Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Podsendings
LUISTER: Die volle reeks van 'Bloed, sweet & modder'

bloed, sweet, modder
'Bloed, sweet, modder'

Die eerste rugbytoets tussen die Springbokke en All Blacks is in 1921 gespeel, vanjaar net mooi ’n eeu gelede.

So het die mees intense tweestryd in die geskiedenis van die sport begin, een wat vandag, 100 jaar en 99 toetse later, voortduur.

In Netwerk24 se jongste podsendingreeks, Bloed, sweet & modder, gesels Bun Booyens, oudredakteur van Die Burger, en die rugby-kommentator Marco Botha oor die hoogtepunte en laagtepunte van hierdie twee rugbyreuse se wedstryde teen mekaar.

Die eerste van agt episodes is op 23 Maart beskikbaar. Kom luister saam!

* LEES OOK: Bun Booyens en Marco Botha oor 100 jaar se rugbydrama


LUISTER SAAM!

EPISODE 1: Die stryd begin (1921)

Op 13 Augustus 1921 speel die Springbokke en All Blacks die eerste keer teen mekaar, op Carisbrook in Dunedin, en so begin die mees intense rugbystryd in die geskiedenis van die sport – een wat vandag, 100 jaar en 99 wedstryde later, voortduur.

In die eerste aflewering van hierdie reeks gesels Bun Booyens en Marco Botha oor Theo Pienaar se span van 1921 en die geskiedkundige toer wat sou bepaal watter span die beste in die wêreld is.

Luister hier


EPISODE 2: Die eerste All Black-toer na Suid-Afrika (1928)

Die All Blacks kom in Suid-Afrika aan vir hul eerste toer en die Springbokke wag hulle in met ’n kaptein wat as kind ’n Britse konsentrasiekamp oorleef het. 

In die skrum sak die Kiwi's in ’n unieke skrumformasie met net twee spelers in die voorry … en die Springbokke frommel hulle op. Agter loop hulle hul vas teen die Klein Generaal (ook bekend as die Groot Diktator) en kry in die eerste toets hul grootste pak slae nog.

Bun en Marco gesels oor hierdie wedstryd en die All Blacks se terugvegpoging in die res van dié reeks. 

Luister hier


Episode 3: 'Die beste span om ooit Nieu-Seeland te verlaat' (1937)

Bun en Marco praat oor die Springbokspan wat reggekry het wat geen ander span voor hulle kon vermag nie: om ’n reeks teen die All Blacks in Nieu-Seeland te wen.

Hulle vertel hoe ’n Joodse senter oortuig is om op die heilige vakansiedag Jom Kippoer in ’n toets vir die Bokke te speel.

En kom ontmoet die Springbok wat in elke posisie vir die voorspelers gespeel het, en sommer ook sy spanmaat met die langste voorname en van nog in wêreldrugby.

Luister hier



Episode 4: Skoonskip! (1949)

Die All Blacks kom in Suid-Afrika aan en gaan akklimatiseer toe eers ’n bietjie aan die Overbergse kus, maar die grootste vernedering in hul rugbygeskiedenis wag op hulle. Suid-Afrika se “Windhond” vernietig hul agterlyn, soveel so dat die All Blacks voorstel dat rugby se reëls verander word.

Die Kiwi’s verloor selfs teen een van ons buurlande, en later word hulle die eerste land ter wêreld wat twee toetse op een dag verloor.

Luister hoe gesels Bun en Marco oor dié rampspoedige toer.  


Episode 5: Nieu-Seeland verklaar oorlog (1956)

Die twee sterkste kandidate om die Springbokspan na Nieu-Seeland te lei, takel mekaar – nie op die veld nie, maar in die voorportaal van ’n hotel. Suid-Afrika is steeds onoorwonne in al sy toetsreekse sedert 1903, maar die All Blacks wil nou wraak neem vir hul vernedering van 1949.

Hulle gaan haal ’n voormalige stut – en swaargewig-bokskampioen – om die Springbokvoorry in toom te hou. Kom kyk terug op hierdie intense toer!

Luister hier

LEES OOK: Obsessie lei tot bloedige rugbystryd

Episode 6: Die stormagtige 1960's

Kom ontmoet die All Black wat ’n toets met ’n onpaar stewels moes speel én toe ’n skop deur die pale gejaag het. Die All Black-legende Colin Meads vertel wie die taaiste Springbok is teen wie hy ooit gespeel het (en dit was nie Frik du Preez nie).

En kners op jou tande oor die Springbokke se grootste insinking in die geskiedenis, terwyl Bun en Marco vertel hoe die Springbokke sewe toetse op ’n streep verloor het. 

Luister hier


Episode 7: Die stormagtige (1970, 1976, 1981 en die Kavaliers)

In 1970 kom toer die sterkste All Black-span in die geskiedenis in Suid-Afrika  – onoorwonne vir vyf jaar en 17 toetse. Maar die Springbokke, en veral Joggie Jansen, het ander planne.

Ontmoet ook die Suid-Afrikaanse skeidsregter wat met die konsep van die “koelkas” vorendag gekom het. In 1976 pootjie twee All Blacks hul afrigter op die hotel se trappe. Hulle én die res van span betaal duur vir die grappie.

Suid-Afrika is in die dekade daarna toenemend geïsoleer. Soveel so dat hulle op die ou end ’n toets voor sowat 30 mense speel – die kleinste toetsskare in die geskiedenis van rugby.


SLOT-EPISODE

HOE KAN JY SAAMLUISTER?

* Bloed, sweet & modder skop Dinsdag 23 Maart af met nuwe episodes élke Dinsdag en Donderdag. Daar is 8 episodes om na uit te sien.  

Die eerste episode is gratis, maar die volle reeks is slegs vir intekenare beskikbaar.

Teken in op Netwerk24 teen R99 per maand om nie nét Bloed, sweet & modder te luister nie, maar ook om toegang te kry tot jou gunsteling- Afrikaanse koerante, streekskoerante en tydskrifte asook ons vorige blitssepies, luisterboeke, -dramas, nóg podsendings en meer. 

Kontak die dienssentrum indien jy sukkel. Stuur 'n e-pos aan  diens@netwerk24.com of skakel 087 353 1300.

Meer oor:  Marco Botha  |  Bun Booyens  |  Rugby  |  Springbokke  |  Bloed  |  All Blacks  |  Sweet En Modder  |  Podsendings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.