Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
10 vrae aan Saartjie Botha oor die Woordfees
Die dramaturg en vanjaar se feesdirekteur van die Universiteit Stellenbosch se Woordfees, Saartjie Botha, gesels met Willemien Brümmer oor dié fees wat gister begin het en hoe sy haar nie te veel verknies oor pap wat klaar op die grond geval het nie.
Saartjie Botha Foto: Jaco Marais

Was dit intimiderend om oor te neem by prof. Dorothea van Zyl, wat sinoniem met die Woordfees was?

Prof. van Zyl is ’n baie unieke figuur binne die kunstelandskap – niemand kan amper naastenby soos sy wees nie. Dit voel (in hierdie stadium!) nie of ek vergelyk kan word met haar nie, en dit gee my die vryheid om my eie ding te kan doen.

Wat maak dié fees vanjaar anders as vorige jare?

Ons bied ’n paar opwindende eerstes aan soos ’n feeskoerant wat ses keer gaan verskyn, middagete-orrelkonserte in die Moederkerk, die Breughel-teater in Cloetesville is vir die eerste keer deel van die fees, en die Van der Stel-sportterrein kry ’n buitelug-verhoog. Ons begin ook ’n kontantlose stelsel by al ons venues waar feesgangers met krediet-, debiet- en feeskaarte kan betaal.

Wat is die een goue reël as dit by feesbestuur kom?

Spanwerk en common sense met genoeg ruimte dat verrassings spontaan kan gebeur.

Hoe kan voorkom word dat die Woordfees ook kommersieel word?

Daar is genoeg daarvan elders, en ook geen rede om te torring aan iets wat werk nie. Om finansieel suksesvol of ten minste volhoubaar te wees – wat ons móét wees – beteken nie ons hoef kommersieel te wees nie.

Wat op die teaterprogram beloof om hoogtepunte te wees?

Die S’se: Siener in die Suburbs, Skuldeiser, Son.Maan.Sterre. en Orgie.

En op die skrywersprogram?

Ek sien baie uit na die Medewete-gesprek met Antjie Krog en Nagmusiek van Stephanus Muller. Ons het ook twee André P. Brink-huldigingsgeleenthede – as afsluiting van die Boeketent op 14 Maart om 16:30, en Sinjatuur saam met die US-Koor.

Wanneer skryf jy weer ’n toneelstuk?

Nie binnekort nie!

Voel dit baie lank gelede toe jy ’n filosofiestudent was wat die restaurant Dada in Stellenbosch bestuur het?

Dit voel soos ’n leeftyd gelede. En ek vergaap my aan die studente, maar ek is baie dankbaar ek is by veertig verby. Dit ontstel my al minder as iemand vir my tannie sê.

In een sin: Wat is jou droom vir die kunste in Afrikaans?

’n Volhoubare, kwaliteitsgedrewe bedryf wat tot ’n groter gehoor spreek.

Hoe kry jy dit reg om altyd te lyk asof jy raakvat?

Dit lyk maar net so! Ek glo jy moet fokus op die balle wat nog in die lug is, en jou nie te veel verknies oor pap wat klaar op die grond geval het nie. Vee op en gaan aan.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.