie hul vriende kan sien nie.

Maar hoef jy regtig baie vriende te hê om gelukkig te wees?

Die Amerikaanse positiewe sielkundige Catherine Sanderson het dié vraag ondersoek. Hoeveel vriende moet jy hê om ideaal gelukkig te wees? Vyf? Twintig? ’n Honderd?

Dit maak nie ’n verskil nie, het Sanderson bevind nadat sy verskeie studies onder oë gehad het.

Ons soek ons sosiale geluk op die verkeerde plek, vertel Sanderson. Dit maak nie saak hoeveel vriende jy het nie. Wat eerder saak maak, is hoe gelukkig die vriende is wat jy het.

So gestel jy het 100 vriende, maar hulle is almal ’n klomp knorpotte. Dan gaan 100 mense se surigheid aan jou afsmeer.

Maar gestel jy het net drie vriende en hulle is mense wat meestal positief is? Die gevolg is waarskynlik dat jou hart gaan straal.

So, hier is ’n wenk wat jy met jou tienerkinders kan deel. Eerder as om meer vriende te maak, gaan deur jou lys van vriende, kyk wie is suurgatte en sny daai mense uit. Wees kieskeurig oor watter soort vriende jy het eerder as hoeveel vriende jy het.

Kort voor lank is jy dalk net so gelukkig soos ’n oermens wat veilig in sy grot tussen sy beste kamerade sit.

Op die onderwerp van jong mense en kinders: Vandeesweek kyk ons in Die Blydskap-projek na wat blydskap vir kinders beteken.

Wat is ’n podsending?

’n Podsending is soos ’n radioprogram waarna jy aanlyn kan luister.

LUISTER NA EPISODE 1

In die eerste aflewering van die Blydskap-projek vertel Johannes de Villiers van die klein aanpassings wat jy kan maak om jou lewe met ’n bietjie meer vreugde te vul.

LUISTER NA EPISODE 2

In die jongste aflewering van die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers oor die kuns van mindfulness en hoe om jou “vriende” elke dag rondom jou raak te sien.

LUISTER NA EPISODE 3

In dié aflewering van die Blydskap-projek, vra Johannes de Villiers: Is enkellopendes régtig ongelukkiger?

LUISTER EPISODE 4

In dié aflewering van Die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers met Ivor Price oor die mag van vriendelikheid.

LUISTER NA EPISODE 5

In die jongste aflewering van Netwerk24 se podsending, Die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers oor praktiese wenke om gelukkig te bly as ander mense storms in jou lewe veroorsaak.

LUISTER NA EPISODE 6

Daar ís blydskap in die grysskap, verduidelik Johannes de Villiers in die jongste episode van Die Blydskap-projek. Luister saam om uit te vind wat die geheim van gelukkig oudword is.

Meer oor De Villiers se nuwe boek

“Dit help nie jy wag totdat jou lewe perfek is voordat jy jouself blydskap gun nie. Maak nóú ruimte vir blydskap, kom tuis in jou vel ongeag waar jy in jou lewe is. En kyk dan hoe dinge in plek begin val.”

Lewensvreugde is moontlik vir elkeen. Met praktiese wenke – van meditasie tot stappies in die buitelug – en raad deur kenners wys hierdie boek hoe dinge soos leefstyl, ouderdom, huwelikstatus, inkomste en selfs jou hond jou luim beïnvloed. Johannes de Villiers, ’n kenner van meditasie en mindfulness, het vreugdevolle mense op onverwagse plekke gaan opsoek – in kloosters, in ’n voormalige oorlogsone, in ’n Suid­Afrikaanse tronk – en dié mense gevra hoe hulle dit regkry om gelukkig te wees. Elkeen kon ’n blyer blik op die lewe aanleer: Jy kan ook.

“’n Wekroep tot deernis, stilte én aksie … Hierdie boek kan werklik jou lewe verander.” – Erns Grundling

Wil jy die boek koop?

Blydskap - Mindfulness-wenke vir ‘n vreugdevolle lewe is teen R275 by alle goeie boekwinkels te koop.

Lesers kan dit ook aanlyn by TakeAlotUpper Case BooksExclusive Books en Loot koop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.