Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
10 vrae aan dr. Laurie Marker oor bewaring
Die stigter van die Cheetah Conservation Fund (CCF) in Namibië, dr. Laurie Marker, het pas weer twee internasionale pryse ontvang. Sy het met Alet Janse van Rensburg gepraat oor die bewaring van dié groot katte.
dr. Laurie Marker

Waar het jou belangstelling in jagluiperds ontstaan?

Ek het in 1974 by Wildlife Safari se veeartsenykliniek in Oregon in die VSA gaan werk en was dadelik opgetrek met die jagluiperds daar. Ek het gou agtergekom daar is baie min wetenskaplike inligting oor hulle beskikbaar terwyl hul getalle drasties afgeneem het.

Hoekom is jagluiperds bedreig?

Veral ’n gebrek aan habitat en konflik met mense. Ek het in die 1970’s telkens gesien hoe boere jagluiperds in strikke vang omdat hulle gedink het dié diere vang hul vee. Gesonde jagluiperds verkies egter wild.

Wat weet die meeste mense nie van dié diere nie?

Hulle is die enigste groot katspesie wat spin en nie brul nie. Hul oë is só gevorm dat hulle hul prooi van honderde meters ver kan sien. Hoewel hulle uitstekende jagters is, is hulle nie baie aggressief nie.

Voel jy ’n spesiale band met die diere?

Hoe kan jy nie? Ons ambassadeur, die jagluiperdwesie Chewbaaka, was lank my beste jagluiperd-vriend. Ek het hom met die hand grootgemaak, en hy het die jagluiperdspesie by duisende besoekers aan die CCF verteenwoordig. Hy het ook biologiese materiaal verskaf wat ons in staat gestel het om die jagluiperd-genoom te karteer.

Die grootste uitdaging in die bewaring van dié diere?

Ons is ’n organisasie sonder winsbejag en ons grootste uitdaging is om ons werk vol te hou. Om seker te maak jagluiperds word wêreldwyd beskerm, moet ons ook ons werk uitbrei om bewaringstrategieë in ander lande vas te lê.

Wat kan gewone mense doen om te help?

Ons moedig mense wat regtig betrokke wil raak, aan om ons te besoek. Ons het ook internskap- en vrywilligerprogramme. Op ons webtuiste kan jy ’n jagluiperd aanneem en jou donasies só oormerk vir ’n spesifieke dier.

Wat motiveer jou ná al die jare nog?

Ek kan my nie ’n wêreld sonder jagluiperds voorstel nie. Ek wil hê soveel moontlik mense moet die jagluiperds deur my oë sien en hulle waardeer vir die mistieke spesie wat hulle is.

Is daar lewensdoelwitte wat jy nog wil bereik?

Die CCF werk hard om te verseker die jagluiperd sterf nie uit nie. Dit gee ons hoop om te weet jongmense gee om vir wildlewe en sal hulle eendag aansluit by ons pogings om aan jagluiperds ’n permanente plek op aarde te besorg.

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

As ek ’n oomblik kry, en ek probeer meestal in die oggend vroeg, ry ek perd en bring tyd saam met my perd, Shandora, deur.

Wat is vir jou die lekkerste van in die buitelug wees?

Ek is mal daaroor om in die oggend wakker te word, oor my stoep uit te kyk en die wild op die horison te sien beweeg. As dit gebeur, voel alles in my wêreld reg.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.