Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
10 vrae aan Alex Fourie oor iFix
Die oud-Matie Alex Fourie se onderneming iFix het in sy koshuiskamer in Wilgenhof ontstaan toe hy vriende se Apple-produkte reggemaak het. Deesdae besit hy reeds 14 winkels, het hy vir Anika Marais vertel.
Alex Fourie

Waar het jy aan die idee van iFix gekom?

Ek wou eintlik net my eie probleem oplos. Dit was 2007 en my iPod het gebreek en ek kon hom nie laat regmaak nie. Toe doen ek dit self en dinge het van daar af begin gebeur.

Hoe het jy geleer om Apple-produkte reg te maak?

’n Mens kan wonderlike goed op die internet leer.

Hoe het iFix van ’n stokperdjie na ’n volwaardige onderneming gegroei?

Die groei was baie organies vir ’n hele paar jaar. Ons het stadig maar seker winkels begin oopmaak. Nou maak ons al ons 14de winkel oop, en ons hoop om nóg ses voor die einde van die jaar oop te maak. Ons het 200 werknemers en herstel nagenoeg 13 000 toestelle per maand.

Wat dink jy is die grootste sukses van iFix?

Dis vir ons baie belangriker om seker te maak dat die kliënt ’n goeie ervaring by ons winkel het, as wat dit is om geld te maak. Alles gaan oor die kliënt, en dít is die rede hoekom mense aanhou terugkom na ons.

Watter ander ondernemings het jy sedertdien begin?

Binne die iFix-groep het ons nou ook die volgende: Houdt, wat toebehore vir selfone van natuurlike produkte maak; RiCharge, wat selfoonlaaipunte in openbare ruimtes verskaf; en Plus, ’n lidmaatskap-program wat herstelwerk aan selfone en toestelle teen laer pryse bied.

Wat is jou raad vir toekomstige entrepreneurs?

Begin net iets. Staan van die bank af op en doen iets. Jy sal uiteindelik by die regte ding uitkom.

Hoe het jy gevoel toe jy deur Forbes as een van Afrika se jong, opkomende entrepreneurs aangewys is?

Ek was geëerd, maar ’n mens moet nie erkenning in toekennings soek nie.

Hoekom is Apple-produkte wêreldwyd so gewild?

’n Mens kan ’n hele tesis hieroor skryf, maar dis ’n kombinasie van gehalte, die naatlose gebruik van die toestel, status en bemarking.

Gebruik jy nét Apple-produkte?

Nee, ek gebruik verskeie produkte.

Jy het BCom Belegginsbe-stuur gestudeer. Dink jy dis nodig om in dié rigting te studeer om ’n entrepreneur te word?

Nee. Gebruik liewer daardie tyd om te gaan studeer om ’n onderneming te begin.

As jy dan misluk, sal jy baie meer leer as wat jy op universiteit kon leer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.