Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
10 vrae aan Tinarie van Wyk Loots

Tinarie van Wyk Loots. Foto: Lulama Zenzile
Die veelbekroonde Tinarie van Wyk Loots het pas die Kanna vir die beste aktrise gewen, vir haar rol in Hemelruim. Willemien Brümmer het met haar gesels oor pryse, haar geliefde Erik Holm en die rol van haar ma in haar lewe.

Jy het pas weer ’n Kanna gewen. Vir iemand wat so baie pryse wen – beteken dit vir jou nog iets?

Hemelruim is ’n bietjie soos ’n Kersfees-toneelstuk – dit hou net aan met gee. Dis soos ’n feesmaal om daarin te kan speel. Dis ’n geskenk om saam met sulke wonderlike mense te werk soos Paul (du Toit), wat so gereed is om saam met my te speel en die oop vlak van die verhoog aan te durf; Nico (Scheepers), wat soveel visie het en ons so geweldig baie vryheid toelaat; en Stefan (Benade), wat ons almal op stuur hou, sorg dat al Nico se drome waar word en dat ons so mooi belig is. En dit is werklik ’n beloning om ’n storie (so na aan my eie) met mense te kan deel en dat dit hulle raak.

Watter van jou onlangse rolle het die meeste (fisiek en emosioneel) van jou vereis?

Die kombinasie van die verskillende toneelstukke wat op die feeste gespeel het, was nogal ’n veeleisende affêre – partymaal is stilsit net so uitdagend soos in en uit ’n sak klim, danspassies doen of op ’n bed rondrol. Elke stuk waarmee ’n mens doenig is, voel op daardie oomblik soos die uitdagendste. Ek vermoed dis omdat ’n mens net in daardie oomblik probeer wees en elke stuk ewe veel fokus en inspanning kos om 100% teenwoordig en eerlik te probeer wees. Maar as ek iets móés uitsonder, sou ek sê Orgie (saam met Stian Bam en onder leiding van Juanita Swanepoel) en Son. Maan. Sterre. Orgie was, wel . . . ’n orgie. Baie woorde uit die mond van ’n baie komplekse karakter, en met Son. Maan. Sterre. geniet ’n mens nooit die veiligheid om met jou medekarakters op die verhoog te kan speel nie. Soos die individue in die stuk is die akteurs ook geïsoleer en aan hulself uitgelewer.

In Plant vir my ’n boom, André het jy teenoor jou geliefde, Erik Holm, opgetree. Is dit moeilik om te speel teenoor iemand wat jy so goed ken?

’n Mens sou dink die uitdagings is legio, maar dit was tot dusver net ’n absolute wonder. Wat ’n voorreg om na iemand te kan kyk vir wie jy so lief is terwyl jy speel – veral om woorde van bekroonde digters en skrywers vir mekaar te kan opsê. ’n Mens voel dan net ook asof jy twee harte het wat klop op die verhoog. Ek dink ons probeer so ingestel wees op mekaar dat die oomblik as een aarsel of huiwer, die ander se hart omtrent oombliklik gaan staan.

Jy het onlangs in twee produksies die rol van Ingrid Jonker vertolk. Het dit nie begin voel of Ingrid jou lewe oorneem nie?

Ek dink Ingrid Jonker is ’n figuur wat by ’n mens spook. Op universiteit het ek my absoluut vervraat aan haar poësie en ek het haar en die Sestigers boeiend gevind. Dit was wonderlik om die verwoording van die geskiedenis in die twee verskillende stukke aan te voel. Alhoewel André en Ingrid effe verskans word as HY en SY in Orgie, is dit tog ooglopend hul woorde en verhaal, en dit is hartstogtelik, emosioneel en destruktief. Daarenteen bied Plant vir my ’n boom, André die aspek van hul liefdesverhouding waarmee ons ons kan vereenselwig: ’n terugblik en herkenning wat omgaan met ’n sagtheid wat ’n mens diep raak.

Is jy ooit spyt dat jy nie langer in Amerika gewerk het nie?

Ek was op daardie oomblik bitter spyt – maar in retrospek nie vir ’n oomblik nie. Ek kan my nie meer die bestaan wat ek nou geniet, op enige ander plek indink nie. Dinge was net soos dit moes wees: Ek het ou paaie herontdek, kon tyd saam met my ma spandeer, kan werk in my moedertaal en het die liefde van my lewe ontdek.

Hoe kry jy dit reg om so ’n druk program vol te hou – veral tydens feeste?

Met ontsettend baie ondersteuning van die kantlyn af – veral van Erik. En met behulp van die wonderlike akteurs en tegnici deur wie ek by die werk omring word. Met geweldig baie dankbaarheid. Soveel slaap as moontlik, vitamiene en ’n stoomtoestelletjie waarsonder ek nêrens gaan nie.

Jy het ’n skitterjaar gehad wat pryse en uitdagende rolle betref. Is jy ooit bang jy kan nie dié momentum volhou nie?

Ek vermoed ’n mens behoort nie die momentum te kán volhou nie – alles kom en gaan. Solank die brander breek, sal ek saamry, en dit is geweldig opwindend. Maar dit moet ook eindelik bo by die strand draai, terugtrek en dan weer wag en rus voor ’n volgende gety.

Is dit waar dat jou ma as mentor ’n belangrike rol in jou lewe gespeel het?

Ek dink elke dag aan my ma. Sy het my laat glo dat ek enigiets kan doen. Sy het my in myself laat glo; dat mislukkings net ’n padverlegging is, boustene vir beter uitkomste; dat positiwiteit en entoesiasme jou reeds ’n grondslag gee om mee te begin; en dat liefde die wêreld ’n beter plek maak. Dit breek my hart, want dit is iets wat elke kind in die wêreld behoort te hê. Ek dra alles wat ek doen op aan my ma. Sy was my heel grootste ondersteuner.

Wat het die pad wat jy saam met jou ma geloop het in haar stryd teen kanker jou geleer?

Lewe in en vir die oomblik, soveel jy kan. Klein dingetjies soos tee drink of in jou tuin sit, is dikwels belangriker as enigiets anders. Lewe met oorgawe, ongeag wat jy doen, eien jou foute en probeer om nie te klou aan berou nie. Wees lief vir mense – moet dit nie wegsteek nie.

As jy jou huis in Riebeek-Kasteel in vier sinne moes beskryf, wat sou jy sê?

Ek kan probeer om dit in vier woorde te beskryf: Kleurvol. Besig. Eiesinnig. Herbewin.

Meer oor:  Willemien Brümmer  |  Toneelspel  |  Aktrise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.