Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
10 vrae aan Isabeau Botha oor die Afrikaanse taalmonument
Die Afrikaanse taalmonument is vandag 40 jaar oud. Romantha Botha het Isabeau Botha, die bemarkings-en-kommunikasie-bestuurder, uitgevra oor die fees wat Saterdag daar plaasvind.
Isabeau Botha

Hoekom moet mense die fees bywoon?

Die monument is nie meer net ’n standbeeld op Paarlberg nie, en beslis nie net vir Nederlandse toeriste nie. Kom hou piekniek in ons tuin, stap op ons wandelpad of geniet Volksmond se wortelkoek. Doen ’n begeleide toer, leer meer oor “Afrikaans se plek in die wêreld”, en lees gedigte van bekendes in ons tuin.

Beskryf die fees in een sin.

Kultuur, natuur én plesier!

Wie sal die fees geniet?

Oud én jonk – enigeen wat van Afrikaans, die buitelug, of lekker eet en kuier hou.

Wat is die hoogtepunt van die fees?

“Afrikaans se plek in die wêreld” is die eerste permanente uitstalling by die monument. Dan is daar “Groen: Tuin van Digters”, met 12 gedigte van bekendes.

Hoekom die tema “40 jaar oud 40 jaar jonk”?

Die monument raak al hoe gewilder as ’n bestemming – met ’n rekordgetal van meer as 70 000 besoekers oor die afgelope jaar. Boonop is Afrikaans een van die jongste tale ter wêreld (amptelik maar 90 jaar oud).

Hoe het die monument die afgelope 40 jaar verander?

Ons het geweldig uitgebrei, met kundige personeel, en ’n groot diversiteit van aktiwiteite en geriewe, van opvoedkundige programme tot ’n tuinteater. Ons voetspoor het ook vergroot – met 10 000 volgelinge op Facebook, 1 000 Twitter-volgelinge en twee TripAdvisor-toekennings as een van die toptien-bakens in Suid-Afrika.

Wat maak die waardes van die monument relevant?

Sommige kritiseer dit as simbool vir die taal van die onderdrukker, terwyl ander dit toenemend (h)erken as ’n eerlike en trots Suid-Afrikaanse monument. Dit gee ironies genoeg reeds sedert sy ontstaan erkenning aan al die diverse oorspronge van Afrikaans. Dit is dus deesdae ’n hoogs relevante simbool van versoening en nasiebou.

Wat is die vooruitsigte vir die volgende 40 jaar?

Dat Afrikaans so inklusief moontlik in sy volle omvang gerespekteer en gewaardeer kan word. Ons beplan verdere uitbreiding van ons dienste en geriewe, wat die digitalisering van al ons dokumente insluit.

Speel die monument deesdae dieselfde rol as destyds?

Ons wil vandag ’n meer versoenende rol speel. Die voorsitter van ons raad is ’n trotse derdetaal-Afrikaansspreker, ’n verandering wat skerp gekritiseer word, ten spyte daarvan dat alle raadsake in Afrikaans gevoer word.

Heg mense steeds dieselfde waarde aan monumente en hul geskiedenis?

Elke mens bring sy eie waardes, betekenis, kennis en interpretasie. Die uitdaging is vir mense om respek, begrip en waardering vir mekaar se erfenis te kweek. Die rymkletser Hemelbesem sê oor geskiedenis dat ons nie té nostalgies moet raak nie, maar ook nou nie heeltemal amnesie moet kry nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.