Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Podsendings
LUISTER: Totsiens, maar nie vaarwel vir Harry en Meghan

Koninklike knieknik
Dis totsiens, maar nie vaarwel nie vir Harry en Meghan wat vandeesweek amptelik van hul pligte as koninklikes weggestap het. In dié aflewering van Koninklike Knieknik kyk Arlene Prinsloo terug na al die draaie wat hul verhouding al geloop het en die toekoms in Los Angeles wat op dié twee wag.

Dit is tot siens vir Harry en Meghan, maar nie vaarwel nie.

As jy nie geweet het wie Meghan Markle was voor haar verhouding met prins Harry nie, moenie sleg voel nie. Harry het ook nie geweet wie sy is nie. As die regsassistent Rachel Kane in die Amerikaanse regsdrama Suits was Meghan bekend, maar nou nie só bekend soos sê maar ’n Charlize Theron of ’n Angelina Jolie nie.

Dit is dié rol wat Meghan bekend gemaak het. Voor Suits het sy maar klein rolletjies gehad. In die Amerikaanse sepie General Hospital was sy net op die skerm te sien, haar karakter het nie eens ’n woord gesê nie!

Meghan het al vertel hoe sy gesukkel het as aktrise. Te wit vir sekere rolle, en weer te gemeng vir ander rolle. Maar die rol van Rachel het haar soos ’n handskoen gepas. Terloops, het jy geweet Meghan se eerste doopnaam is ook Rachel?

Ek hou van Meghan se sagte, amper rollende aksent. Glad nie so Yankerig soos ’n mens sou verwag nie. En natuurlik dadelik herkenbaar!

Maar dit is nie net haar stem wat oombliklik herkenbaar is nie.

Sy hoef nie eens haar van te gebruik nie, of dit nou Sussex of Mountbatten-Windsor gaan wees, Meghan is genoeg. Almal weet van wie jy praat.

Terug by die huis

Nou is Meghan weer terug in Los Angeles. Die stad waar sy grootgeword het, skoolgegaan het, en waar daar as jong aktrise deur ná deur in haar gesig toegeslaan is.

Hollywood, Silicon Valley, Amazon en wie nog almal staan tou om Meghan se dienste te bekom.

En Vrydag kan ons almal uiteindelik hoor hoe Meghan as verteller klink in Elephants Without Borders, ’n dokkie wat vir Disney Plus vervaardig is. Ek vermoed dié dokkie is die eerste van vele vir Meghan.

Arlene Prinsloo
Arlene Prinsloo

Dit lyk vir my asof Meghan en Harry se meesterplan toe tog was om in Los Angeles nes te skop. Wel, as Meghan amper drie jaar in Londen kon woon, kan Harry seker vir ’n paar jaar in Amerika woon!

Ek het aanvanklik gedink die twee is Kanada toe omdat Meghan lank daar gewoon het terwyl Suits verfilm is en Kanada natuurlik lid van die Statebond is.

Dit sou ’n goeie idee gewees het om in ’n Statebondsland te woon as jy deeltyds ’n koninklike wou wees.

Maar toe sit ouma Elizabeth mos haar voet dwars oor dié droom van Harry en Meghan.

Harry was so hartseer en teleurgesteld oor dié besluit dat hy amper vir my ’n traan laat stort het.

Daardie toespraak van hom oor waarom hy en Meghan die koninklike lewe verlaat was amper net so emosioneel soos sy en Meghan se kom-ons-stort-ons-harte-uit-dokkie wat verlede jaar verfilm is toe hulle hier aan die suidpunt van Afrika kom kuier het.

Sy hart was, tipies Harry, op die mou in dié dokumentêre prent. Ek kan tot vandag toe nie besluit of Meghan se emosies ook in die onderhoud die oorhand gekry het nie.

Ek kon nie opgewonde raak oor Suits nie en Harry en Meghan se verlowingsonderhoud was die eerste keer dat ek Meghan hoor praat het. Dit was toe reeds duidelik dat sy nie net gemaklik is voor die kamera nie, maar ook uit die vuis uit kan praat. Later in haar koninklike loopbaan het sy keer op keer verras deur toesprake te lewer sonder ’n crib note of ’n teleprompter. Maar ’n mens sou dit mos verwag van ’n aktrise, of hoe?

Ongelooflik om te dink dié verlowingsonderhoud is nie eens drie jaar gelede gevoer nie. Soveel het intussen gebeur.

Nou het die koronavirus ook Harry en Meghan se planne deurmekaar gekrap. Die bekendstelling van hulle nuwe organisasie sonder winsbejag is vir eers uitgestel, so ook enige aanduiding van hul toekomsplanne.

Moes hulle terugkeer?

Koninklike dagboeke is erg deurmekaar gekrap. Prins Charles herstel van die koronavirus, die koningin is so te sê in kwarantyn in die Windsor-kasteel en selfs prinses Beatrice se troue is uitgestel.

Is Harry en Meghan selfsugtig om in Los Angeles te sit in plaas daarvan om terug te keer na Brittanje?

Ek dink dit is ’n geval van damned if they do and damned if they don’t.

Van ’n vinnige Britse kuiertjie met die viering van die koningin se amptelike verjaarsdag in Junie is daar ook nie meer sprake nie. Ook nie ’n verskyning op Buckinghampaleis se balkon nie.

Dalk is hierdie verposing net wat Harry en Meghan nodig het om die opbou na Amerika se nuwe power couple aan te help. Van een ding is ek seker: Harry sal nie dat sy nuwe loopbaan enigsins ’n smet op die koningshuis los nie.

En dalk, net dalk, sal hulle in Augustus, soos beplan, op Balmoral by die koningin kan gaan kuier.

Maar eers lê Elephants Without Borders se debuut Vrydag voor. En ongeag die galbitter kritiek van resensente, sien ek daarna uit om Meghan se stem te hoor.

  • Kyk binnekort uit vir ’n nuwe aflewering van Netwerk24 se podsending Koninklike Knieknik.

Arlene Prinsloo, webredakteur van Netwerk24 en kenner van alles koninklik. Sy was ’n joernalis vir Beeld, ’n uitlegkunstenaar by BeeldDie Burger en Rapport het daarna haar loopbaan in die digitale nuuswêreld begin as webredakteur van Netwerk24.

Arlene is Suid-Afrika se voorste kenner van die koninklikes en skryf gereeld berigte en rubrieke oor die koninklike familie vir Netwerk24. Sy het ook Engeland toe gevlieg om in die skare te staan vir prinses Diana se begrafnis, asook vir die troues van prins Harry en prins William.

Luister ook: Wanneer gaan die koningin haar stilte oor Covid-19 verbreek?

Covid-19 het die koninklike familie getref nadat prins Charles positief vir die virus getoets is. In die jongste aflewering van Netwerk24 se podsending, Koninklike Knieknik, vra Arlene Prinsloo: Wanneer gaan die koningin haar stilte oor dié dodelike pandemie verbreek?

Luister ook: Die prins en die seksskandaal

Prins Andrew het in die binnekamers van die superryk én veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein gekuier. Wat presies weet Andrew en hoekom wil hy nie praat nie? In die jongste aflewering van Netwerk24 se podsending, Koninklike Knieknik, vertel Arlene Prinsloo meer.

Luister ook: Die doodsnikke van Harry en Meghan

In die eerste aflewering van Netwerk24 se podsending Koninklike Knieknik praat Arlene Prinsloo oor Harry en Meghan en hul besluit om hul lewens as koninklikes agter te laat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.