Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Podsendings
LUISTER: Só kan jy meer ‘mindful’ deur die lewe gaan

Die Blydskap-projek

In die jongste aflewering van die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers oor die kuns van mindfulness en hoe om jou “vriende” elke dag rondom jou raak te sien.

Ek lees van ’n wyse man wat sê verbeel jou net hoe die lewe sou voel as jy elke mens, elke ding en elke ervaring kon benader asof dit jou beste vriend is wat jy jare laas gesien het. As jou beste vriend ná tien jaar aan jou deur klop, gaan jy nie net skraps opkyk nie, jy gaan hom entoesiasties tegemoet loop. Jy gaan nie spyt wees om hom te sien omdat hy ’n paar ekstra plooie het nie; jy gaan vra dat hy jou vertel watter stories agter al die nuwe krake in sy vel lê.

Johannes de Villiers.
Johannes de Villiers.

Onlangs moet ek ’n nuwe teepot gaan koop en ek besluit om op pad winkel toe die wyse man se raad te volg. Die teersypaadjie onder my voete; dis my beste vriend wat ek tien jaar laas gesien het. Hoe voel dit? My ou vriend is vol gate en hobbels; ek verbeel my dat my vriend my voete liggies masseer soos wat ek op hom trap. Dankie, vriend!

O gits, dis vrek warm. Ek vrees ek kan dalk ’n bietjie na sweet begin ruik en ’n verleentheid vir myself wees. Maar wat as ek die reuk eerder beskou asof dit my beste vriend is wat ek tien jaar laas gesien het? Hei, reukie, ek ken jou! Jy is hier om my te herinner dat ek nog lewe, dat ek meer as ’n miljoen sweetgaatjies in my vel het wat almal saamwerk om my af te koel en ou mikrobes weg te was. Hoe lekker om te weet ek het ’n vriend wat werk om my koel en skoon te hou.

Ek kom in die winkel. Hallo, Vriend Lugverkoeling! Jy is ’n bietjie intiem – blaas jou koue asem hier in my rug af. Dalk is ons meer as net vriende . . .

LEES OOK: Wat maak jóú gelukkig?

Die tou by die kassiere is langer as gewoonlik. Ag gmf. Maar wag, dalk is die tou ook my ou vriend. Vriende is juis daardie mense in wie se geselskap jy niksdoentyd kan deurbring sonder dat jy iets hoef te verrig. Kom ek staan hier in Vriend Tou en voel my voete op die grond, haal ’n paar keer diep asem en geniet die verskoning om net so vyf minute lui te wees.

Voor in die tou gekom, loer ek oor die kassiere se skouer en sien myself in ’n spieël. Daar is ’n breë, effens verspotte glimlag op my gesig waar daar vroeër in die dag ’n frons was. Daardie ou in die spieël, besef ek, hy is ook ’n ou vriend. Ek kyk sag sonder oordeel na hom. Hallo, Vriend!

RESENSIE: Lees hier na 'n resensie van De Villiers se boek

Besef jy dat jy omring is van vriende? Jou onderklere – jy dink dalk hulle is verspot of onwaardig, maar dink net hoe sou jy voel as jy nou, op hierdie oomblik, sonder jou onderklere daar moes sit. Moenie jou vriende net waardeer as hulle afwesig is nie. Sê nou dankie vir Vriend Onderbroek.

En wat van daardie koppie waarin jou koffie is. Dank die hemel iemand het koppies uitgevind. Anders moes jy jou drankie uit ’n plas op die grond oplek.

Jy ken seker die woord mindfulness en het al baie definisies gehoor, maar in ’n sin beteken dit om al die vriende om jou raak te sien. Alles om jou – die teerpaaie, die wurms onder die grond, die sterre in die Melkweg, die taai emosies in jou hart – werk alles saam om jou lewe moontlik te maak.

Maak oop jou oë. Sien hulle raak. 

In die jongste aflewering van die Blydskap-projek, gesels ons oor hoe ’n mens kan leer om nie jou vriende mis te kyk nie.

Meer oor Die Blydskap-projek

Antieke wysgere en moderne wetenskaplikes krap eeue lank al kop oor hoe ’n mens op jou gelukkigste kan wees. Die afgelope paar jaar is daar ál meer konkrete antwoorde. So, wat kan ’n mens daadwerklik doen om ’n bietjie gelukkiger te wees?

Dís wat Netwerk24 se eerste podsending, Die Blydskap-projek, gaan uitpluis.

Johannes de Villiers, skrywer van die boek Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n gelukkige lewe, bied dié podsending aan waar hy met lesers nuwe bevindings uit die positiewe sielkunde gaan deel.

LUISTER NA EPISODE 1

Wat is ’n podsending?

’n Podsending is soos ’n radioprogram waarna jy aanlyn kan luister.

Meer oor De Villiers se nuwe boek

“Dit help nie jy wag totdat jou lewe perfek is voordat jy jouself blydskap gun nie. Maak nóú ruimte vir blydskap, kom tuis in jou vel ongeag waar jy in jou lewe is. En kyk dan hoe dinge in plek begin val.”

Lewensvreugde is moontlik vir elkeen. Met praktiese wenke – van meditasie tot stappies in die buitelug – en raad deur kenners wys hierdie boek hoe dinge soos leefstyl, ouderdom, huwelikstatus, inkomste en selfs jou hond jou luim beïnvloed. Johannes de Villiers, ’n kenner van meditasie en mindfulness, het vreugdevolle mense op onverwagse plekke gaan opsoek – in kloosters, in ’n voormalige oorlogsone, in ’n Suid­Afrikaanse tronk – en dié mense gevra hoe hulle dit regkry om gelukkig te wees. Elkeen kon ’n blyer blik op die lewe aanleer: Jy kan ook.

“’n Wekroep tot deernis, stilte én aksie … Hierdie boek kan werklik jou lewe verander.” – Erns Grundling

Wil jy die boek koop?

Blydskap - Mindfulness-wenke vir ‘n vreugdevolle lewe is teen R275 by alle goeie boekwinkels te koop.

Lesers kan dit ook aanlyn by TakeAlotUpper Case BooksExclusive Books en Loot koop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.